Die Afrikaanse Taalraad en die pejoratief “isiBhulu”

  • 8

 

  • Geen taal kan direk met ’n ideologie, teologie of leefstyl verbind word nie. Afrikaans tydens kolonialisme en apartheid, Duits onder Hitler en die Arabies van Al Khaeda is sprekende voorbeelde hiervan. Die skade wat egter deur magslustiges in hierdie tale aangerig is/word, is skade wat deur die res van die taalgemeenskap hanteer moet word, indien hulle die taal se beeld wil verbeter.
  • Indien die magshebbers in ’n taalgroep egter misbruik maak van die medium en dit probeer verhef tot uitdrukking van hul mag, verwerf die taal die negatiewe konnotasies wat met die magsgroep en hul negatiewe aksies gepaard gaan. In die geval van Afrikaans, het hierdie negatiewe beeld op die plase ontwikkel, waar Khoisan en slawe aan die grondeienaar se stelsel en waardes onderworpe was. Die boer is “Baas” genoem, en die “Baas” se taal, wat ironies genoeg by die slawe en Khoisan ontstaan het, omdat  hul hul eie tale moes prysgee, het sodoende bekend geword as “die Boer se taal”. Die meeste plaasboere was Afrikaanssprekend, het gebruik gemaak van Khoisan-, slawe- en later Nguni- en Sotho-arbeid, maar steeds was sý wil wet, sý taal was die werkstaal en sý taal sou dan verder verstewig word as “die Boer se taal”. Soos die besitlike naamwoord aandui, het Afrikaans ook ’n patriargale status verwerf, sodat daar tot vandag toe geen meningsverskil oor die geslag van ’n “Boer” is nie.
  • Onder apartheid is hierdie taalsuperioriteit gelegitimiseer en gewettig. Afrikaans is verhef bo al die ander tale en werkers wat goed Afrikaans kon praat, is in bevoorregte posisies aangestel. Skole is gebruik as instellings waar leerders verplig kon word om Afrikaans te leer en hierdie afdwing van ’n taal, teen alle rede in, het daartoe gelei dat Afrikaans met al hoe meer wrewel bejeën en gehaat is. In 1976 was Afrikaans steeds bekend as “die Boer se taal”.
  • Tussen 1976 en 1990 is min gedoen om van hierdie afkeer versus Afrikaans ontslae te raak. Op die Kaapse Vlakte het baie Afrikaanssprekende ouers hul kinders in Engels opgevoed, spesifiek oor die negatiewe konnotasie wat aan “die Boer se taal” verbonde was. Etniese diskriminasie het taaldiskriminasie versterk en hierdie “verstewiging” was eintlik maar die verswakking van die taal se legitimiteit en status in die breër gemeenskap. Die Afrikaanse gemeenskap is sosio-ekonomies (polities) in twee verdeel en hierdie breuk is tot vandag toe nog nie herstel nie.
  • Die nie-rassigheid van ’n taal is ononderhandelbaar. Omdat Solidariteit en Afriforum baie duidelik-omlynde politieke oogmerke het, gebaseer op hul voorafgedefinieerde teikenmark en geldelike steunbasis, vlug nie-rassigheid by die deur uit en ly Afrikaans nog verder onder die verdeeldheid wat ons taalpolitiek al vir eeue kenmerk.
  • Omdat “isiBhulu” reeds deur die isiXhosa Leksikografiese Eenheid as rassisties gelys is, soos aangedui in die Greater isiXhosa Dictionary, sal dit nie help om hierdie term onder die mat in te probeer vee nie. Rassisme is ongrondwetlik en niemand, selfs nie eens die ATR, kan bekostig om hul bedekte seën aan ongrondwetlikheid te verleen nie. Dit is juis die “nie-rassige” ANC en die amptelike opposisie, die DA, wat moet verduidelik hoekom verwys die nasionale en provinsiale regerings (op ongrondwetlike wyse) nog in hul amptelike dokumente na Afrikaans as “die taal van die Boer”.
  • Indien die ATR glo dat Afrikaans erkenning as ’n Afrika-taal verdien, sal hulle moet toesien dat Afrikaans op die hoogste vlak ( = amptelik) gesuiwer word van die pejoratief “die taal van die Boer”, waar “Boer” by die oorgrote meerderheid landsburgers die beeld oproep van  “apartheidsonderdrukker” en “implementeerder van onregverdige diskriminasie”. Net soos in gewone politiek, vereis taalpolitiek ook dat die wense en begeertes van die meerderheid in ag geneem moet word.

Kobus Faasen

  • 8

Kommentaar

  • Kobus Faasen

    Bly om te sien jy skryf weer in sinvolle goeie Afrikaanse prosa.  Die rymtaal lees ek nie meer nie, dit skommel my brein te veel. 

    Die inhoud van jou brief hierbo, kan ek oor die algemeen nie fouteer nie.

    Net 'n paar vrae (indien jy hulle wil beantwoord), waar my indrukke hier en daar met joune verskil, net vir helderheid.

    1.   Ek het die algemene indruk dat die ATR nie-rassig is, met 'n bruin, of gewese bruin CEO.  Waar is jou bewys dan dat hulle die siening huldig dat Afrikaans die "Taal van die Boer" is. 

    2.  Jy skryf: "Omdat Solidariteit en Afriforum baie duidelik-omlynde politieke oogmerke het, gebaseer op hul voorafgedefinieerde teikenmark en geldelike steunbasis, vlug nie-rassigheid by die deur uit en ly Afrikaans nog verder onder die verdeeldheid wat ons taalpolitiek al vir eeue kenmerk." 

    Gee voorbeelde van hierdie  "duidelik-omlynde politieke oogmerke" wat jy as rassisties beskou.  Die hoof van Solidariteit is ook die hoof van die Afrikaner Netwerk, wat strukture soos die ATKV; Handelsinstituut en sy affiliale sakekamers; ens insluit, en behalwe vir die Voortrekkermonument Trustees, is al die ander lede veelrassig, met vooraanstaande bruinmense aan die stuur van vele.

    Behalwe vir die gekkegrens blanke Afrikaners ('n minderheid onder ons), het ek die duidelike indruk dat die oorgrote meerderheid blanke Afrikaners lankal verby kleur politiek en blanke-Afrikaner-baasskap beweeg het.

    'n Ander indruk wat ek ook het, is dat die meeste bruinmense wat hier op LitNet skryf, jy oa., nie van blanke Afrikaners hou nie, en leef uitsluitlik in die verlede, en teer op die ongeregtighede van die verlede, met geen voorstelle of enige lus vir samewerking vir die toekoms nie.

    Wel 'n voorstel dan.  Soos ons blanke Afrikaner-gekkegrens nie met ander rasse wil saamlewe en hul heil apart wil soek, moet die bruinmense wat soortgelyk teenoor blankes voel, dieselfde doen.  Dan het ons apartheid van vooraf onder hulle.  My algemene indruk is dat hierdie weersin teenoor blanke Afrikaners nie wye steun onder die bruin mense te vinde is nie.

    Jaco Fourie

  • "Omdat Solidariteit en Afriforum baie duidelik-omlynde politieke oogmerke het, gebaseer op hul voorafgedefinieerde teikenmark en geldelike steunbasis, vlug nie-rassigheid by die deur uit.."

    Nee dis eintlik die feite en logika wat met bostaande absurditeit hul wyk geneem het.

    Solidariteit tree tans op vir BRUIN werknemers van die Departement Korrektiewe Dienste in die Weskaap.

    En helaas, met sulke en ander veralgemenings en feitefoute, is hierdie brief nie die moeite werd om hoegenaamd ernstig op te neem nie - dis duidelik maar blote anti-Afrikanerpropaganda en kan maar gerus afgelag word as synde volkome irrelevant.

  • "umBhulu" beteken nie "plaasboer" of "Afrikaner-Boer" nie, dit beteken "apartheidsonderdrukker". Met "isiBhulu' word dus verwys na "die taal van die onderdrukker". Afrikaans sal nooit as Afrika-taal erken word voordat sy uit die stereotipe-steppieng van "onderdrukkerstaal" uitgeklim het nie.

    Die mense van Atlantis en die mense van Orania praat een en ennie symste taal, die taal wat ook gekoester word deur Nelson Mandela en Aartsbiskop Desmond Tutu. Die meerderheid Afrikaanses was nooit, is nie en sal nooit "Boere" wees nie. 

    Indien die ATR hul alliansie met Afriforum en Solidariteit wil voortsit, moet hulle dit duidelik stel dat hulle hierdie organisasies se oogmerke ondersteun, of hulle van die donateurslys skrap en die geld skelmpies ontvang.  

    Kobus Faasen  

  • Kobus

    Jy het my vrae geensins beantwoord nie, nl dat jy sê die ATR gee voor dat Afrikaans 'n "Boertaal" is, en dat  Solidariteit ''n rassistiese agenda het wat vir jou duidelik en vir my heel onduidelik is.  Ek soek bewyse.

    Jy skryf:  "Indien die ATR hul alliansie met Afriforum en Solidariteit wil voortsit, moet hulle dit duidelik stel dat hulle hierdie organisasies se oogmerke ondersteun".

    Ek weet van geen ander oogmerke buite hulle onderskeie bestaansfunksies, (alternatief, wys jy vir ons uit)  as die bevordering van die Afrikaanse Taal en in die geval van AfriForum as burgerregte-organisasie, om te sorg dat die regering die konstitusie van die land handhaaf, en optree waar die regering nalaat om sy versuimde pligte na te kom.

    En wie het ooit voorgegee dat "Afrikaanses" ooit as "Boere" beskou was soos jy hierbo beswaar maak?

    En werklik.  Diegene wat met die ATR beswaar het, is dit hulle konstitisionele reg om aparte en / of parallelle organisasies te stig.  Maar totdat die teendeel uitgewys word, kan die vinger van rassisme geensins teenoor die Afrikaner Netwerk-lede uitgesteek word nie.

    Jaco Fourie

  • Broer Fourie, die volgende ATR-verklaring het in Beeld verskyn: "In berigte wat die afgelope tyd oor die Afrikaner Burgerlike Netwerk (ABN) verskyn het, is herhaaldelik en verkeerd vermeld dat die Afrikaanse Taalraad (ATR) ‘n lid van die netwerk is. In die mediaverklaring wat oor die ABN se Afrikaner-scenario’s uitgereik is, is korrek vermeld dat die ATR waarnemerstatus by die ABN het. Dit is nie so in die berigte weergegee nie. Die ATR verklaar sy belang by die ABN in soverre as wat dit gaan om die bevordering van die belange van Afrikaans vir álmal wat dit praat. Die ATR is nie betrokke by die ontwikkeling van die scenario’s nie."

    Wat presies hierdie broers by hul regse broers wil waarneem, weet net nugter. Die ATR soek geld by tuislandfilosowe, terwyl sy (sic) taal reeds deur die ANC as "die Boer s'n" beskryf word. Dis 'n verleentheid dat 'n mens se moedertaalstatus deur sulke onbeholpenes onderdruk word. Hulle alliansie-vennoot, Flip Buys, word deur "Boere" as neo-liberaal uitgekryt. Aysh.

    Kobus Faasen

  • Ek weet nie of hierdie reeds deur is nie.  Verskoon indien dit gedupliseer is.

    Beste Kobus

    Dankie vir jou vinnige respons, asook die aanhaling wat jy vanuit Beeld weergee het.  Jou aanhaling noem nie dat die ATR Afrikaans as die “Taal van die Boer” beskou word nie, maar werk wel vir: “die bevordering van die belange van Afrikaans vir ALMAL wat dit praat.”  En dit is presies hoe ek die ATR sien en verstaan soos ek reeds hierbo genoem het.

    Mbt Flip. Lees die volgende, en sê vir my waar jy die rassis in die man sien:

    "The Solidarity SG argues that minorities never benefit from racial conflict and polarization   But then our members' own hands need to be clean, and nobody should be able to point a finger at us. Therefore, we should not react in a racist way to the racism perpetrated by the Malema's of this world. Yes, we must take decisive action against hate speech, incitement and talk of violence, as we have already done, but we must maintain the moral high ground. If we complain about racism, we must also fight against the white racism that has been flaring up again of late.  

    It is unacceptable for people to stir up racism through SMSs, Facebook, the internet, e-mail and conversations with family and friends. Our members must not show sympathy for white racists. Minorities never benefit from racial conflict and polarisation. We must also not show sympathy for white racist, because it could backfire in the form of violence towards our spouses, children and parents.

    Minorities have never benefited from racial conflict and polarisation, especially not where the majority almost has a monopoly of the sources of power. 

    Good race relations cost nothing, and are essential for the safety and peaceful existence of everyone in this country"  

    Politics Web 2 July 13.  

    Jaco Fourie

  • Christo van der Rheede

    "Die hoof van Solidariteit is ook die hoof van die Afrikaner Netwerk, wat strukture soos die ATKV; Handelsinstituut en sy affiliale sakekamers; ens insluit" Net 'n regstelling: Beide die ATKV en die AHi is onafhanklike lede-organisasies en is nie lid van die Afikaner Netwerk of van die FAK nie.

     

    Christo vd Rheede

    AHi

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top