Die Afrikaanse skryfgids

  • 5

Titel: Die Afrikaanse skryfgids
Samestellers:
Riana Scheepers en Leti Kleyn
Uitgewer:
Penguin
ISBN:
9780143530152

 

Klik hier om Die Afrikaanse skryfgids te koop by Kalahari.com.

 

 

 

 

 

Resensie 1: Vir alle aspirantskrywers
Die Afrikaanse skryfgids, een van die dikste boeke wat ek vanjaar gelees het, verdien ’n baie kort resensie – en nie omdat dit swak is nie!

Koop dit.

Vóór ek nog mý kopie bekom het, was daar al aspirantskrywers wat my vertel het hoe goed die boek is. Ek het dit intussen gelees en ek beveel dit nou aan vir enige persoon wat in skryf belangstel.

Dus: Koop dit.

Ek is betrokke by die ontwikkeling van skryftalent. My “studente” wat hierdie boek al gekoop het, is positief daaroor. Dit werk dus.

Koop dit as jy graag wil skryf.

Resensie 2: Vir almal wat dink dat hulle nie “aspirantskrywers” is nie
My tweede resensie sê dalk ewe veel oor die resepsie van tekste as wat dit oor die teks self gaan. Op bladsy 29 staan: “Die fotograaf se skaduwee mag dus nie in die foto wys nie.” Dit word as metafoor gebruik vir “hou die skrywer se stem uit te teks”. Een van Alf Kumalo se bekendste foto’s is dié van ’n polisiehond wat vroue aanval. Dit is met ’n wye hoek geskiet en Alf se skaduwee is ’n stille getuie van sy bereidheid om naby die aksie te wees wanneer die geleentheid daarom vra. Ek wil my nie met Alf vergelyk nie – dit sou voorbarig wees; maar om myself uit hierdie resensie te weer, is onmoontlik, vrees ek.

’n Baie nuttige werk
Ek is eintlik verstom hoeveel ek van die boek hou – want ek was regtig lugtig vir net nog ’n “how to”. Talle selfhelpboeke is só oppervlakkig dat hulle lagwekkend word. Ek het ’n ewige renons in daardie “tien stappe na seksuele sukses” of “vyf maniere om ’n miljoenêr te word”. Gelukkig is dit presies wat Die Afrikaanse skryfgids nie is nie. Hier is geen kortpaaie of belaglike gemeenplase wat sukses belowe om daardie eerste groot topverkoper te skryf nie. Inteendeel: een van die deurlopende temas is “lees ander skrywers”. Die meeste aspirantskrywers dink mos hulle hoef nie te lees nie. Bisar, ja. Dis soos ’n ou wat besluit hy gaan gou die Comrades hardloop. Natuurlik is daar genetiese wonderwerke wat die Comrades kan hardloop sonder om te oefen, of blitsverkopers kan skryf sonder om te lees, maar hulle is die uitsondering.

Vir wie sou hierdie teks dan van nut wees, behalwe nou vir die aspirantskrywer? Ek wil voorstel dat die volgende mense hierby sal baat vind:

  • enige dosent en student wat iets met genrestudies te doen het
  • enige redakteur en uitgewer, met die moontlike uitsondering van mense wat uitsluitlik met skool- of akademiese tekste werk.

Kenners wat oor hulle domein skryf
Die veelheid stemme wat opgeneem is in hierdie teks, maak dat dit werk. Ons het nié die dreuning van ’n “wyse man” nie. Ons het ’n veelheid van stemme wat met mekaar in gesprek tree. Oor die kinderboek  het beide Philip de Vos en Jaco Jacobs byvoorbeeld geskryf, terwyl Piet Grobler én Marjorie van Heerden elkeen ’n artikel gelewer het oor hoe om vir kinderboeke te teken.
Oor die poësie lewer beide Hans du Plessis en Louis Esterhuizen inleidende bydraes, terwyl Gilbert Gibson, Marthinus Beukes, Bernard Odendaal en Leti Kleyn verdere toeligting bied. Dan kom Andries Bezuidenhout met sy bydrae oor lirieke, en Henning Pieterse gesels oor die vertaling van poësie.

Die stuk oor drama is ewe omvattend: die verhoogdrama, die kunstefees, die radio- en die TV-drama (apart); ook sepies, filmdraaiboeke en dokumentêre programme word gedek.

’n Mens sou ’n oomblik kon stilstaan by Marike Bekker se stuk, “Dokumentêre televisieprogramme”. Sy verduidelik waarom komete nie goeie stof is om jou loopbaan mee te probeer loods nie (hulle verfilm nie goed nie) en waarsku ook dat niémand belangstel in die vetinhoud van kitskos nie. Wel, totdat Morgan Spurlock met Super Size Me die teendeel bewys het. Dít vind ek so verfrissend – die reëls word neergelê, maar ook bewustelik ondergrawe.

Ek gaan nie elke genre op dié manier bespreek nie – tel liewer die boek op en lees die inhoudsopgawe. Die punt is dat die samestellers kenners gebruik het om amper alle moontlike aspekte van die skryfproses te dek. Johan Bakkes verduidelik selfs hoe om jou belastingvorm in te vul – al sê hy ook dis beter om maar te gaan aanklop by ’n kenner.
Ten einde laas wil ek Daniël du Plessis se stuk oor “Stripkuns” noem. Dit is iets waarin werklik belangstel, maar nie veel van weet nie – iets, dus, waarna ek moontlik as “aspirantskrywer” sou kon kyk. Sou dit my help? Ja. Weer eens sou ek die boodskap tien teen een kon kry uit die herhaalde lees van ander se strokies, maar dit is die manier waarop die stuk aangebied is wat ek waardeer.

Nuttig?
Jare gelede, toe ek nog hare gehad het, neem my filosofiedosent my eendag eenkant toe en sê: “Izak, jy moet eers die reëls leer ken voor jy hulle oortree. Gaan kyk na Picasso se tekeninge wat hy as jong man gemaak het.”

Dit was James Moulder wat hierdie wyse woorde aan my oorgedra het. Ek het ek gaan lees oor Picasso en was verstom om te sien dat hy fotorealisties kon teken. Hierdie brokkie wysheid deel ek deesdae gereeld uit aan aspirantskrywers. Ja, jy kan pratende sampioene op LSD sit en hulle laat kopuleer met aspersies wat uit die buitenste ruimte kom, maar jou verhaal moet steeds werk ...

Vandat ek Die Afrikaanse skryfgids ontdek het, word my taak makliker. Dis nou nie net meer Izak wat waarsku teen kopulerende aspersies nie; ek het nou ’n kenner wat ek kan aanhaal. “Lees eers weer Leon van Nierop se stuk oor wetenskapfiksie (bladsy 94) en dán praat ons weer oor hierdie spulletjie,” kan ek nou vir die oorgretige skrywer sê.
Ook oor die dialoog tussen hormoonbesete aspersies en hulle sampioenvriende het ek ’n oplossing gevind. “Lees wat Chanette Paul op bladsy 49 sê oor die dialoog,” gaan van nou af my standaardopdrag wees wanneer ek met skrywers werk.

Riana Scheepers en Leti Kleyn het dit nou vir my moontlik gemaak om nie meer ’n “ghoeroe” te hoef te wees nie. Ek kan nou sê: “Lees eers wat hierdie ghoeroe sê, dan praat ons weer.”

Kritiek?
Ek sal jok as ek sou beweer ek het met alles saamgestem. Teen dié tyd het ek egter reeds my waardering uitgespreek, dus sal dit wat hier volg, hopelik gesien word as deel van ’n gesprek en nié as ’n poging om mense af te raai om die teks te koop nie. Juis nié.

Een van die nuttigste stukkies inligting oor die skryfproses kom van Chanette Paul wanneer sy skryf oor “Stylelemente in die prosa”. Dit is werklik knap en bevat tálle goedjies wat ek alte graag aan mense gee om te gaan lees. (Ek het reeds genoem dat ek al bladsy 49 uit my kop onthou, ek gebruik dit so baie.) Tog is dit ook juis die een stuk van die boek waar ek dikwels ’n vraagteken moes plaas. Op bladsy 19 waarsku sy byvoorbeeld teen die gebruik van “cliff hangers”. Op dieselfde bladsy beweer sy dat die skrywer nie inligting van ’n leser mag weerhou nie ... Wel. Talle goeie skrywers, veral rillerskrywers, gebruik albei hierdie tegnieke gereeld in hulle werk. Dit laat júis die leser lees en lees en lees ...

Sy waarsku ook teen ’n gereelde perspektiefverskuiwing (sien byvoorbeeld bladsy 32). Nou ja. Lees weer Die reise van Isobelle deur Elsa Joubert en let op hoe vernuftig Joubert spring van een perspektiefverskaffer na ’n ander.

Ek vermoed egter dat James Moulder se storie oor Picasso hier ook sou werk – leer eers die reëls ken, dan oortree jy hulle.

’n Mens sou ook kon noem dat André P Brink dikwels die soort verteller gebruik waarteen Paul haar lesers op bladsy 30 waarsku. Philida, Brink se jongste, is ’n puik voorbeeld van alles wat “verkeerd” is in Paul se oë. Dalk maak dít juis Paul se waarskuwings geldig. Ons is nié almal Brink nie, dus kan ons nie almal só skryf en steeds hoop om te verkoop nie.

Lees egter die Nederlandstalige jeugboeke, soos Anne Provoost se Die arkvaarders en Jonkvrou deur Jean-Claude van Rijckeghem en Pat van Beirs. Hulle oortree ook Paul se reëls. Albei is deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal en deur Protea uitgegee.

Die sterk ouktoriële stem word ook gehoor in Sam, ’n ware verhaal van ’n dogtertjie en haar olifant deur Ingrid Vander Veken. Antjie Krog het dit in Afrikaans vertaal en Lapa het dit uitgegee. Dit is ’n kinderboek.

Dit wil dus voorkom of Nederlandstalige lesers makliker lees aan hierdie “moeilike” vertellers.

Moenie ’n fout maak nie. Ek stem volmondig saam met die meeste goed wat Paul sê. Haar perspektief is egter (opsetlik) nou en is redelik sterk gerig op romantiese ontspanningsfiksie (wat sy later in meer besonderhede bespreek). Ek sou egter, wanneer ek hierdie stukke in ’n klas of ’n werkswinkel sou bespreek, die goeie studente aanmoedig om Paul se stellings krities te lees. Dit kan ’n wonderlike bespreking afgee.

Ek het nog één klippie gevind wat ek wel uit my skoen wil skud: dat die samestellers in die 21ste eeu ’n boek soos hierdie publiseer en dan “deurgaans by die tradisionele manlike aanspreekvorm” hou (bladsy viii), is nogal vreemd. Ons moet juis ons opkomende skrywers leer hoe om lompheid te vermy én inklusief te werk.

Ter opsomming
Ek het nou eers weer na Hennie Aucamp se bespreking van die resensie gaan kyk. Sommer net. En het toe vasgeval en weer met genot gesit en lees aan ’n meester wat oor skryfwerk skryf.

Ek sou nog mense kon noem. Die probleem is, ek vrees ek gaan my leser begin verveel as ek veel langer aanhou – en daar is sóveel goeie mense wat meegewerk het ...

Ek gaan hierdie teks beslis nog baie lees en baie ander aanmoedig om dit ook te lees. Moenie skepties soos ek wees nie. Dit is van ons land se beste skrywers wat hier meegewerk het om ’n pittige, leesbare en uiters leersame teks daar te stel. Die Afrikaanse skryfgids gaan van nou af langs TT Cloete se Literêre terme en teorieë op my noodboekrak, digby die lessenaar, staan.

Vir die nie-aspirantskrywer kan ek ook maar sê: Koop dit.

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Coenraad Walters

    ’n Sterk en oortuigende resensie - ek moet nou net tyd vind om die boek self deur te werk!

    Maar ’n verwante pleidooi: Kan iemand asseblief Cloete se Literêre terme en teorieë opdateer en weer uitgee? Daar is glad nie so iets in Afrikaans beskikbaar op die oomblik nie en dit is ’n enorme leemte!

  • Avatar
    Helene de Kock

    Izak, ek  is net so in my skik met  Die Afrikaanse skryfgids. Dit spreek die kollektiewe skrywersgemoed aan. Dit is ‘n kosbare boek en lankal broodnodig. Ek wens net ook dat ‘n uitgewer T.T. Cloete se Literêre terme en teorieë weer wil uitgee.  Studente maak wel ruimskoots gebruik daarvan – en met reg ook – maar dit is nou ‘n ou bron. As dit bygewerk en weer uitgegee word, sal dit bepaald ‘n groot aanwins, veral vir nagraadse studente,  wees.

  • Avatar
    Annika Mouton

    As nagraadse student in Afrikaans stem ek saam met Coenraad se pleidooi, ek wens al vir my eie Literêre terme en teorieë sedert my eerste jaar! 'n Opdatering sal natuurlik soveel meer werd wees! 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top