Die Afrikaanse poësie se nuutste rockster verskyn met sterk debuut

  • 0

Titel: Staan in die algemeen nader aan vensters
Outeur: Loftus Marais
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624047254
Publikasiedatum: November 2008
Bladsye: 80

Klik hier om Staan in die algemeen nader aan vensters nou van kalahari.net te bestel!

Loftus Marais se debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters, oorrompel die leser met sy verskeidenheid en beweeglikheid. Daar is dus vir die leser verskillende ingange tot die bundel moontlik. ‘n Mens sou kon wys op die beweging tussen die ruimtes van die stad, die universiteit, die suburbs en die platteland in hierdie gedigte. Daar sou ook gedemonstreer kon word hoedat daar van die een stemtoon na die ander gemoduleer word, vanaf die besinnende na die deernisvolle en die wrang humoristiese. Daar sou ook getoon kon word dat hy met vaardigheid ’n verskeidenheid digvorme gebruik waarvan die hegte vrye vers, die villanelle en aubade (oggendgedig) voorbeelde is. By hierdie lesing van die bundel wil ek egter ’n paar ander spore deur die bundel volg: die belangrikheid van die bundeltitel, die interaksie met ander digters, die skalkse anargisme van sommige gedigte en die aansluiting by die werk van gay skrywers in Afrikaans.

Volg ’n mens die spoor van die bundel se effens ongewone titel (mooi opgevang in Michiel Botha se ontwerp van die bundel), blyk dit gou ’n belangrike gegewe te wees. Vensters, rame en selfs ‘n ramer kom in hierdie gedigte ter sprake, omdat dit verband hou met dit wat binne die digter se visie geraam word en dit waarop hy verkies om te fokus. In “Op soek” tipeer die digter homself as ’n perverse voyeur en loerhoer wat op soek is na ’n gedig. Hy vra dus die leser om vir hom stof vir sy skryfwerk te verskaf: “staan in die algemeen nader aan vensters/ trek die gordyne effe terug/ o sloer voor kiere vir ’n wyle!” Ná die skryf van die gedig is dit die leser se beurt om voyeur te wees by dit wat die digter gedoen het. Dit is nie ongewoon dat digters skryf oor die wedersydse verhouding tussen digter en leser nie, maar Marais doen dit met ’n ligte speelsheid wat toon dat erns nie swaar hoef te wees nie. Presies hóé dit dan gebeur dat iemand wat by ’n venster staan, die stof vir ’n gedig kan word, blyk ’n paar bladsye later in “Nagfilm”, wat handel oor ’n vrou wat voor ’n venster staan en stryk. Verder word die praktyk van gedig-maak vergelyk met die wyse waarop ’n venster ’n landskap raam, soos in “Landskap met duimafdruk” en “Halfagt”.

Die staan-voor-‘n-venster kom ook ter sprake in die gedig “Lightening ? Lightning? safety tips - what you should know”. Die gedig verwys na die nou reeds gestorwe pa se waarskuwing dat sy familie moet wegstaan van vensters wanneer daar weerlig is en die digter se gewoonte om as kind tóg voor die venster te gaan staan. As volwassene staan hy nog steeds bangerig voor sulke vensters en die enigste verklaring wat hy daarvoor kan gee, is: “ek dink ek staan daar/ uit verlang/ uit doodgewoon soek vir straf”. Hierdie slotstrofe spreek boekdele oor die komplekse verhouding met die pa en met vaderlike gesag. Wanneer die gedig terugskouend betrek word by die een waarin die leser juis versoek word om nader te staan aan vensters, word die proses van gedig-maak by implikasie gelyk gestel aan ’n soeke na gevaar, na die uitdaag van (vaderlike) gesag en ’n haas dekadente behoefte aan die pyn van bestraffing.

Marais se interaksie met die werk van ander digters is een van die hoogtepunte in die bundel. Alhoewel dit duidelik is dat hy bewus is van die digterlike wêreld wat buite Afrikaans lê, met verwysings na Seamus Heaney en ander, is dit veral sy reaksie op die reuse van die Afrikaanse poësie wat wys dat hy ’n nuwe soort digter wil wees. In “Die digter as rockstar” betrek hy die spanning tussen hoë en populêre kuns wanneer hy homself verbeel as digter wat sportstadions kan volmaak, vir wie die paparazzi agtervolg en wie se koeplette deur skares geskreeu word. Die hoogtepunt van dié gedig, wat vol is van die aggressiewe ritmes en beelde van rockmusiek, is ’n uitdagende antwoord op Van Wyk Louw: “ek het nie ’n beiteltjie nie/ ek het ’n fokken lugdrukboor”. In “’n Pleidooi vir vinniger kuns” vra hy weer om ’n meer spontane, woedende en onmiddellike digkuns wat sal afwyk van die versigtig-gekonstrueerde voorbeelde wat ons so goed ken in Afrikaans. Daar word begin met die uitspraak dat ’n gedig “dringend” moet kom “soos diarree” en gesluit met ’n antwoord aan Opperman: “vat jou bottelskippie/ maak dit vol/ met petrol/ stop ’n doek in die nek/ vat ’n vuurhoutjie en trek”. Op sy beurt eindig die gedig “Platteland-fantasie” se poging om weg te kom van verliteratuurdheid met die uitspraak: “fok breyten, vanaand lees ons die sterre soos braille”.

Hierdie poging om te ontsnap van literatuur en uit te kom by die ding-self, die ding-as-gedig en uiteindelik by die gedig-as-ding word mooi verwoord in “Karoo-vergelykings” waarin hy besef dat die Karoo-landskap jou dwing om afstand te doen van digterlike truuks: “wag: jy sal begin om elke ding/ met net homself te vergelyk”. Die uitbeelding van Kaapstad as “’n prossie-transvestiet” met die berg as breë manlike skouers in “Ook aan die Kaap geskrywe” reageer weer op Wilma Stockenström en Antjie Krog se se voorstellings van Kaapstad en Tafelberg.

’n Ander opwindende element van die bundel is die skalkse wyse waarop Marais in sommige gedigte gewigtige filosofiese vraagstukke en gevestigde opvattings aanspreek. In die gedig “Siel” stel hy hom die siel voor as “‘n soort peignoir” waarin hy kan rondstap soos ’n jong Gloria Swanson en wat hy kan drapeer oor die knop van ‘n deur “waaragter ek wie weet watse sondes bedryf/ sonder siel en giggelend/ die ene lyf”. Hierdie voorstelling van die stryd tussen siel en liggaam vra om gestel word teenoor die gewigtige filosofiese debatte daaroor, ook teenoor gedigte soos Van Wyk Louw se “Cartesiaan” in Tristia en Krog se “vier seisoenale waarnemings van Tafelberg” in Verweerskrif. In “Wederkoms” wys die spreker weer kordaat daarop dat hy gereed is vir die groot oordeel, omdat sy “catsuit/ (opgevou in die groot tas langs die vanity case)/ fire-resistant is”. Saam met die lugtige humor van hierdie gedigte kom daar ook interessante nuwe identiteite in die poësie na vore, soos dié van die fopdosser, die crossdresser en die opdresser.

As gay digter kan Marais se werk gelees word naas dié van skrywers soos Hennie Aucamp, Johann de Lange en Koos Prinsloo. ’n Gedig soos “Akademiese graffiti” reageer op ’n eiesoortige manier op byvoorbeeld De Lange se gedigte oor homoseksuele ervarings in toilette. Die gedigte oor liefde, vervulling en verlies word by geleentheid vermeng met verwysings na die proses van gedig-maak soos in “’n Gedig vir M” met sy “(h)oop einde”. Marais se werk herinner tematies gesproke ook aan dié van Aucamp en Prinsloo wat eweneens die gay stedeling met ’n plaasagtergrond aan die orde stel.

Die slotafdeling van die bundel bevat ’n hele aantal gedigte waarin herinneringe aan die plaas, die pa, die ooms en die familie verwerk word, maar dan met minder argwaan en woede as in die geval van Prinsloo. Ook hierdie gegewe word in verband gebring met die maak van poësie wanneer die digter hom in “Soos ’n inval” afvra hoe ’n mens die plaas met sy “stof, dom skape en ganskak” moet besing. Sy slotsom is dat dit eintlik net gedoen kan word met die klanke eie aan die plaaswêreld, soos vals kerkkore, bakkietoeters en die lui van die plaastelefoon.

Deurgaans in die bundel toon Marais dat hy beskik oor ’n besondere klankgevoeligheid en ritmiese aanvoeling wat hom in staat stel om sy leser op die liriese vlak mee te voer. Verder brei hy die digterlike woordeskat van Afrikaans uit met die insluiting van Engelse woorde wat bepaalde subkulture oproep en ’n jong generasie se leefwêreld weerspieël. Alhoewel die gedigte dikwels helder en eenvoudig voorkom, voel die leser ’n bepaalde deurdagtheid aan: sonder om opsigtelik te wees, is die filosofie deurgedink, die relevante tekste gelees en kennis geneem van ander digters se segging. Die bundel is veral gemoeid met die verwoording van intieme ervarings (liefde, begeerte, verlies en verlange) en moeilik omskryfbare sintuiglike waarnemings (die ligkwaliteit van die vroegsomerson, die volume van oggendlig). Hiernaas is daar ’n voortdurende fokus op die aard van poësie en die moontlikhede wat die digter het om homself te wees of te word tussen diegene wat hom voorafgegaan het. Oor die afwesigheid van ‘n uitgesproke politieke bewussyn skryf hy self in “Terug op die plaas”, waarin hy meen dat sy generasie “die wesies van ideologieë” is en dat “die groot idees staan teen die horison soos bouvalle/ beeldskoon en gevaarlik”.

Marais se bundel is kortom ’n vonds. Hier vind ’n mens die soort substansie, oorspronklikheid, afronding en sprankel wat jy min in ’n debuutbundel kry. Lees en geniet die verskyning van die Afrikaanse poësie se nuutste rockster met sy lugdrukboor, petrolbom, vuurvaste catsuit, plaastelefoon en al.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top