Ek is nie meer seker nie, kan nie meer onthou waaroor die oumense meer kla nie. Ek voel 'n bietjie soos die middelkind in 'n familie waar die ouers te hardkoppig is om te skei
- sommige mense hou van vasklou.
Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie – ek vra nie vir skeiding tussen bruin en wit Afrikaanssprekendes nie. Hel nee! Ek dink net die hele battle of the academics raak nou afgesaag, irriterend en baie vervelig. Wat van gewone mense?
Ek het nog nooit die ou wat die Son-koerant verkoop, hoor moan oor die skeiding of die wat ook al van sy taal nie, maar hy verteenwoordig en staan soe!
Ek moes nou die dag 'n 22-jarige vriendin van Benoni eers inlig oor die hele storie. Al my vrinne van min of meer my ouderdom het nie 'n clue waaroor als gaan nie. Miskien sê dit net iets van my vrinne of miskien het ons ander dinge om oor te worry.
Ek was 16 jaar oud toe ek die heel eerste keer gehoor het van die hele panic attack rondom Afrikaans. Ek is daai selfde dag biblioteek toe om vyf Afrikaanse boeke te trek – nie omdat ek gedink het die taal gaan sterf nie, maar omdat dit op die top tien uitleenlys was.
Ek dink dit is makliker vir my om Afrikaans as 'n taal te sien en nie as 'n wapen nie. Daar's 11 amptelike tale en die oomblik wanneer iets uitgesonder word, word dit vreemd en net nie kwaai nie.
Afrikaans dra swaar aan haar verlede en as almal haar heeltyd vertel van hoe sleg sy was en wat in haar kas hang en hoe om te verbeter gaan sy nooit tot haar volle potensiaal kan groei nie.
Hou op praat en doen iets! Skryf 'n boek, maak 'n cd; hei, maak 'n fliek, bou 'n brug en get over it!
Afrikaans groei, gaan nêrens, hét reeds 'n ons.
Laat die taal toe om 'n taal te wees en praat met mekaar oor goeters wat julle regtig pla.