Die aaneenvloei van herinneringe

  • 0

Wat die water onthou
Louis Esterhuizen
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869193539
Prys: R130.00

Klik hier en koop Wat die water onthou nou van Protea Boekhuis!

 

’n Gemene deler in Esterhuizen se digbundels is temas van verganklikheid en verlies – daarvan getuig die goedgekose titels Sloper en, in die besonder, Wat die water onthou. Tyd se rol is in hierdie proses dominant, soos verwoord word in die gedig “Want die begin is geen begin nie” uit Sloper (88):
 

Want die begin is geen begin nie –
die aanhef lê elders, lê elders, altyd

terug na die eerste sin lank vergete
en tog, telkens weer die onthou

wat aan ’n chromosoom se intonasie
toevertrou is: die moeë stamboom

van oorsaak en gevolg, van ’n gees
oor water wat die atoom splits

in oomblikke van was
en wou wees

’n Terugtas in tyd en die rol van herinneringe word deur hierdie gedig in die vooruitsig gestel, maar ook die aaneenskakeling van oorsaak en gevolg – dus ’n ineenvloei van dinge. Esterhuizen se sesde bundeltitel verwoord die fluïditeit van sake met presisie: dat herinnering(e) ’n stabiliteit aan die wegvloei (verganklikheid en verlies) van dinge bied. Alles wat dus deel van alles is, word sodoende as verwagting verwoord.
Die komposisie van Esterhuizen se vyf vorige bundels het getuig van ’n bewustelike proses van gedigsaamgroeperings en samehangpatrone. Dikwels het ’n intertekstuele diskoers die samehange versterk, soos aangedui is deur mottogebruike en opdragverse aan ander woordskeppers. Nietemin wyk  Wat die water onthou in ’n groot mate van hierdie werkswyse af. Die afwesigheid aan rubriserings by wyse van afdelings, gedigeenhede en -titels laat die indruk by die leser dat die teks as eenheid gelees behoort te word. Hierdie gedagte word versterk deur die onderskikkende bysinne, wat ’n voorafdiskoers veronderstel. Die meerderheid gedigtitels word deur die voegwoord “dat” begin en skep sodoende die gedagte dat oorsaak en gevolg eenheidskeppend funksioneer. Met hierdie styl word die leser gelei om na verdere eenhede te soek. Die voor die hand liggendste ooreenkoms is geleë in die gedigtitels wat ooreenkomste met die bundeltitel toon, in besonder die vermelding van water. Dit is veral die gedig(reekse) “die heiligheid van water” (25) en “die geduld van water” (38) wat uitstaan in die bundelsamehang. Water word in hierdie drie versreekse gepersonifieer en sodoende word klem gelê op die samehang tussen tyd, ruimte en die mens se verbintenis aan hierdie elemente. Samehang en die dwingende drang om verband is dominant in Wat die water onthou. Die slot van die vers “oop en bloot” (41) stel hierdie verbintenis treffend:

ingesmelt soos dit in ’n gedig
die geval is – met die liefde
en ook
met die dood

Begin en einde (dood), liefde en die poësie word hier merkers van die spreker se behoefte om tog vastigheid te gee aan die fluïditeit van water. Die eerste gedig in die reeks “die geduld van water” (38) en die standhoudende waarde van die “awarel” is paradoksaal dog stabiliserend:

dat die papier se grein vorm gee
aan die vloei van kleur: jy herken
’n boom hier, ’n sonvlek daar
voor jy selfs nog weet van berge

verder agtertoe: spatsels kleur

tussen die vloeiings tak en blaar,
die blomtapyt in die voorgrond
waarmee die papier verwater

tot dit is wat dit wel wil wees –
die gestolde vloeipatroon
van water wat verdamp het

en nou bewaar word
agter droë glas

Ruimte en karakter is nou verweef in hierdie bundel – ’n byna logiese verbintenis. Die digter bring egter nuwe dimensies by, soos afgelei kan word uit die bundeltitel – die water se geheue bind die verskillende elemente saam. Aansluitend hierby is die aangrypende gedigreeks “die heiligheid van water”, waarin ’n mistieke karakter aan water verleen word. Die volgende afdeling, waarin menslike eienskappe aan water toegeskryf word, is die afdeling “die geduld van water”. Soos die motto van Kaplinski voor in die bundel die herhaalbaarheid van water beklemtoon, sluit hierdie afdeling baie nou by die bundeltitel aan. Die twee gedigte “dat daar altyd ’n begin is” en “altyd is daar ’n rivier” eggo die duur van tyd.

Esterhuizen se bundelkomposisie is sodanig dat dit die samehang van kleiner en groter eenhede stukrag gee. Die gebrek aan afdelings en gedigtitels skep en versterk die gedagte van vloei en eenheid. Die digter formuleer hierdie eenheidskeppende krag in gedig 6 van “Posisie op ’n bord” soos volg:

Stiller sal die aarde algaande word:
En stiller. Só is die geneigdheid van water.
Om alle geluid op te los –
o, die verleentheid van breë strome
oor alles heen.

Hierdie berekende komposisionele aspek van die bundel is besonder kragtig in die kleiner reekse in die bundel. Dit is veral die geval met die reeds genoemde afdeling “die geduld van water”. Besinning oor die kreatiwiteit van veral die akwarelskilder en die digter is verwoord. Aansluitend by hierdie dinamiek is die slotgedig van die bundel “Melopee”, wat  geïnspireer is deur Paul van Ostaijen se gelyknamige gedig. Esterhuizen se gedig eggo tematies dié van Van Ostaijen ten opsigte van ritmiese dinamiek en beweging. Die verlies en verwering van die aarde kry ook gestalte in die struktuur van die gedig deur die geleidelike korterwording van die versreëls. Die landskap van die gedig en die aarde is onderhewig aan die krag van “die gety / (wat) terugtrek en verdwyn” (24). Aansluitend by hierdie gedig, asook Van Ostaijen s’n, is “dat ’n landskap van oewer en rivier”. ’n Bepaalde eenheid word sodoende gegenereer en bevestig die saamvloei van landskapselemente. Die volgehoue krag van die rivier se beweging word versterk deur die enjambement, wat ’n ritmiese versnelling daaraan verleen. Dit is veral met hierdie ritmiese stukrag wat Esterhuizen beïndruk in Wat die water onthou. Hierdie is ’n bundel wat onthou sal word vanweë die soberheid en helderheid waarmee die digter die dinamiek van tyd, landskap en mens tot ’n hegter eenheid laat saamvloei het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top