Die 2016 kykNET Silwerskermfees: 'n Bloutapyt vir plaaslike filmtalent

  • 0

As The Bay Hotel in Kampsbaai, die tuiste van die jaarlikse kykNET Silwerskermfees, enigsins 'n aanduiding is van wat jou by vanjaar se fees te wagte is, dan is dit duidelik dat die Silwerskermfees meer as net 'n filmfees is.

Die Silwerskermfees is ons eie Hollywood à la kykNET. Prima! Hiér is die bioskoopervaring weer elegant danksy die je ne sais quoi wat The Bay Hotel tot die fees voeg, die bloutapyt wat jou verwelkom, die beloftes wat 'n fantastiese program inhou en die opgewondenheid van elke filmliefhebber wat by die hotelfoyer instap.

Met kykNET as hoofborg is dit maklik om te dink dat die fees net Afrikaanse talent tentoonstel. Die Silwerskermfees doen egter meer as net pronk met Afrikaanse filmkuns; dit is 'n viering van plaaslike filmtalent in al sy verskeidenheid en hoedanighede. Hierdie is geen homogene fees nie, maar 'n tentoonstelling van hoe ver ons plaaslike filmbedryf gekom het sedert demokratisering. Bowenal is dit 'n viering van die diversiteit van ons stories en hoe goed ons dit op die silwerdoek kan vertel.

En waarom dan nie? Met die Afrikaanse filmbedryf wat in 2016 sy 100ste verjaardag vier, terwyl M-Net vanjaar sy derde dekade van die voorsiening van plaaslike vermaak betree, het ons rede om fees te hou en ons stories met die wêreld te deel. Volgens Jan du Plessis (direkteur: M-Net Kanale) is die Silwerskermfees “'n seminale vertoonvenster van die jongste filmprojekte, hetsy kortfilms of vollengte speelfilms, en vuurwarm talent” (Silwerskermfeesprogram, 2016:9).

Die fees bestaan, soos oudergewoonte, uit verskeie afdelings: kortfilms binne die kortfilmkompetisie, kortfilms buite die kompetisie, speelfilms binne die speelfilmkompetisie, speelfilms buite die kompetisie, dokumentêre en dan ook gesprekke wat handel oor allerlei onderwerpe te make met die film- en vermaaklikheidswêreld.

Vanjaar se fees het gespog met 15 nuwe kortfilms wat aan die kortfilmkompetisie deelgeneem het. Hierdie kompetisie bied 'n platform vir diegene wat belangstel in die filmkuns en hul hand aan die draaiboekpen en kamera wil waag.

Die kompetisie werk so: Aspirantfilmmakers het die geleentheid gehad om tydens Maart vanjaar vir hierdie gesogte kompetisie in te skryf en altesaam 196 voltooide konsepinskrywings is ontvang (Silwerskermfeesprogram, 2016:20). 'n Eksterne paneel van ses onafhanklike lede het hierdie inskrywings volgens 'n puntestelsel anoniem gelees en geëvalueer, en 36 konsepte is uiteindelik uitgekies.

Hierdie langlys konsepte is deur 'n kykNET-paneel geëvalueer en bespreek en 22 hiervan het deurgedring na die teksfase, waar die skrywers gevra is om 'n volledige eerste konsep van die kortfilm in 'n draaiboekformaat te lewer.

'n Eksterne paneel van agt onafhanklike kenners het hierdie volledige draaiboekinskrywings volgens bepaalde kriteria evalueer en dit uitgedun tot 15 kortfilmdraaiboeke. Die gelukkige 15 vervaardigers is toe opdrag gegee om volgens standaard-M-Net-opdragwerkkontrakte 'n finale filmproduk binne twee maande te vervaardig, wat uiteindelik die 15 kortfilms uitgemaak het wat op die fees vertoon is (Silwerskermfeesprogram, 2016:20).

Terwyl die fees aspirantfilmmakers die geleentheid bied om hul werk te vervaardig, is hul ook vasbeslote om hierdie nuwe talent te ontwikkel deur mentors beskikbaar te stel ten einde die plaaslike filmbedryf jaar vir jaar te versterk. Drie mentorspanne bestaande uit minstens twee bedryfskenners – gerespekteerde skrywers, regisseurs of vervaardigers uit eie reg – het hierdie jaar elk vyf kortfilmspanne onder hulle vlerk geneem om deurlopend leiding en raad te verskaf (Silwerskermfeesprogram, 2016:21).

En die resultate spreek vanself. Die diversiteit in onderwerp, tema en uitbeelding in vanjaar se kortfilms getuig van die rykdom wat Suid-Afrika in jong storievertellers het.

Met die vele gesprekke op vanjaar se feesprogram het die Silwerskermfees ook die rol van opvoeder ingeneem en geleentheid gebied vir die gehoor om meer uit te vind oor die Suid-Afrikaanse film- en vermaaklikheidsbedryf, en selfs om vrae aan kenners op die gebied te stel. Die fees het afgeskop met 'n gesprek oor die eienskappe van 'n goeie draaiboek, terwyl die uitdagings in die bemarking van speelfilms later onder die loep geneem is en die realiteite van roofkyk van nader bekyk is. M-Net het ons ingelig oor die proses van hoe films en televisieprogramme op die boksie kom en ook die stand van plaaslike filminhoud aangesny en beklemtoon dat ons werklik baie het om op trots te wees. Die ATKV Filmverse 2-DVD – 'n digkuns-animasieprojek – is dan ook tydens die fees bekendgestel. Hierdie keer is die projek meertalig, met 12 nuwe gedigte wat deur verskeie animasiekunstenaars in kortfilms verwerk is. Dan het skrywers en vervaardigers ook die geleentheid gekry om in “Blitz Pitch” hul blink idees binne drie minute aan die M-Net-topbestuur aan te bied – “gripping stuff”!

Die kersie op die 2016-feeskoek was wel die vyf vollengte-speelfilms wat meegeding het vir verskeie pryse in die speelfilmkategorie. Die langverwagte filmverwerking van Marita van der Vyver se roman Dis koue kos, skat (regisseur: Etienne Fourie) vertel 'n verhaal van wraak en genesing en het Anna-Mart van der Merwe in die hoofrol, saam met ander bekendes soos Deon Lotz, Elzabé Zietsman en Frank Opperman. In Johnny is nie dood nie (regie deur Christiaan Olwagen, verwerk vanaf die gelyknamige drama deur Malan Steyn) herleef vier studentevriende hul rebelse studentedae kort ná die selfdood van Johannes Kerkorrel – 'n tyd sinoniem met bevryding van liggaam, hart en denke. Noem my Skollie (regie deur Daryne Joshua) speel in die 1960’s op die Kaapse Vlakte af en is op die lewe van die draaiboekskrywer John W Fredericks gebaseer. Wanneer AB gearresteer word, ontdek hy 'n talent vir stories vertel, wat sy status in die tronk verhoog. Intrige volg egter ná hy vrygelaat is. In regisseur Corné van Rooyen se Sy klink soos lente staan Ben voor 'n keuse: vertel die beeldskone Linda die waarheid oor wat hy vir 'n lewe doen, of jok en sê hy is in 'n band. Al wat Ben te doen staan, is om 'n band te begin. Tess, 'n filmverwerking van Tracey Farren se roman Whiplash (regie deur Meg Rickards), speel af in die strate van Kaapstad, waar Tess haar lyf verkoop. Haar lewe keer kop onderstebo wanneer sy swanger word, en wanneer sy weghardloop, hardloop haar verlede haar agterna.

Die magdom talent wat hierdie films verteenwoordig, getuig van die swaargewigstatus waarmee Suid-Afrikaanse filmmakers slaan en van wat die Silwerskermfees hierdie jaar wéér reggekry het om te bewys: net omdat Suid-Afrikaanse speelfilms nie aldag oorsee draai nie, beteken dit nie dat dit nie so goed is soos Hollywood-produksies nie. Inteendeel, ons plaaslike filmtalent is wêreldklas.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top