La cruxifixion – geskilder deur Pablo Picasso
Hierdie skildery van Picasso beeld ’n geskende wêreld vol pyn en lyding uit. Op die oog af lyk die skildery soos ’n kleuter se tekening. Maar, kyk ’n mens ’n oomblik langer, dan raak dit vol besige en mismaakte figure. Die helder kleure omring ’n pynlike en bleek figuur in die middel. Hoe langer ’n mens daarna kyk, hoe gewelddadiger raak die prentjie. Later sien jy dalk vir Maria, die Moeder van God, reg voor die Kruis beangs en hartseer kniel.
Vir eeue reeds bring Pablo Picasso, se kuns die grootste bewondering in die harte wat daarna kyk. Hy was nie juis bekend vir sy godsdienstige beskouinge nie. Tog het hy die besonder klein, enigmatiese skildery van die Kruisiging, iewers in 1930 geskilder. Die skilderytjie is nooit verkoop nie. Dit het glo altyd as sy persoonlike besitting, in sy ateljee gehang. So het die Kruisiging, ’n persoonlike waarde en betekenis vir elke mens op aarde.
Die lyding wat in Picasso se skildery gebeeld word, beeld ook net so rou in die Bybelse tekste rondom die Pase. Van al die Pelgrimfeeste, word daar ook die meeste toewyding aan die Pase gewy. Hierdie geseënde fees word elke jaar volgens die Joodse kalender, op die 15de dag van Nisan, bepaal.
In Eksodus 12 lees ons:
En die HERE het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê: Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ’n lam neem volgens die families, ’n lam vir ’n huisgesin. Maar as ’n huisgesin te klein is vir ’n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken. Julle moet ’n lam hê sonder gebrek, ’n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet. En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet. Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop en pootjies saam met die binnegoed. Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand. En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ’n Pasga van die HERE is dit. Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal my oordeel voltrek teenoor al die gode van Egipte, Ek, die HERE. Maar die bloed sal vir julle ’n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie. En hierdie dag moet vir julle ’n gedenkdag wees, en julle moet dit as ’n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as ’n ewige insetting vier.
Die gebruik om ongesuurde brode die aand van die 14de dag van Nisan te eet, word tot vandag deur die Jode onderhou. Na die vernietiging van die Tweede Tempel, is die gebraaide lam egter met die afikoman vervang. Die Samaritane in Shekhem (in die Noorde van Israel), hou egter tot vandag by die gebruik om ’n lam volgens die voorskrif in Eksodus, te braai.
Die matzah wat deur die Jode op Pesach geëet word, word ook volgens streng voorskrifte berei. Die Haggadah leer onder meer: "Die deeg wat ons voorouers geknie het, het geen tyd gehad om te rys voor die Koning van die konings, die Heilige Een, Eer aan Hom, Homself geopenbaar het en hulle verlos het nie". Daarom word onder meer ongesuurde brode gedurende die Pase geëet.
In Handelinge 8 lees ons hoe die vervulling van Eksodus 12 in God se genade, deur die katolieke vandag ook verkondig word:
En ’n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ’n eensame pad. Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was ’n man van Ethiopië, ’n hofdienaar, ’n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiopiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees. Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa. En Filippus het daarheen gehardloop en hom die profeet Jesaja hoor lees; en hy sê: Verstaan u wel wat u lees? En hy antwoord: Hoe kan ek tog as niemand my die weg wys nie? Toe vra hy Filippus om op te klim en by hom te kom sit. En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos ’n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ’n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe? Want sy lewe word van die aarde weggeneem. En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders? En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. En terwyl hulle voort reis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop. En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis.
Nog ’n toneel by die Kruis wat my gedurig aangryp, is hoe die twee misdadigers wat saam met Jesus Christus onse HERE daardie dag gekruisig is, met God geredeneer het.
En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons. Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? Ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie. En hy sê vir Jesus: Dink aan my, HERE, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. (uit Lukas 23)
Dis nie OF ons God bevraag nie, maar HOE ons dit doen.
En dis die Goeie Nuus; die dood spreek nooit die laaste woord nie – ja, selfs in ons laaste oomblikke sal God ons harte red.
So kom daar in Jesus Christus onse HERE se opstanding, 'n nuwe begin – 'n nuwe lewe vir elkeen wat hul harte vir GOD oopmaak.
Dis nooit te laat nie.
Ons moet in opregtheid, ons pad in hierdie lewe loop – God ondersoek self elkeen se hart.
Kyk 'n mens na al die belewenis rondom die Pase, dan raak dit weereens duidelik hoe skoonheid, uit smart gebore word – die ru smarte waarmee eers die lam, en toe later die Lam, vir ons sonde geoffer word; alles in 'n liefdesgebaar waar God self die kosbare gawe word om ons saligheid te bewerk.
Soos daar geskrywe staan: ... omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees (1 Petrus 1:18-21). Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus (Galasiërs 4:7)...
Mag Jesus Christus onse HaShem, die Lam, self verlossing en saligheid in 'n ieder se hart bring.
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke, Boeddhistiese en Afrikaliefde,
Cornelius Henn


Kommentaar
Hierdie bydrae van jou (die opskrif uitgesonder), Cornelius, in isolasie gesien van jou ander skryfgoed, is baie waardevol en 'n mooi voorbeeld van ware geloof en ook 'n mooi samevatting van die Paasboodskap..... as jy en ander dit maar net self ook wou glo.
Dit is so waar wat in die Woord staan: "Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely." - Romeine 14:11 n.a.v. Jesaja 45:23. Die wonderlike Waarheid hiervan is, dat, ongeag wat werklik in die hart aangaan van hom wat bely wat jy hierbo so treffend bely, sal die Waarheid tog ook oor daardie selfde lippe kom, wat so dikwels die HERE verloën. Dit beteken ook dat geeneen ooit sal kan sê dat hy nie van die HERE geweet het, nie. Verstaan jy wat ek sê?
Kobus de Klerk
Cornelius: Ek is nou nie juis wyd bekend vir religie nie, so ek kan nie kommentaar lewer op die teologiese aspekte nie. Maar ek is wel 'n Picasso-entoesias, en heiden of te nie, ook 'n groot liefhebber van religieuse kuns in die algemeen, veral uit die Middeleeue en vroeë Renaissance.
Kobus, in nederige erkentlikheid voel ek verlig oor jou vrede - al is dit ook net hierin... ja, net GOD ken ons harte, en ek verseker jou dis waar ek kniel - ons intellek is net 'n gawe om te geniet, en in GOD se genade te wy in hierdie lewe... 'n geseënde Pase vir jou en jou geliefdes Kobus... jou amigo in Adam, Cornelius.
Cornelius,
Jou stuk het my hart geroer. Snaaks hoe alles voor die kruis so nietig raak. Geniet jou paastyd.
Dankie
Trienie