Titel: Swartskaap
Outeur: Odette Schoeman
Uitgewer: Kwela Boeke
Bladsye: 377
Handelsprys: R190
ISBN: 978-0-7957-0285-3
Publikasiedatum: Augustus 2009
Odette Schoeman se debuutroman, Swartskaap, het onlangs by Kwela Boeke verskyn en is ’n absolute móét vir enige leser wat nog altyd gewonder het wat anderkant die railway tracks gebeur ...
Die roman begin met ’n proloog waarin die hoofkarakter, Claudie (nou dertig jaar oud), en haar halfboetie Christoff (Poena) in sy woonstel sit en dagga rook. Claudie sê vir Christoff dat sy terugskouend oor haar lewe geen “regrets” het nie – as sy haar lewe oor kon hê, sou sy niks verander nie. Ek was skepties oor dié stelling van Claudie, omdat sy van haar geboorte af onmeetbaar baie wreedheid en pyn moes ervaar, maar toe ek die boek aan die einde toemaak, het ek presies verstaan wat sy bedoel.
Verbeel jou jou ma is skisofrenies én depressief. Sy is afhanklik van “tikkel-tokkel-pille” en mans om haar aan die gang te hou. Jou pa is ’n tronkvoël en jy glo (omdat jou ma so gesê het) dat hy sal terugkom – “eendag op ’n reëndag – wanneer die perde horings kry”. Verbeel jou ’n kinderlewe waarin jy reeds vanaf die ouderdom van drie jaar ’n nomadiese bestaan voer. Elke jaar ’n nuwe skool en dorp, nuwe vriende, nuwe aanpassings. Min of geen stabiliteit nie. Net chaos. Tussenin ’n paar verrassings soos teddiebere, mense wat omgee én vir ’n tydjie die rol van moeder of vader in jou lewe vervul. En dan, telkens wanneer dit lyk of jy uiteindelik ’n “normale” lewe kan lei, gebeur nóg ’n tragedie of word nóg ’n onreg jou aangedoen en begin al die moeilikheid weer van voor af.
Vir Claudie is bogenoemde die werklikheid.
Hoofstuk 1 begin met dié woorde van Claudie: “Die moeilikheid het begin nog lank voor die oggend toe ek gebore is. Ek het nie geweet waarin ek my begewe nie. Ek was onskuldig én onwelkom” (13). Hierna volg ’n vertelling vanuit Claudie se perspektief waarmee sy die leser in 23 hoofstukke deur haar jeugjare lei – van ongebore kind tot by ’n jong meisie van agtien jaar. Dit is ’n tipe Bildungsroman waarin die lewensverhaal van ’n klein meisie, die swartskaap van ’n disfunksionele familie, uitgebeeld word.
Swartskaap handel oor armoede en swaarkry. Oor die lewe aan die anderkant (die verkeerde kant) van die railway tracks, maar ook oor die lewe ná jy genoeg guts gehad het om daardie treinspoor oor te steek en jy jou aan die anderkant (die beter kant) bevind. Oor afwesige ma’s en pa’s, buite-egtelike verhoudings én kinders, bloed wat dikker is as wateren die konstante veg teen hierdie “demons” – die sondes van jou vaders en al die moeilikhede wat daarmee saamkom. Dit is nie bloot ’n uitgebreide verhaal oor ’n familie van die Boksburg-omgewing nie. Schoeman vertel met soveel deernis en oortuiging die verhaal van Claudie en haar gesin dat ek as leser –ten spyte van my gevoelens van afgryse en skok – steeds met simpatie en begrip na elke karakter en hul optredes kon kyk. Daar is baie geweld. Onreg en onregverdigheid, emmers vol hartseer, trane, ontwrigting, wroeging, vrese en seerkry. Maar ’n mens kan die boek nie neersit nie, want jy as leser wil wéét hoe Claudie en haar mense daarmee cope, al dan nie.
Die boek kan moontlik te erg wees vir sensitiewe lesers. Schoeman skryf sonder skroom die temas van verkragting en bloedskande in Swartskaap oop. Claudie se eie pa molesteer haar en daar is in die loop van haar kinderlewe verskeie mans wat haar seksueel misbruik. ’n Mens wil nie verder lees nie, want jou hart bloei vir die klein Claudie wat besef dat die mans en haar pa iets met haar doen wat “nie reg is nie”, maar as kind besef sy nog nie ten volle die implikasies van wat met haar gebeur nie. Daar is dus dele waar die pyn en hartseer só erg raak dat jy as leser saam met Claudie sal huil – Jeanne Goosen sê immers op die voorblad dat Swartskaap die “eerste Afrikaanse roman is wat [haar] aan die huil had”.
Odette Schoeman kry dit reg om in ’n eenvoudige, maar onderhoudende, styl en taal te skryf. Elke hoofstuk word ingelei met ’n “motto” wat die stemming van die hoofstuk aangee – die gepastheid van die aanhalings het my telkens beïndruk. ’n Mens sou dink dat die 377 bladsye later té uitgerek sou raak, maar ek kon die boek nie een oomblik neersit nie. Ek moes aanhou lees sodat ek kon sien wat met Claudie en haar familie gebeur.
Die ingewikkelde stamboom van Claudie se familie, wat net voor hoofstuk 1 in die boek verskyn, is nie net ’n riglyn vir die leser wat moet bybly met al die buite-egtelike verhoudings en kinders in dié familie nie, maar terselfdertyd vooruitskouend van hoe ingewikkeld Claudie se lewe sal wees. Claudie het een regte broer, vier halfbroers en een halfsussie. Waar ’n mens gewoonlik só ’n “onverantwoordelike” opset met minagting en vooroordeel aanskou, gebeur die teenoorgestelde met die lees van Swartskaap. Schoeman plaas die leser met haar vertelkuns binne elke karakter se skoene. Alhoewel nie almal se optrede geregverdig kan word nie, simpatiseer ’n mens tog met selfs die slegste van karakters.
Vir my is die mooiste van die verhaal die wyse waarop Schoeman humor aanwend. Miskien is dit juis dít wat die leser aanmoedig om verder te lees – ten spyte van al die nare gebeure is daar ook ligte oomblikke.
Schoeman fokus egter nie net op die negatiewe nie. Sy deel ook die sorgelose dae in Claudie se lewe met die leser. In haar vertelling word elke karakter vlees – ek kan Claudie se ma voor my sien staan – opgedollie met haar blonde hare, rooi hoëhakskoene en geverfde naels. Net so kon ek van al die ander karakters (randfigure ingesluit) ’n duidelike prentjie skets.
Die disfunksionele familie-opset veroorsaak dat Claudie en haar broers nie soos ander kinders in ’n stabiele huishouding kan grootword nie. Hulle is totaal oorgelaat aan die lot van hul ma, agter wie hulle moet aantrek soos sy nuwe kêrels, werk en blyplek vind. Dikwels behels “blyplek” dat daar eintlik nie eers genoeg plek is om te slaap nie. Soos hulle ouer word, tree die kinders dikwels as ouer vir hul ma op. Op driejarige ouderdom woon Claudie en haar broer Theuns selfs ’n tyd lank in ’n weeshuis, tot hul pa hul daaruit kom ontvoer – “ontvoer”, aangesien nie Claudie se ma óf pa in dié stadium voogdyskap oor Claudie of haar broer het nie. Claudie se pa beland later in die tronk as gevolg van haar ma se toedoen – en hiervoor sal die twee ouers mekaar nooit vergeef nie.
Van meet af aan is dit drama op die grootste skaal. Die leser trek saam met Claudie van Boksburg na Vaaloewer, terug na Boksburg, na Swartfontein en tussenin van die een deel van ’n dorp na die ander. Schoeman lei die leser na daardie wêreld anderkant die railway tracks en wys jou presies hóé die mense daar leef. Een van die gebeure wat mý die meeste ontstel het, is wanneer Claudie se ma verhuis en Claudie en haar broer, Theuns, alleen by hul ouma agterlaat – sonder om te groet. Sonder ’n rede. Sy verwerp haar eie kinders en dit sny tot in die murg van dié wat dit lees.
Oor haar ouers sê Claudie self: “Maar die Here het my aan hulle toebetrou, soos vir Benjamin aan Fiela Komoetie, en ek het geklou soos ’n neet” (14). Jare later is dit juis hierdie gehegtheid aan haar ouers wat daartoe lei dat Claudie in die hof lieg. Sy getuig moet teen haar pa, wat haar verkrag het, maar kan nie, omdat sy té lief is vir hom. Weer eens kon ek my hier, teen alle rasionele denke in, met Claudie se besluit vereenselwig, en ek skryf dit toe aan Schoeman se meesterlike vertelwyse. Sy is só getrou aan haar karakters en aan die werklikheid – in so ’n mate dat ek dikwels vergeet het dat ek besig is om fiksie te lees. As leser verstaan jy hoe moeilik dit vir Claudie en haar broers is – hulle háát hulle ouers, maar het hulle ook só oneindig lief. Bloed is nou maar eenmaal dikker as water.
Dit is byna ongelooflik dat één gesin se lewe só ingewikkeld kan wees, maar ’n mens kry nooit die idee dat Schoeman besig is om doelbewus nog meer intriges in die verhaal te voeg nie. Alles maak sin, omdat sy die omstandighede so goed verduidelik en uiteensit. Daar is slegs één keer waar ek meen dat Schoeman die verhaal dalk te veel aandik – die gedeelte waar Claudie amper ontvoer is deur die berugte Joey Haarhoff (sy en Gert van Rooyen was kinderontvoerders in 1988-89). Maar hieroor moet elke leser self besluit.
Dit is van meet af aan duidelik dat Claudie en haar familie vasgevang is in ’n siklus van geweld, armoede, magteloosheid en onkunde. Die leser sien en ervaar self hoe hard dié mense probeer om anders te wees, selfs “normaal” te wees, maar “old habits die hard” en dit is makliker om die eenvoudige uitweg te volg. Ook hiér kry Schoeman dit reg om simpatie by die leser te wek.
Alhoewel die boek as “ligter leefstof” beskou kan word, spreek dit baie relevante maatskaplike kwessies aan en is die boek juis aangrypend omdat dit wys hoe Claudie en twee van haar broers daarin slaag om bo hul omstandighede uit te styg. Die boek dwing ook die leser om bewus te word van ’n wêreld waarvan baie van ons nie aldag bewus wíl wees nie.
Daar is skreeusnaakse dele, soos wanneer Claudie en haar broers “shoplift”; wanneer Bennie en hul ma “vergader” om te besluit watter fietse in hul woonstelgebou hy vir hulle kinders moet steel vir Kersfees; en Claudie wat nie dokter toe gaan nie, omdat sy tevrede is met haar broer se diagnose dat sy “Aids” het. Hiervoor, en ook dikwels sonder rede, word die kinders erg geslaan deur hul ma. Haar tugtiging grens aan mishandeling. Tog sorg dié aspek van Claudie se ma ook vir vermaak – veral wanneer sy skoolkinders wat háár kinders pla of kwaad aandoen, sélf ’n loesing of twee gaan gee om hulle ’n les te leer – want niemand “mors” met haar kinders nie.
Swartskaap is ’n móét vir enige leser wat daarvan hou om ’n storie te hoor waarin geen doekies omgedraai word nie en waarin baie dinge skeefloop. Jy gaan geskok word. Maar dit gaan jou nie keer om verder te lees nie. Elke hoofstuk laat jou op die punt van jou stoel sit, want jy weet Claudie is só naby aan die bereiking van die “normale lewe” waarna sy streef – daar is wonderlike rolmodelle en engele wat oor haar pad gestuur word, soos juffrou Van Zyl, Jack, haar ouma, pleegouers, tannie Erna en Andries, Lagerspoort (die een skool en koshuis waar sy veilig en geborge voel) – maar elke keer word dié kortstondige geluk weer weggeneem en moet sy verder soek. Dit is lonend om te sien hoe Claudie dit uiteindelik regkry om haarself van haar omstandighede los te maak.
Swartskaap is nie vir lesers wat soek vir ’n uitdaging, intertekste of ingewikkelde leesstof nie, maar vir diegene wat rustig agteroor wil sit om die merkwaardige verhaal van ’n jong meisie se lewe te lees. Claudie is ’n karakter wat díep in jou hart sal inkruip, en ’n swartskaap wat jy nie gou sal vergeet nie.


