Dié bul van ʼn boek waarborg ʼn vonkel en ʼn traan in elke rugbyliefhebber se oog

  • 0

Titel: Blou Bulle: 70 Gloriejare
Skrywers: Wim van der Berg en Gerhard Burger
Uitgewer: Penguin South Africa
ISBN: 9780143025863
Publikasiedatum: November 2008

 

My hart het warm geklop toe ek die boek met sy kleurvolle blou buiteblad met ? foto van ? seëvierende Bulls-span in die pos ontvang. Ek is nie verniet al vir 46 jaar ? geswore ondersteuner van die Ligbloues nie - let wel: ek het die ou Noord-Transvaal die eerste keer sien speel toe hulle die Britse Leeus in 1962 op Loftus gepak het en Mannetjies Roux Richard Sharp se toer met ? plettervat beëindig het.

Die skrywers het vir my geen bekendstelling nodig nie. Hoewel ek Gerhard Burger nog nooit persoonlik ontmoet het nie, weet ek dat hy sterk bande met die destydse Transvaalse Rugby-unie gehad het en ? vertroueling van die rugbybaas Jannie le Roux was.

Wim van der Berg het vir ? seisoen of wat saam met my aan die Noord-Transvaalse rugbyskeidsregtersvereniging behoort. Hy is, volgens die kort karakterbeskrywing op die agterblad, deesdae die redakteur van Blou, die Blou Bulle se amptelike tydskrif. Nie een van die skrywers verwys egter na hulself as ? Blou Bul-ondersteuner nie.

Die twee ongedateerde programinsetsels op die binneblaaie van die buiteblad bevat name van spelers wat seker vir die senior burgers baie betekenis sal hê. In die spanlys van die Noord-Transvaalse Subunie herken ek geen name nie, maar op die spanlys van Noord-Transvaal wat die Britse toerspan gepak het, vang onder andere D Craven, F Bergh en L Strachan my oog. Al drie dié spelers het diep spore in Suid-Afrikaanse rugby getrap. Oom Lucas Strachan het na sy speeldae ook legendestatus as afrigter in Noord-Transvaal verwerf, terwyl "Dok" Craven se prestasies tot vandag internasionale erkenning geniet. Ek moet bely dat ek dit vreemd vind dat twee belangrike ruimtes aan dié besondere stukkie historiese kopie afgestaan is. Ek kan ook nog nie die kloutjie by die oor bring hoekom dit voor en agter herhaal word nie.

Toe ek die teks begin lees, het ek dadelik tot die besef gekom dat dit geen maklike taak is om reg te laat geskied aan die Blou Bulle se wel en wee die afgelope 70 jaar nie. Boet Fick, huidige president van die Blou Bulle Rugby-Unie, se opmerking dat die boek nie ? naslaanwerk is nie maar die storie van die totstandkoming van die unie, gee perspektief aan die boek. Tog bevat die teks plek-plek waardevolle statistiek, soos byvoorbeeld die inligting oor Curriebeker-eindstryde op bll 16-17.

Die lang niksseggende staaltjie waarmee die boek begin, het my laat wonder wat ek nog sal moet deurworstel, maar dit is net ? vals alarm. Vandat die skrywers die legendariese Buurman van Zyl op bl 3 begin bespreek, tot op die laaste bladsy loop die herinneringe dik.

Laat ek dadelik sê die boek lees lekker. Dis in ? gemaklike styl geskryf en die inligting wat in die boek opgeneem is, het dikwels ? vonkel en ander kere weer trane in my oë laat beland. Hier en daar kom daar onbenullighede voor wat waarskynlik met meer deurdagte redigering uitgeskakel kon gewees het. So byvoorbeeld kon die skrywers die familie-uitleg van Loftus Versfeld (die mens) en die ellelange relaas oor die standbeeld van die onbekende rugbyspeler wat besoekers aan Loftus Versfeld (die stadion) vir jare aan die raai gehad het, liefs weggelaat het. Die gedeelte oor die Blou Bulle se rugbykollege is ook ietwat oordoen en gelaai met baie name van spelers wat hulle nog nie bewys het nie.

Ek sou eerder graag meer wou lees oor Chris Luther, daardie langbeen Bobbie-heelagter wat saam met Fourie du Preez snr, pa van die Bokskrumskakel, en die gewilde Gerbrandt Grobler onder die ongelukkigste spelers tel wat nooit die groen en goud gedra het nie. Grobler, wat in ? motorongeluk gesterf het, was ? groot gunsteling onder die meisies en is tydig en ontydig deur vroulike bewonderaars lastig geval wanneer die Bulle wegwedstryde gespeel het. Oor hom is daar baie interessante stories. So ook oor die Springbokskrumskakel Dirk de Vos, wat die Bulle gehelp het om die finaal van 1973 te wen. De Vos, wat vir vyf provinsies en talle klubs uitgedraf het, is dikwels daarvan beskuldig dat hy rugbykleurbaadjies versamel.

Die relase oor die taktiese beplanning vir Curriebeker-finale en ander belangrike wedstryde wat dikwels in klubkroeë en losies gehoor word by spelers wat deel was van die aksie, het ook agterweë gebly.

Geen aspek van Blou Bul-rugby word egter misgekyk nie. Die gedeelte oor klubrugby bevestig dat die skrywers hulle huiswerk behoorlik gedoen het. Die lyste van spelers wat die klubs gedra het, word funksioneel aangewend om ou herinneringe op te roep. Die skrywers vermeld egter nie dat die Likkewane (Gevangenisdienste) aanvanklik in blou gespeel het toe hulle onder die naam bekend geraak het nie. Hulle legendariese losskakel van daardie jare, die buksie Tex Neethling, haal ook nie die boek nie.

Skolerugby en bulletjierugby kry die ruimte wat dit verdien, terwyl ikone soos Buurman van Zyl, Thys Lourens, Victor Matfield en Heyneke Meyer se prestasies in besonderhede ontleed word. Die boek bied ? wonderlike getuigskrif van Meyer se vasberadenheid en sy vermoë om teleurstellings te verwerk. Ek het nooit besef dat Meyer twee keer as afrigter van die Bulls ontslaan is voordat hy die span op koers gekry het en die 2007 Super14-titel gebuit het nie.

Enkele onbesonge helde wat lewe en liggaam aan die uitbou van klubrugby gewy het, is misgekyk, maar dit kan seker nie anders nie. Aangesien die boek deurspek is van lysies en kort verwysings, het die bydraes van junior klubs soos Tuine, Westelikes, Jan Niemand Park en Wesmoot sekerlik vermelding verdien. Tuine, wat in my tyd net een seisoen in die Carltonliga gespeel het, het talle kleurvolle karakters opgelewer, onder wie die skopkoning Rooies van den Heever, Steenkool Engelbrecht en Hein Piater.

Nog ? pluspunt is dat vroue ook tot hulle reg kom in die boek. Die reuse-bydrae wat administrateurs soos Tossie Koegelenberg en Saartjie Olivier tot die Bulle se suksesverhaal gelewer het, en selfs die prestasies van die Bulle se vrouespan, word sinvol toegelig. Die skrywers meld egter nie die feit dat die Blou Bulle Rugby-unie nog nooit regtig entoesiasties oor die vroue-weergawe van die spel kon raak nie.

Van vroue gepraat, daar is nie net ? foto van ons voorste vrouejagter, Steve Hofmeyr, in sy Blou Bul-ondersteunersgewaad nie, maar ook ? paar van die beeldskone Bulls Babes. Die volledige woorde van die Blou Bul-lied, wat danksy Hofmeyr se entoesiastiese weergawe trefferstatus geniet, verskyn ook in die boek.

Die grootste teleurstelling is die spelfoute in die boek, twee sommer op die buiteblad agter. "Ekslusiewe", en "stalgies" in plaas van "staaltjies", grens aan onverskoonbaar.

Die proefleesprobleem steek al kop uit in die boodskap van Brand de Villiers, HUB van die SAIL-groep, waar hy skryf: "Die SAIL-groep is deur sy aanhouding (aandele?houding) ? venoot van die Blou Bulle Rugby-Unie." Dan weer op bl 3 wanneer daar oor Mof Myburgh geskryf word: "Toe gooi hy in elkeen se lemoen iets uit ? bottel wat hy sy sy voete hou ..."

Na oudskeidsregter Albert Adams word foutiewelik op bl 117 verwys as "Albert Adam". (Adams, wat toetsstatus bereik het, is terloops tien jaar tronk toe gestuur vir bedrog en diefstal. Een van die klaers in die saak was ? medebestuurslid van die Blou Bulle se skeidsregtersvereniging, Jannie van der Mescht.) Op bl 128 word verwys na "die Bloue Bulle". Dit is maar een van die donker kolle in die geskiedenis van die Ligbloues wat verswyg word.

Die afdrukke van die buiteblaaie van ou programme in die middel van die boek werk ongelukkig nie. Daar kon eerder van nog foto's van belangrike insidente in die Bulle se geskiedenis gebruik gemaak word. Hier dink mens aan ? Mannetjies Roux op spoed en die welige kapsel van ? Jack Conradie. Die gebrek aan ? indeks pla ook.

Ten spyte van die spelfoute en die paar onbenullighede bly hierdie steeds ? bul van ? boek. Die foto's wat vir plasing gekies is, is uit die boonste rakke. Dit alleen is genoeg om enige rugbyliefhebber se tone te laat omkrul van lekkerkry. As jou bloed blou is, is hierdie ? Kersgeskenk duisend, en vir die ouer garde, soos die uwe, wat die pad saam met die Ligbloues geloop het, is dit ? pragwerk wat ? ereplekkie in die boekrak verdien.

Ek het die Afrikaanse weergawe onder oë gehad, maar dit is ook in Engels beskikbaar.

 • Braam van der Vyver lewer gereeld vryskutbydraes aan die media, dikwels onder ? skuilnaam. Hy is ? bekroonde dramaturg wat in 1994 die opspraakwekkende rugbyroman Stywe Arm die lig laat sien het. Voorts is hy ook in 2006 deur Maskew Miller Longman bekroon vir sy jeugroman Helpers uit die Kryt. Hy het pas ? tienertoneelstuk, Plettervat, voltooi.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top