Dié boek gaan 'n paar plafonne tref

  • 0

Om na ’n wit plafon te staar, ’n (reguit) roman
Jaco Kirsten
Tafelberg-Uitgewers
2009
978 0 624 04711 7

Klik hier en koop Om na ’n wit plafon te staar, ’n (reguit) roman nou by Kalahari.net

O, hel. Hier kom ’n ding. Jaco Kirsten se eerste roman, Om na ’n wit plafon te staar, gaan ’n paar tonge (dalk selfs vuiste) laat klap, laat klik en laat wikkel. Sy rubrieke verskyn gereeld, ook in boekvorm, so ons weet hy is nie bang om die dik agterente van die establishment te skop nie.

Voor in sy bundel rubrieke, Mý kant van die saak, skryf Jaco dat ’n wynboer eendag aan hom gesê het dis verbasend dat hy, Jaco, so klein is.

“Hoekom?” wou Jaco weet.

“Want as ek lees wat jy skryf, dink ek daar is baie ouens wat jou al wou donder. En dit klink nie of jy bang is vir baklei nie.” Aldus die vorige boek.

Terug na Om na ’n wit plafon te staar: Hierdie roman handel oor ’n ou, Lourens Erasmus, wat ’n boek skryf oor ’n prof wat ’n belangrike ontdekking gemaak het. Die prof ontdek jy kan die selle in enige mens se vel stimuleer om meer van die bruin stof te produseer wat van hom of haar ... ’n swárt mens sal maak.

Dink net watter moerse probleem die ANC sal hê as ons almal môre swart is. Wie gaan dan (nie) baat by affirmative action (nie)?

Yebo, buti. Is ’n boek dié wat die swart base sal laat hik. (En Julius Malema kom lekker tweede in dié een.)

Om na ’n wit plafon te staar spot met al wat ’n polities-korrekte cliché is en vra, baie openlik, die vraag: Hoe lank gaan dit duur voor wit mense weer as gelykes gesien word in Suid-Afrika?

Verder is Lourens Erasmus baie eerlik dat hy diensplig geniet het.

Raak rof, nie waar nie? Lekker!

Dan waag Lourens dit om by ’n transformasievergadering die fasiliteerder uit te daag as dié beweer swart mense kan nie rassisties wees nie. Net wittes kan. Nóú is ou Lourens lekker warm onder die kraag.

Dink julle Jaco Kirsten se boek het al op genoeg tone getrap?

Wel, ek is nog nie eens halfpad met die lysie tone nie.

Niemand kan ontken dat Die Kapenaar, waar Lourens werk, baie duidelik die alter ego van Die Burger is nie. En die probleem is dat Die Kapenaar, en al die ander maatskappye in hierdie groep (wat vanaf die hoë gebou in Kaapstad bestuur word), al hoe meer van die geskoolde wit mense ontslae raak ...

Jackie Nagtegaal loop gereeld deur (hoewel net oor haar taalgebruik.)

Joan Hambidge (by name) word nogal met respek hanteer, maar ’n kwalik verbloemde André P Brink word ingespan om die Kaapse boekeredakteur (vroulik) goed by te kom – in die bed. (Die Brink-karakter se bona fides bly egter goed, want hy weier om aan die polities-korrekte kliek gehoor te gee.)

Selfs LitNet word, by name, betrek.

Omtrent die enigste persoon wat nie by name, of effens vermom, bygekom word nie, is Izak de Vries. Sug. Hoe irrelevant kan ’n mens nie wees nie! So irrelevant soos ’n wit man in Suid-Afrika?

Die w(W)it m(M)an is kwaad

Lourens Erasmus sê goed wat ander mense te bang is om te sê. Hy wéét hy gaan die ja-broers die josie in maak en hy doen dit met oorgawe.

Daar is ’n wit plafon bo hom, sê Lourens. En hy kan nie meer daardeur breek nie. Hy kan net daarna staar. Want hy is ’n wit man.

Lourens vra ook hoekom daar altyd die spot gedryf word met die wit polisieman, maar nie met die swart polisieman wat te ongeletterd is om ’n verklaring af te neem nie.

Ensovoorts.

En dan is daar sy roman: Transformasie-Medikasie. O, genade. Toe dit lyk of dié gaan verskyn, dans die poppe behoorlik. Al wat ’n polities-korrekte koek en kruiper is, skree ten hemele: Lourens is reaksionêr! Lourens is ’n rassis! Lourens is teen transformasie! Lourens is, aldus hulle wat sublieme rassisme ruik voor dit gebeur, seemingly, like, hoe sal ’n mens nou sê, a typical specimen wat like die goeie Afrikaanse people se naam so enormous gat maak met sy like anti-transformational rantings ...!

En so gaan dit aan. Een na die ander draai die napraters teen hom. Lourens moet gekruisig word, besluit die kruipers. Hoe durf hy praat teen dít wat verkeerd is?

Totdat ... Of, nee, ek gaan nie sê nie. Lees self.

Wat die resensente sal sê?

Omdat ons hier ’n boek oor ’n boek het, kry die verteller / skrywer lekker kans om die resensente te lóóp voor hulle nog die boek klaar gelees het.

Natúúrlik gaan die resensente, die skoothondjies van die nuwe bestel, hierdie boek afskiet, sê Lourens. Natuurlik gaan die resensente sê dis ’n irrelevante, woedende, reaksionêre teks waarvoor ons ons moet skaam. Ons kan mos nie in die nuwe Suid-Afrika toelaat dat die wit man se stem weer gehoor word sonder dat hy altyd en voortdurend ekskuus sê nie? Natuurlik nie!

Die enigste resensent wat die moed het om Transformasie-Medikasie na waarde te skat, is die vermomde Brink-karakter. En natuurlik weier die polities-korrekte koerant, Die Kapenaar, dan om die resensie te plaas.

Wat moet Izak nou sê?

Om na ’n wit plafon te staar is ’n metafiksionele teks, so hierdie resensie kan seker ook ’n metaresensie wees.

Is die boek reaksionêr? Wel, ja. Dit ís ’n reaksie op dit wat in die land aangaan. Openlik so.

Verder sou ek ook, sommer om skoor te soek (hoekom nie?), vir ’n oomblik die linkse hoed kon opsit en gou ’n paar gate in Lourens se redenasies slaan.

Lourens sê sy voorouers is nou al sestien geslagte in die land. Hy sê ook die swart mense het van die Noorde af gekom en toe die Khoi en die San verjaag. Lourens gebruik hierdie twee redenasies, asook die feit dat die wit mense ’n infrastruktuur hier kom vestig het, as ’n bewys dat swart mense nie té kwaad moet wees vir wit mense oor die verlede nie.

Wel, ou pel, enigeen wat die geskiedenis, selfs die wít geskiedenis, van hierdie land lees, sal weet ons voorgeslagte het met gewere hier ingedonder en stuk vir die stuk die land vir hulleself ingepalm. As ons dit vandag in Zimbabwe, Mosambiek, Australië of Engeland sou doen, sou ons summier voor die Wêreldhof gedaag word. Een van die probleme wat die ANC-regering in die gesig staar, is juis dat die herverdeling van grond wat afgevat is van swart mense, nét teruggaan na 1913 toe. Teen dáárdie tyd sal enigiemand wat die geskiedenis ken, sê dat swart mense reeds beperk was tot klein reservate.

Okay. Ek het my linkse eier gelê teen Lourens Erasmus (soos hy gesê het ek gaan doen).

Is Om na ’n wit plafon te staar dus rassisties? Nee. Geensins. Kyk ’n bietjie teen wie die boek gemik is. Hierdie boek se gif is gemik op mense wat weier om eerlik te wees. Die boek is nié teen ons swart landgenote gemik nie. Dit steek na wit én swart, maar net as hulle oneerlik is.

Lourens Erasmus het baie tyd vir, en empatie met, die talle swart mense met wie hy te doene kry.
 

Identiteit

Een van Lourens se probleme is dat mense die geskiedenis en hulle eie agtergrond negeer in ’n poging om polities korrek te wees.

Om na ’n wit plafon te staar handel oor identiteit. Wie is ek? Wie mag ek wees? Mag ek trots wees op my verlede?

Wanneer Lourens ’n voormalige vryheidsvegter raakloop, praat hulle dik stukke oor die oorlog, maar Lourens lieg dan oor ’n baie belangrike gebeurtenis tydens een van die ops waaraan hy deelgeneem het. Hoekom?

Net soos Lourens die verlede vir eie gewin inspan, so doen die (rassistiese) swartes dit ook in hierdie teks. Uiteindelik máák ons dus ons eie stories deur uit die verlede te neem wat vir ons belangrik is.

Jy kan ook nie Jaco Kirsten se lewe ignoreer as jy hierdie boek lees nie. Dis beslis nié ’n outobiografiese werk nie, maar die spel tussen Lourens Erasmus en Jaco Kirsten is interessant.

Kom ons kyk na die twee, rug aan rug, op ’n keper vasgemaak:

Jaco Kirsten

Lourens Erasmus

Oudvalskermsoldaat

Oudvalskermsoldaat

Was motorskrywer

Is motorskrywer

Was by groot Kaapse koerant

Is by groot Kaapse koerant

Is kort

Is kort

Het ’n roman geskryf

Het ’n roman geskryf

Daar is talle sulke speletjies in die boek ingewerk. Wees dus versigtig as julle hierdie boek lees.

Daar is óók ’n Laurens Erasmus in hierdie roman. Dié knaap is ’n gay, polities-korrekte liggewig wat vir die kunsredaksie werk.

Laurens en Lourens is twee teenpole. Die name is beslis nie toevallig gekies nie. Hier is twee kante van een mens betrokke, die donker en ligte kant, die reguit en gay-kant, die ou wat wíl maak dat die nuwe Suid-Afrika werk, en die ou wat kruip en weier om vrae te vra oor dit wat verkeerd is. Lourens weet baie van kuns af, Laurens skryf oor kuns. Lourens vra vrae, Laurens is te bang.

Die wit man in Afrika word dus mooi saamgevat in een naam wat net effens verander kan word.

Op talle vlakke speel Kirsten se roman dus die spel tussen werklikheid en fiksie, spieëlbeeld en drogbeeld. Lara Koch, Lourens se uitgewer by Orca-Uitgewers, wil byvoorbeeld ’n albino (dus wit) swart man saam met ’n kunsmatig verdonkerde (dus swart) wit man op die voorblad van Transformasie-Medikasie plaas.

En dís die punt. Oor wie se verlede moet ons praat? Wie is Suid-Afrikaners nou eintlik? Wie het die reg om vrae namens hierdie diverse groep mense te vra? Wie mag antwoord?

Kyk hoe maklik word wit mense swart in dié teks. Kyk hoe maklik verglip ’n spioen vir die veiligheidspolisie in die rol van voorprater vir die onbekwame ANC. Kyk hoe dun is die lyn tussen manlikheid en ... en, wel, wat?

Let ook op hoe sterk die vroue is in hierdie teks.

Dis ’n (reguit) roman

Om na ’n wit plafon te staar het ’n subtitel. Mooi, met hakies en al, staan dit daar: ’n (reguit) roman.

Reguit? Soos in padlangs en nie bang om mond uit te spoel nie? Inderdaad.

Reguit, soos in nié gay nie en nié bang vir die army nie en lus vir vroue? Dit ook.

Maar ook, moet ons erken, is reguit mooi weggesteek tussen selfbewuste, of dan self-bewuste, hakies.

Om na ’n wit plafon te staar is ’n (reguit) roman, ’n lekker-lees-roman, ’n kwaadmaak-roman. Jy lees vinnig, want dis spannend en jy wil weet wat gaan gebeur, maar jy moet lánk daarna na die plafon staar om die spel tussen werklikheid en fiksie, reguit en skeef, wit en swart, geskiedenis en verdigsel te probeer uitsorteer.

Dalk het ek nou ’n rum and Tab nodig, presies soos Lourens (die straight een) die hele tyd drink. (Sê nou nog dis nie ’n wáre man se Klippies en Coke nie!)

Tjorts!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top