Deur die vaal sluier

  • 0
Spekulatiewe fiksie is 'n breë letterkundige genre waarin die skrywer bespiegel oor alternatiewe tot die werklikheid soos wat dit bestaan. Wetenskapfiksie ressorteer ook hieronder. Hier deel 'n skrywer wat weens haar huidige ouderdom nie in aanmerking kan kom vir die wetenskapfiksiekompetisie vir hoërskoolleerders nie, 'n verhaal waar twee fiktiewe karakters met mekaar in gesprek tree oor hul onderskeie wêrelde.

Agtergrond

My naam is Jeanne Mariette Hugo. Ek is in 1984 gebore. Vandat ek kan onthou, praat my ma oor die feit dat sy nooit haar ouma geken het nie en voeg natuurlik by dat ek my oumas moet waardeer. By navraag en mondelinge vertellings het ek die volgende te hore gekom:

Anna van Schalkwyk, my oumagrootjie, was 16 jaar oud toe sy in 1901 in die Irene-konsentrasiekamp beland het as gevolg van die “verskroeide aarde”-beleid van die Britte. Ek is nou, in die jaar 2001, min of meer dieselfde ouderdom as wat sy toe was.

Wat my veral tref, is dat daar net twee geslagte en 100 jaar tussen ons twee lê, en alhoewel ek van haar bloed in my are het en ons volgens ons biologie-onderwyser dieselfde mitochondriese DNS het, verskil ons hemelsbreed. Tog weet ek van haar en is ek wat ek is indirek as gevolg van haar vreeslike, onmenslike belewenisse in die kamp.

Dis vir my ook ironies dat sy in 1901 vorentoe gekyk het op ’n eeu waarop ek nou kan terugkyk. Terselfdertyd sien ek uit na “myne”. Haar eeu is ’n volgeskrewe bladsy met bloedspatsels en baie veranderings, maar myne is nog ongeskrewe.

Sy is in 1925 oorlede toe sy skaars 40 jaar oud was, terwyl sy haar dertiende kind verwag het. Al die kinders het hulle swaarkryjare oorleef en vandag is daar nog vier oor.

 Kortliks lyk die geslagte, waarvan ek die jongste is, so:

  • Anna Gertruida Cristienna van Schalkwyk – gebore 8 Oktober 1885 – oorlede 6/10/1925.

Sy het getrou met ‘n man veel ouer as sy – Willem Petrus Hammann

Hulle agtste kind was:

  • Maria Gertruida Hammann (my ouma) – gebore 1 November 1919 – sy is nou 81 jaar oud.

Sy trou in 1942 met Alvan Erich Martens.

Hulle eerste kind is my ma:

  • Anna Mariette Martens – gebore 7 April 1948.

Sy trou in 1967 met my pa, Pieter Johannes Hugo.

Ek, Jeanne Mariette Hugo, is hulle vierde kind en enigste dogter – gebore 3 April 1984.

Na aanleiding van my herkoms en die feit dat ek nooit wil vergeet wat gebeur het nie, skryf ek hierdie opstel.

Bronne

  1. Tant Miem Fischer se kampdagboek – Mei 1901 – Augustus 1902 (Tafelberg)
  2. War without Glamour. Historiese rekords versamel en vertaal deur Emily Hobhouse.
  3. Mondelinge vertellings onder andere deur my ma, my ouma en tant Martha Eloff (ma van prof Fritz Eloff) wat as dogtertjie saam in die konsentrasiekamp was.

Durbanville
Naby Kaapstad
7 Augustus 2001

Liewe Anna

Ek dink jy weet waar jy nou ook al is, dat ek vreeslik baie aan jou dink, al het ek    jou nog nooit ontmoet nie. Tog voel ek asof ek met jou kan gesels oor dinge wat    met jou gebeur omdat ek my hele lewe van jou weet – al het jy nooit vir my of    my ma geken nie. Dit voel in elk geval asof jy in my onderbewussyn eggo.

Laat ek myself dus aan jou voorstel: my naam is Jeanne en ek is jou agterkleinkind. My ma is jou agtste kind se dogter. In 1901 sou jy ook nie geweet het dat jy ooit kinders sou hê nie … wat nog te sê twaalf van hulle!

Ek is hierdie jaar in my laaste jaar op skool en dit gaan dol. Ek neem kuns as vak en dit behels baie werk. Ek het drie ouer broers – twee is al getroud en ek is al ‘n tannie van twee klein dogtertjies! My lewe bestaan uit die volgende aktiwiteite: ek ry elke dag op my poegie skool toe en woon klas by van agtuur in die oggend tot byna drie-uur in die middag. Daarna ry ek huis toe of speel sport. Meestal woon ek smiddae ekstra kunsklasse by. Saans kom kuier my kêrel vir ’n rukkie voordat ek met my huiswerk begin. Naweke gaan ons na klubs of strand toe of ons kyk video’s of ons gaan stap in ’n winkelsentrum rond. Een van die dae is dit matriekafskeid en ons almal sien vreeslik uit daarna. Ek moet ook binne die volgende paar maande besluit wat ek volgende jaar wil gaan swot.  

Ek hoor dat dit bietjie anders met jou gaan? O ja! As ek goed sê wat jy dalk nie verstaan nie, moet jy vra, hoor! Ek sal probeer verduidelik.

Jou agterkleindogter
Jeanne

Irene-konsentrasiekamp
Distrik Pretoria
14 Augustus 1901

Liewe Jeanne

Die helfte van jou brief is vir my onverstaanbaar. Ek weet glad nie iets van poegies en flieks en video’s nie. Tog moet ek sê dat jou brief vir my hoop gegee het, want soos ek nou voel, gaan ek ook doodgaan en niemand gaan ooit van my en my mense iets weet nie. As jy dus sê dat jy iewers ver in die toekoms my agterkleindogter is, beteken dit dat ek wel gaan oorleef. Intussen is dit byna ‘n onmenslike stryd is om aan die leef te bly.

Ek dink nie jy wil regtig weet wat ek hier in die kamp moet beleef en ook nie van die verskriklike ding wat met my gebeur het nie. My ma en my ouma is vreeslik ontsteld daaroor en sê hulle sal my nie na die oorlog getroud kry nie. Ek sien elke dag aaklige goed: aan die einde van Julie het die kampowerhede bevel gegee dat alle siekes in die kamp na die hospitaaltent gaan. Niemand kom ooit van die tent af terug nie. Ek het gesien hoe my boetie, Albie, uit my ma se arms geruk word. Dis vreeslik. Hy wou so graag ‘n bietjie water gehad het, maar toe’s hy weggevat. Elke tent kry net een bottel water ‘n dag en dit moet ons met almal in die tent deel. Dit het op die 26ste Julie gebeur en vanoggend het ons gesien hoe sy uitgeteerde ou liggaampie op die lykswa gegooi word saam met twintig of meer ander kinders. Hy was net ‘n geraamte. My ma is onkeerbaar en rou gehuil. Daar is vyf gesinne in ons tent. Ons kry so min kos dat ons ons hande moet skoon lek om elke druppel in te kry.

Ons het gehoor dat een van die vrouens van Magaliesberg wat hier is, drie hoenders onder haar romp laat hang – koponderstebo. Snags maak sy hulle los en dan pik hulle die broodkrummels op. Sy hou haar kinders met die eiers aan die lewe. As die joiners dit uitvind gaan sy gestraf word – sy sal dalk ‘n week sonder kos moet bly. Haar seuntjie het gistermiddag so staan en spring ons het gedink ‘n slang het hom gepik, maar dit was luise wat hom gebyt het. In die beestrokke waarmee ons hierheen gekom het, het die luise al op ons begin rondkruip. Behalwe dat ons baie bid en psalms sing is dit ons tydverdryf – ons knip luise dood. Ons moet ook ver stap om hout te soek.

Ek dink nie jy wil nog hoor nie. My hart en my lyf is so seer. Die helfte van die nag slaap ek op my ma se skoot en dan ruil ons weer om. Ons mag net een matras saamgebring het. Die badjie waarin ons was, kan ons nie juis gebruik nie, want ons het nie water nie. Maar die Engelse sê ons stink. As dit reën kan ons darem water opvang. Miskien is die ergste van alles die reuke wat ons moet verduur – die dooies, die vrot vleis vol maaiers en mekaar se lywe. Eers wou ons nie die vrot vleis vat nie, maar dan kry ons ook nie brandhout nie.

Ek voel simpel as ek dink ek is jou oumagrootjie, maar as jy so sê, moet ek jou dalk glo.

Anna van Schalkwyk

Hoërskool Stellenberg
Durbanville
30 Augustus 2001

Liewe Anna

Ek kan nie glo wat jy van die kamp vertel nie! Toe ek met my geskiedenisonderwyser daaroor praat, het hy vertel dit was en is dit tot vandag toe ‘n skandvlek op die Britse koloniale geskiedenis. Maar na die Vrede van Vereeniging het die Boere onderneem om nie oor die behandeling van die vrouens en kinders in die kampe te praat nie! Ek wonder waarom ons nooit hiervan leer nie? Ons hoor van die Groot Trek en noudat die swartes die land oorgeneem het, hoor ons baie van hulle “struggle” teen apartheid. Maar wat jy deurmaak, is mos ook ‘n vreeslike stryd! Ek kan nie glo dat die Engelse hierdie kampe opgerig het nie. Is daar niemand wat julle help nie? Is daar nie ‘n plek waar julle kan gaan kla nie? Deesdae het ons allerhande wette wat elke landsburger beskerm – ons mag niks aakligs aan mekaar doen nie. Ons het nou almal “konstitusionele regte”.

Jy moet moed hou, Anna! Ek dink elke dag aan jou.

Jeanne

Irene-kamp
8 Oktober 1901

Liewe Jeanne

Ek dink dis wat die seerste maak: dat julle nie weet of omgee wat ons oorgekom het nie.

Weet jy hoe dit voel om die kampdokter te laat roep om na jou siek kind of broertjie te kom kyk en hy weier om die tent binne te kom? Kan jy dink hoe verskriklik is dit as jy besef dat die medisyne wat hulle ons gee na karbol ruik en as jy dit aan jou lippe sit, brand jou lippe gate? Dink net hoe voel dit om in die nag na ‘n donderstorm in ‘n papnat tent te lê, maar jy kan niks daaraan doen nie. Weet jy hoe dit lyk as klein kindertjies se ogies dof word? Vir my is die ergste dat ons klomp jong meisies gejaag word deur die joiners en die hanskakies en die swartes wat vir hulle werk en as ons val … Ek kan net nie vir jou vertel wat dan gebeur nie! My ma en ouma sê ek mag nooit weer daarvan praat nie. Maar as alles verby is? Ek sal mos altyd weet wat met my gebeur het!

O! Ek haat hulle!! Ek haat die surrenderers en ek haat die meelopers. Hier was darem ‘n Engelse vrou wat kom sê het sy veg oorsee vir ons. Sy vra dat ons moet vergeef en vergeet. Maar ek sal dit nooit vergeet nie en ek sal dit nie kan vergewe nie.

Ek kan nie dink dat hulle ons “filthy Boers” noem en altyd koggel “spit out that language” as hulle met ons praat nie. My speelmaat van my kleintyd, Rosina, is ook na ’n kamp toe gejaag omdat haar familie ons gehelp het.

Jeanne, ek vra jou dus: lees van ons. Onthou ons. Wéét van ons. Miskien is daar iets vir jou te leer uit die verskrikking wat ons mense getref het.

Anna

* Jeanne Mariette Hugo se ouma is in April 2002 oorlede. Jeanne Mariette is in 2009 getroud met Deon van der Merwe en hulle is kunsafslaers op groot passasierskepe. Die skilderkuns is hulle groot passie. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top