Die lewe is soms ’n tuimelreis.
Ek vleg my vingers deur manlief s'n waar hy in hoë sorg onder hulpmasjiene na asem suig. Tydens ’n kop-aan-kop botsing het iets hom bewaar van sy laaste uur. My gedagtes skommel.
Om my sien ek soveel pyn en lyding. So min mense verstaan wat werklik in hulle lewens aan die gang is. Daagliks jaag ons voort agter vleeslike wêreldse drome om gerief en status te bekom.
Elkeen van ons het ’n innerlike tuin wat gekoester moet word. Hierdie tuin is vol van Abba Vader se drome vir ons. Ons skep egter koninkryke gevul met eie begeertes en drome, selfaanbidding en -verheerliking of selfs vrees vir die onbekende.
Dit herinner my aan Sue se sielvolle brief: 'Driedimensionele onvrugbaarheid' wat hier op 20/5/15 gepubliseer is. Sou sy ’n stukkie van haar eie hart ontbloot of skryf sy bloot oor hoe depressie ondervind en waargeneem word? Kort op haar hakke volg Anna se “Skrik van die Swart hond” op 10/06/15 – en toon haar geveg teen iets duister wat soms oorweldigend oorkom. En tog spreek haar laaste paragraaf van ’n stukkie hoop, iets wat sy wil probeer, wat moontlik ’n oplossing kan bied? Ondervinding leer my dat hierdie twee eintlik net duisende ander om hulle se angsroep om hulp verwoord.
Baie mense leef ’n geheime lewe vanuit hul binnewêreld. Is nie totaal aan God oorgegee, leef in gevangenskap en bring geen lewe of lig voort. Ons harte is die Skepper se tuin. Alhoewel makliker gesê dan gedoen, moet ons leer om van eie troon af te klim en toe te laat dat Hy beheer van elke gebied in ons lewe neem.
My tuin moet nie oop wees vir kwesbare dinge nie. Ook nie ’n wildernis word, maar afgebaken wees teen die siel-van-self en duister insette. Dit verg mannemoed en ’n bonatuurlike Swaard. Want hierdie wêreld se reis en omstandighede is nie vir sissies nie. Vir die gelowige sowel as ongelowige.
Snoeiseisoene bring blomme voort. So moet ons dit insien. Manlief mag erge pyn ondervind maar is dit die ideale tyd om die lewe in heroënskou te neem. Te besef hoe kosbaar die lewe is en met groter dankbaarheid vanuit ’n hospitaalbed of depressie opstaan.
Dankbaarheid verdring vrees, werk swartgallige gedagtes teen en bou op hoop vir die toekoms. ’n Tuin wat aan ’n Hoër Hand oorgegee is en behoort. Hierin groei genade, liefde en kennis omtrent die waarheid. ’n Tuinhoekie van rus, lig en vrede waarin die Skepper hom aan die gees van self kan openbaar.
Is dit maklik? Nee. Dit vra dissipline, ’n ingesteldheid op ’n liefdesverhouding met Gods Gees en om aan die self te sterf. Dan sal die reën van Sy liefde in ons tuin neerplons.
Sterkte aan elke persoon wat ’n stryd teen depressie of emosionele pyn in die gedagtes voer. Al wat dit kan genees is ’n gesonde gees wat blom onder Gods hand. Dit bring ’n selfbeheerde siel voort en is genesing vir die beendere.
Vasbyt!


Kommentaar
Trienie ek stem heelhartig met jou saam. Soos 'n vriend van my altyd sê: "You are born wet and cold and it gets worse." Die lewe is beslis nie vir sissies nie. Gelukkig het ek 'n Anker in die lewe. Ek persoonlik dink vir die Gelowige is die aanslae van die lewe veller. Die ongelowiges het gewoonlik net een vraag en dit is hoe kan 'n "liefdevolle god" dit toelaat. Ek het op 'n stadium in my lewe ook met die vrae geworstel totdat ek 'n wilsbesluit gemaak het om my lewe totaal oor te gee. Ek sê nie ek is apaties teenoor die aanslae van die lewe nie, maar aanvaarding en berusting kom makliker. Ek is gelukkig bevry van die onsekerheid en vrees. Ek leef in volle oorgawe en in vrede.