Departement Afrikaans van die Universiteit van Johannesburg maak Skeppende Skryfwerkpryse bekend

  • 0
Kaar deur Marlene van Niekerk, uitgegee deur Human & Rousseau
Valsrivier deur Dominique Botha, uitgegee deur Umuzi

Die UJ-pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van  genres heen, toegeken. Die pryse is die UJ-debuutprys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans, met ’n prysgeld van R30 000 en die UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans, met ’n prysgeld van R75 000.

 

Die keurpaneel verteenwoordig lesers in Afrikaans betrokke by akademiese instellings en die media. Vir die 2013 UJ-pryse is 59 inskrywings ontvang waarvoor twee kortlyste bekend gemaak is.

Die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg maak hiermee graag die wenners van die 2013 UJ-pryse bekend en wens die twee skrywers van harte geluk.

Die wenner van die 2013 UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans is Marlene van Niekerk met haar digbundel Kaar.

Van Niekerk se bundel is deur die keurpaneel aangeprys vir onder andere die vernuwende en grensverskuiwende aard daarvan – nie net ten opsigte van die ontginning en uitbuiting van taal nie, maar ook ten opsigte van die genre van die poësie. Die teks en die taal is uitdagend, opwindend en verruimend.

Die wenner van die 2013 UJ-debuutprys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans is Dominique Botha met Valsrivier. Botha se vermoë om ’n Bildungsroman sonder sentimentaliteit te kon skryf, maar met deernis, humor en ironie, is veral beklemtoon. So ook die oorrompelende poëtiese kwaliteit van haar prosa.

Die keurpaneel is dit eens dat die kwaliteit van die inskrywings uitsonderlik was en dat al die titels wat op die kortlyste verskyn het, uitsonderlike boeke is en stewige kompetisie vir die wenners. Maar vir die Afrikaanse publikasie-oes van 2013 stap twee vroue met die louere van die UJ-pryse weg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top