Demensie

  • 1

Foto: Canva

Demensie

Dertig jaar terug het jy my lewe ingebruis
vreemd-bekend soos ’n Peruviaanse marinera
ek nog bogkind
blank van gesig
en naak van onkunde

Stoksielalleen het jy al my klei-osse geknak
my ore en hande was joune
jy was lig en glas
met jou kartelende sopraanlag
en vlymflits kante

Jy’t al my genies uit die boks gegrawe
vistas sonder skroom versit
muses, priesters, FW, PW en die PAC
en een voet kronies oor die kantlyn
soos Camus

Jy was geen tannie nie
jou naam was magriet
maar toe het jou drade veels te jonk
begin skuifelstap
terwyl fladders van jou ou self bly herkou
soos die wanste sin vir humor

Nou sluimer jou hele wese
in een meedoënlose skemersone
nimmereindigende verdamping in oë
nie soos willevuur nie
maar eerder ’n vetgesmeerde dief
wat jou stilweg van jou aardse sinne beroof
presies nes die dood

  • 1

Kommentaar

  • Lydia-Marie Joubert

    En steeds Magriet!
    Meer sekuur beskryf as ons biomerkermolekules vir die indringing van dié vetgesmeerde dief…

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top