Debat word volgens reëls van akkuraatheid en billikheid gevoer: ’n Beknopte antwoord op Cas Vos

  • 2

Dis raar dat ’n skrywer of vertaler in ’n reeks artikels – nogal in die derde persoon – sy werk verdedig. Nou ook trek Cas Vos teen ’n resensie deur my oor sy vertaling van Dante wat op Versindaba verskyn het, te velde. Daar is baie wat hoogs aanvegbaar is in sy essay. Dis nie minder so omdat prof Vos na homself as Cas Vos verwys nie.

Oor die leeuedeel van sy argument swyg ek vir eers (natuurlik het ek op enkele voorbeelde gefokus; ná maande se lees aan die oorspronklike teks en sy vertaling sou ek baie ander voorbeelde wat my punte illustreer, kon genoem het). Ek laat my resensie sy eie praatwerk doen.

..........
Ek laat my resensie sy eie praatwerk doen.
............

Tog is ek dit aan die debat verskuldig om een regstelling te maak, wat trouens as ’n voorbeeld kan dien van prof Vos se benadering tot akkuraatheid en billikheid in debatvoering.

Prof Vos sê onder meer soos volg:

“Meer as die helfte van Meiring se teks is afgestem op ’n ontleding van Steve Moyer se prosavertaling, wat in die eerste verwysing daarna ’n fonetiese rymfout bevat. Die vokale van rude en wood bevat nie net ’n verskil in lengte nie, maar die foneme is ook verskillend – [ru:d] teenoor [wʊd] – dit is soos om could met sued te laat rym.”           

Prof Vos fouteer hier in só baie opsigte dat ’n mens wonder of dit met opset is dat hy my argument wanvoorstel. My resensie bevat die volgende passasie:

"Baie vertalers het al hul hand gewaag daaraan om Dante te vertaal.

Sover dit Engels aangaan, werp Steve Moyer in die artikel ‘What’s the Best Way to Read the Divine Comedy If You Don’t Know Italian?’, in ’n 2017-uitgawe van die tydskrif Humanities, ’n verhelderende vergelykblik op ’n aantal pogings.

Hy weeg vertalings teen mekaar op deur die oorsetting van die eerste drie reëls van Canto I van die Inferno naas mekaar te stel …"

Dus gebruik ek – en ek sê dit in die duidelikste taal denkbaar – as sleutel vir my resensie die analise in ’n artikel wat in ’n tydskrif verskyn het, waarin Steve Moyer verskillende vertalings van Dante, in vers- én prosavorm, beoordeel. Prof Vos sou daardie artikel op die internet kon vind.

In my resensie noem ek geen prosavertaling deur Steve Moyer nie. Sover ek weet, is daar geen sodanige vertaling nie.

Ook is daardie deel van my resensie allermins “[m]eer as helfte van [my] teks”. Inderdaad beslaan my opsomming van en besinning oor Moyer se aanslag 1213 woorde uit ’n totaal van 4267. Dus: net oor ’n kwart van die totaal.

Hoe prof Vos boonop meen dat daar rym in die gewaande prosavertaling van Moyer kon wees, weet nugter. Dis inderdaad die berymde Engelse vertaling deur Dorothy Sayers wat Moyer ten eerste in sy artikel bespreek, wat die rymwoorde “rude” en “wood” bevat.

Natuurlik is daardie twee woorde nie perfekte rymwoorde nie; natuurlik sou hulle ten regte as iets soos driekwart- of halfrym getipeer kon word: die vokale is nie presies dieselfde nie. Onder meer het hulle verskillende lengtes.

Maar die menslike oor hoor hulle as iets soos ’n eggo, die een van die ander. Nes “could” en “sued”, wat in die regte konteks heel sinvol as rymelemente sou kon dien.

Dis die punt van rym: om in ’n gedig binding teweeg te bring. Daarvoor is perfekte rym nie nodig nie. Inteendeel: halfrym kan dikwels op ’n veel subtieler manier sigself aan die hedendaagse oor rig.

Prof Vos mag ontstem wees dat ek my eerlike mening oor sy vertaling gegee het, wat verskil van die baie hooggeleerdes wat dit aangeprys het.

Maar in die debat oor hierdie menings is prof Vos dit aan my, maar meer nog aan die deelnemers aan hierdie debat – ook die lesers – verskuldig om akkuraat en billik met die teenargumente om te gaan.

Lees ook:

Taal en ver-taal II: Hermeneutiese perspektief op die Inferno

 

 

 

  • 2

Kommentaar

  • Marlies Taljard

    Wanneer 'n skrywer sy werk laat publiseer, plaas hy/sy dit doelbewus in die openbare domein en stel hy/sy dit oop vir kritiek. Geen goeie literêre werk kan voortbestaan sonder die aandag van professionele literatore nie – en dit beteken behoorlike ondersoeke en NIE slegs lofprysinge nie. Geen teks is volmaak nie en literatore moet noodgedwonge, ter wille van akademiese integriteit, van mekaar verskil en dit moet in die openbare domein geskied. Jean Meiring is 'n resensent wat al by herhaling bekroon is vir die talryke resensies wat die afgelope dekade en langer uit sy pen verskyn. Ek het Meiring se resensie op Versindaba geplaas omdat ek dit beskou as 'n ingeligte en goed beredeneerde professionele meningstuk. Ander literatore het met my saamgestem daaroor. Dit voldoen aan die eise van akademiese navorsing en argumentvoering. Prof. Vos is self 'n akademikus wat behoort te besef dat hy nie bo kritiek verhewe is nie en wat akademiese tekste behoort te kan stiplees sonder om subjektief en onakkuraat daarop te reageer – soos op Meiring se resensie. Sy reaksie in die pers wanneer daar kritiek oor sy werk uitgespreek word, doen hom as skrywer geen guns nie. 'n Goeie teks sal die aanslag van resensente weerstaan en hoef nie deur die skrywer self verdedig te word nie. Skrywers wat nie kritiek kan verduur nie, behoort hulleself daarvan te weerhou om te publiseer.
    Marlies Taljard – Inhoudsbestuurder: Versindaba

  • Ek stem ten volle saam met Marlies Taljard.

    Toe ek destyds Meiring se resensie gelees het, was dit vir my opvallend hoe deurdag sy inskatting was en watter omvangryke naslaanwerk, wat as verwysings aangebied is, sy argumentvoering ondersteun. Trouens, my opmerking op daardie stadium was dat so 'n resensie 'n baken behoort te wees vir diegene wat die uiters uitdagende taak van resensering van die vertaling van 'n klassieke teks wil onderneem.

    Dit is altyd maklik vir 'n liggewig resensent om 'n oppervlakkige oorsig te doen en 'n positiewe uitspraak te maak wat eintlik niksseggend en dekoratief van aard is: dit maak geen bydrae tot die kanon nie. Dieselfde geld kollegiale lofsange van ander teoloë wat immers self nie literatore is nie.

    Om 'n gekanoniseerde werk te vertaal, kanoniseer nie noodwendig die vertaler nie: om op die skouers van 'n reus te staan, maak nie van jou 'n reus nie.

    In die geval van Danté verklaar Harold Bloom juis dat 'n goeie vertaling die tydlose teks van die bronouteur op die voorgrond behoort te plaas. Ek dink wat Vos hier doen, deur homself op die voorgrond te plaas, oortree nie alleen die ongeskrewe gedragskode van die lettere waarin hy nou probeer om homself te kanoniseer nie; dit is ook disrespekvol teenoor Danté, wie se werk hier sentraal behoort te staan.

    Vos het vir 'n geruime tyd reeds 'n reputasie opgebou dat hy altyd gereed is met 'n teenaanval en dat daar altyd gereformeerde ondersteuners rondom hom is wat sy uitsprake eggo.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top