DBO se een boek per vak per graad: Waarom is die skrywers so stil?

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

 

Nobody made a greater mistake than he who did nothing because he could do only a little. (Edmund Burke, 18de-eeuse Ierse politikus)

Die Departement van Basiese Onderwys se nuwe beleid van een boek per vak is die afgelope paar weke druk in die media bespreek. Die More Books Campaign is in reaksie op die beleidsdokument gestig en het ’n petisie1 opgestel om te protesteer teen die beleid van een boek per vak per graad. (Die petisie is by morebooks.co.za.) Teen 16 November is die petisie reeds deur 2 709 mense geteken. More Books se Facebook-blad, wat op 5 November vanjaar opgerig is, het 1 337 “likes”.

Die nuwe beleid is verreikend, en het die potensiaal om skrywers, uitgewers én leerders almal erg te benadeel en ons onderwys na ongekende nuwe laagtepunte te laat daal. Uitgewers en onderwysers het protes teen die nuwe beleid aangeteken, maar tot dusver was daar bitter min reaksie van skrywers – hoewel die beleid sal lei tot ’n drastiese vermindering in die aantal skrywers wat ’n inkomste uit skoolvoorskrywing kan verdien.

Vanaf vandag (Maandag 17 November) tot Vrydag 21 November registreer uitgewers die letterkundetitels wat hulle vir graad 10 tot 12 wil voorlê op die DBO se webwerf. Dit is belangrik dat veral literêre skrywers moet weet hoe die nuwe beleid en die voorskrywingsproses hulle raak:

1. Uitgewerye wat nie by die verpligte inligtingsessie op 4 November teenwoordig was nie, mag nie titels voorlê nie. Ek weet van minstens twee uitgewerye wat literêre titels uitgee, maar geen verteenwoordiger by die vergadering gehad het nie. Hulle skrywers  se werk sal dus nie in aanmerking geneem kan word nie. (Die vraag ontstaan natuurlik waarom uitgewerye gediskwalifiseer word as hulle nie die vergadering, waar min nuwe inligting aan die lig gekom het, bygewoon het nie. Dit lyk na onnodige burokrasie.)

2. Volgens die DBO se dokument sal slegs een boek per vak voorgeskryf word. Op die oomblik is daar drie romans waaruit onderwysers kan kies vir matriekleerders wat Afrikaans Huistaal neem; vanaf 2016 sal daar slegs een titel wees wat deur alle huistaalleerders bestudeer sal word. Net so sal daar slegs een roman voorgeskryf word  vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal ens. Dit beteken dat een skrywer in elke geval die skrywerslotto wen en geen ander skrywer ’n sent verdien nie.

3. Dieselfde beginsel geld in graad 10 en graad 11, met dié verskil dat daar in die verlede vir beide grade ’n groot aantal titels vir elke genre en taalvlak op provinsiale lyste was waaruit onderwysers kon kies; nou is daar nie meer ’n keuse nie: die departement besluit op een titel landswyd en klaar. Een skrywer wen groot; die res kry niks nie.2

4. Buiten die beperking op die aantal titels wat die voorgeskrewe lyste haal, is daar ook ’n beperking geplaas op die aantal titels wat uitgewers mag voorlê. Elke uitgewery mag slegs een titel per vak vir die fase graad 10–12 voorlê, dws nie vir elke graad nie. Dit beteken dat uitgewers ’n maksimum van drie boeke per genre per taal kan voorlê: een vir huistaal, een vir eerste addisionele taal en een vir tweede addisionele taal. Uitgewers moet dus uit al die titels in hulle katalogus wat geskik mag wees vir gebruik in skole, één roman vir die hele fase graad 10–12 Afrikaans-huistaal kies, dieselfde vir eerste addisionele taal, dieselfde vir tweede addisionele taal. Dieselfde geld vir dramas. Die DBO sal tydens die keuringsproses besluit vir watter graad ’n spesifieke titel geskik is. Weer eens wonder ’n mens waarom die keuse so beperk word. Wil die DBO seker maak dat daar so min moontlik titels voorgelê word? ’n Mens kan dit verstaan – dit sal vinniger, makliker en goedkoper wees om minder werk te moet doen aan die keuringsproses – maar is dit in belang van leerders? Buitendien, skrywers en uitgewers weet gewoonlik vir watter graad en taalvlak ’n boek geskik is en sal die boek spesifiek daarvoor voorberei.

5. Bostaande punt lei tot die vraag: Hoe definieer die DBO “uitgewery”? Die DBO maak dit duidelik dat verskillende drukname nie as afsonderlike uitgewers beskou word nie. Die kriterium is een voorlegging per “beneficial owner”. Dit kom basies daarop neer dat ’n maatskappy – al het hy tien drukname of uitgewersafdelings of uitgewersfiliale – slegs een titel mag voorlê. Skrywers wat by groot uitgewerye uitgee, word dus benadeel, omdat hulle met ’n groot aantal ander skrywers binne dieselfde maatskappy meeding om die een uitverkore skrywer se wees wie se roman of drama uit al die verdienstelike tekste in die groep gekies word om voorgelê te word.

6. Kortverhaal- en poësiebloemlesings word op dieselfde basis voorgelê, maar daar is dit minder onbillik teenoor skrywers, omdat uitgewers gewoonlik nie meer as een só ’n werk per graad en vlak ontwikkel en voorlê nie, en omdat verskillende uitgewers die regte van kortverhale en gedigte by mekaar aanvra vir opname in bloemlesings. Daar bestaan dus vir digter X teoreties die moontlikheid dat een van sy gedigte in elke bloemlesing wat deur verskillende uitgewers voorgelê word, ingesluit kan word.

Die vermindering van die aantal titels op die voorgeskrewe lyste, sowel as die burokrasie van die voorleggingsproses, is slegte nuus vir literêre skrywers. In ’n land soos Suid-Afrika met sy klein leserspubliek kan selfs ons topskrywers nie ’n bestaan maak uit hulle skryfwerk nie. Tot dusver het skoolvoorskrywing hiervoor vergoed: skrywers wie se werk in skole gebruik is, kon dikwels meer daaruit verdien as uit verkope aan die algemene mark. Nou word dit ’n geval van “winner takes all”. Vir grade 10 tot 12 sal slegs nege romans en nege dramas vir Afrikaans-huistaal, eerste addisionele taal en tweede addisionele taal voorgeskryf word. Daardie nege romansiers en nege dramaturge het die skrywerslotto gewen. Die res kry geen inkomste hoegenaamd uit die literêre skolemark vir grade 10 tot 12 nie.

Wat die proses betref: dit is ontstellend dat die hoofkriteria vir die DBO blyk te wees dat so min moontlik titels voorgelê moet word – ’n mens neem aan dit is om die proses te bespoedig, maar die gehalte van die tekste, sowel as regverdige mededinging tussen goeie literêre tekste en tussen uitgewershuise, word nie in ag geneem nie.

En dit is waarom ek vra: Hoekom is ons skrywers so stil oor die nuwe beleid? Is dit uit onkunde of uit onbetrokkenheid?

Enkele skrywers wie se werke die afgelope paar jaar voorgeskryf is:

Adam Small
Dalene Matthee
Margaret Bakkes
Reza de Wet

Eindnotas

1 More Books se webwerf verduidelik die petisie soos volg: This petition represents an official public submission to the South African Department of Basic Education from its signatories on the proposed National Policy for the Provisioning and Management of Learning and Teaching Support Material for Grade R–12, specifically in response to clause 7.7.1: one book per subject per grade.”

2 Ek moet hier byvoeg dat daar skynbaar by die “briefing session” gesê is dat daar nou twee letterkundetitels gekies gaan word: ’n “klassieke” en ’n “kontemporêre” titel. Die departement se vae omskrywing van “klassieke” titels is: werke wat vóór 1990 afspeel. “Kontemporêre” werke speel in die “Nuwe Suid-Afrika” af. Indien dit wel die geval is, beteken dit steeds dat die matriekkeuse vir romans vanaf drie na twee titels verminder word, en die wye keuse in graad 10 en 11 nou beperk word tot ’n keuse tussen twee titels.

 

Gaan terug na Poolshoogte

Uit die LitNet-argief
Poolshoogte
Skuil daar nog iets agter “een titel per vak, per graad, per taal”?
– Nicol Faasen
2014-10-21
Onderhoude
Interview: Arthur Attwell explains the impact of the South African Department of Basic Education’s proposed new policy
– Arthur Attwell
2011-06-22
PEN Afrikaans
Verklaring oor voorgestelde een-teksboek-beleid
– Kerneels Breytenbach
2014-10-17

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Leerbestuurstelsels teenoor sosialenetwerk-omgewings: die ontwikkeling van ’n geïntegreerde tegnologiese onderrig-leer-model
– Imelda Smit, Linda du Plessis
2013-02-20

Poolshoogte
Hoe gesond is die Afrikaanse akademiese uitgewersbedryf?
– Francis Galloway
2014-07-23
Seminaar
Die stand van tale aan die Universiteit van KwaZulu-Natal
– Dietloff van der Berg
2014-11-14
Skole
Suid-Afrikaanse onderwys in krisis
– Danie van Wyk
2012-08-02
Seminaar
Die s... in my jeans, Madeleine
– Izak de Vries
2004
Briewe deur die lug
Die boek in Afrikaans
– Hannes van Zyl
2000

Young Voices Conference 2004
Fix those new shoes, I'll have a guava for lunch
– Michelle Matthews
2004-11-11

Lees ook:

The South African Society for History Teaching's representative on the proposed one textbook policy

Skuil daar nog iets agter "een titel per vak, per graad, per taal"?

Interview: Arthur Attwell explains the impact of the South African Department of Basic Education’s proposed new policy

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top