David Kramer staan opsy vir die Kalahari Karoo Blues

  • 0

Geen video kan wys wat die YouTube-sensasie Johannes Coetzee werklik met 'n blikkitaar en teelepel kan uitvoer nie. Die aalwyntapper van Herbertsdale is een van die talentvolle kunstenaars wat tans saam met David Kramer en die Kalahari Karoo Blues by die Baxter-teater in Kaapstad optree.

Kramer het reeds twee jaar gelede aan die produksie begin werk. Met foto’s, videogrepe en klank vertel Kramer tussen die optredes van sy reis oor die afgelope tien jaar. Die produksie is ook 'n huldeblyk aan baie van die oorspronklike Karoo Kitaar Blues- kunstenaars wat intussen oorlede is.

Die kunstenaars neem die gehoor 100 jaar terug, toe hierdie volksmusiek ontstaan het. Kramer het met sy verwerking van Dawid van Rooi se “Pepsi-Cola”weggeval, maar die verhoog behoort hierdie keer aan die volksmusikante. “Elke aand se vertoning verskil,” sê hy. “Dis die magic van die teater. Dis nie Skouspel nie.”

Oteng Piet van Botswana speel die eensnaar-Kalahari-segaba, Ronnie Moipolai speel onderstebo kitaar en die tagtigjarige Babsi Barolong wys sy vaardighede op die fenjoro, ’n handgemaakte blikviool. Die rieldanser en koffieblik-volksanger Mary Kriel en die Sonskyn Susters (Ruth Hector en Elspeth Davids) is ook op die verhoog. Gammie Lakay (hoofkitaar), Howard Links (baskitaar) en Wildrew Maya (tromme en perkussie) sorg vir die begeleiding.

Dit is Ronnie, Oteng en Babsi se eerste keer dat hulle in 'n teater soos die Baxter optree. “Ronnie speel meestal op straat en in sjebiens in Gaborone,” sê Kramer. Hy het in 2010 'n video van Ronnie op YouTube gesien en besluit om die man te gaan soek. Dit was nie maklik nie, maar hy het tydens hierdie reis in 'n verrassende wending ook vir Bapsi ontmoet. “Ek was verbaas om te sien dat hulle 'n soortgelyke tegniek as die Karoo Blues-musici gebruik,” sê hy. “Ek het geweet Ronnie sal dieselfde reaksie as Johannes Coetzee vanaf die gehoor kry.”

Die Karoo-instrumente en dié uit Botswana het 'n soortgelyke klank. “Dit is droog en dit sleep 'n bietjie,” sê Kramer. “Hannes kan ’n groot verskeidenheid liedjies speel, maar baie volkspelers se deuntjies klink maar almal dieselfde.”

Een van die ooreenstemmende tegnieke is die optel-en-knyp-tegniek, wat verwys na die manier waarop die musici hulle kitaarsnare strem en vasknyp. Die akkoorde word beïnvloed deur die landskap en sy geskiedenis en jy kry hierdie musiek regoor Afrika,” sê hy.

Mary Kriel en Hannes Coetzee se spontane rieldans-passies sal net 'n klip nie kan laat glimlag nie. “Elkeen van die musikante se persoonlikhede verskil en ek kan sien die reaksies van die gehoor inspireer hulle om voluit te speel en dans,” sê Kramer.

Hy het die produksie van begin tot einde behartig. “Ons wou nie 'n stel vir hierdie produksie bou nie, toe besluit ek om beelde en foto’s op die agtergrond te projekteer.” Hy is ook verantwoordelik vir pragtige, kleurvolle sketse wat die Karoo- en Afrika-tonele uitbeeld.

Een van die groot stemme op die verhoog is Ruth Hector, wat reeds in 2010 Suid-Afrikaners se ore met haar vertolking van Kramer se “Calvinia” laat spits het. Weer eens bewys sy haarself as een van ons land se mees besonderse stemme. “Niemand kan die lied soos Ruth sing nie,” sê Kramer. “Dit is ‘n tipies Amerikaanse-blues-stuk en ek sou dit nooit self sing nie.” Kramer het die lied geskryf toe hy in 2001 die volksangeres Helena Nuwegeld ontmoet het. “Sy was die inspirasie. Ek het die lied geskryf oor haar armoedige omstandighede.” Dit het in sy laai bly lê tot na haar dood in 2009, toe sy tydens 'n onderonsie op die Nooitgedacht-plaas vermoor is. Hy het dit toe afgestof en so het dit aanvanklik deel van sy 2010-produksie, Breyani, geword.

Kramer het in die 1970’s reeds in volksmusiek begin belangstel. “Oor al die jare het die volksmusikante 'n groot invloed op my as musikant gehad,” sê hy. Van die manier waarop hy lirieke benader tot sy taalgebruik en sy kitaarstyl is deur hierdie musikante beïnvloed. Sy respek vir hulle talente en die kunsvorm is deurslaggewend sigbaar op die verhoog. “Ek kan glad nie met die teelepel kitaar speel nie,” bieg hy. “Dis te moeilik!”

Hy weet nie wat in die toekoms van die Kalahari Karoo Blues gaan word nie. “Mense moet verstaan dat hierdie 'n tradisie is wat eintlik lankal verby is.” Daar is nie baie musikante soos Hannes Coetzee oor nie. “Ek glo nie daar is meer belangstelling onder jongmense net omdat Hannes nou 'n plaaslike held is nie,” sê hy. “Jongmense word nou deur popmusiek beïnvloed.”

David Kramer en die Kalahari Karoo Blues. Van links: Elspeth Davids,
Howard Links, Wildrew Maya (agter op die tromme) en Ruth Hector.

Babsi Barolong en Oteng Piet.

Kalahari Karoo Blues is nog tot Saterdag 19 Januarie in die Baxter-teater te sien. Bespreek by Computicket. Kaartjies vir 'n bykomende middagvertoning (19 Januarie om 17:00) is nou ook beskikbaar.

Lees Naomi Meyer se blog-inskrywing oor die Kalahari Karoo Blues vertoning wat sy bygewoon het.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top