Datie

  • 0

Ek weet sy van is Treurnicht en dis al. Het hom al gevra hoe de hel hy aan daai van gekom het synde dit nie mooi rym nie.

Ek het hom maar so met die tyd gesien en nie gesien nie. As jong klong het hy mos maar hier ingekom. Weeskind wat deur Jan en Kenoe ingeneem is. Ook maar skool geloop soos meeste hier rond: sodra hy kan basies skryf en lees en tel en kan bereken of die kleingeld reg is kan hy maar loop werk soek. Wat Datie nooit gedoen het nie. Want hy het maar met die rowwe manne loop vrinne maak. Verkeerde vrinne is mos maar iets waarteen ons ouers ons altoos van kleintyd af waarsku. Maar Jan moet soggens nog voor die eerste voëltjie gepoep het al in die melkstal staan en Kenoe is mos maar brose ou Kenoe. Te sag om met enigeen ’n harde of teregwysende woord te praat. En hierdie hansklong het altyd slim praatjies. Want hy het mos soort van skool geloop.

Skielik op ’n dag is Datie net skoonveld. Ek vra vir Maljan en hy rol sy BB in sy koerant en praat ander goed. Later vir Kenoe en sy beduie dat Datie innie Kaap is. By een of ander antie van hom. So gaan die jare verby en op ’n dag ry ek hier in Oesterland en ek herken die loop van die kort mannetjie. En soos die gewoonte maar is kan mens mos nie by iemand verbyry nie, want jy dink terug aan die dae toe jy nog self met die voet moes loop en afhanklik moes wees van geleenthede. Die mannetjie klim in en ek herken sy gesig. Maar die gesig lyk anders. Steeds die sagte kyk maar die kyk is nou net uit een oog. En tog is daar ’n harde trek om die mond. Ek kyk sy arm en ek vra hom wanneer en hoe hy dan ’n nommer geword het. Hy beduie dat hy vroeër die week uitgelaat, of vrygelaat as jy wil, is. Ek vra hom nie uit oor sy nommer nie want ek weet en verstaan.

"Gaan jy na Jan en Kenoe toe?"
"Ja. Ek het gehoor ons oubaas is intussen oorlede."
"Ja. die ou man is weg."
"Hy het altyd ’n hart vir almal gehad."
"Hy het, ja."

So gaan die dae om en ons saag die Ozzies want die winters is koud en wat is ’n huis dan sonder ’n kaggelvuur? Ek kom uit die veld met ’n vrag blokke en ek sien die kort mannetjie met byl innie hand aan’t kloof. Ek raas met Attie want hier is nog ’n donnerse mond wat moet kos en pay kry en Attie beduie Datie maar hier aangekom het met sy byl en bloot begin hout kloof het. Wat moet hy dan nou doen want hy dog dan die man is gevra om te kom?

"Wat maak jy hier, Datie? Ek het jou mos nie gehuur nie? Weet jy wat gaan mannekrag met my doen as jy jou donnerse been afkap?"
"Ek moet werk Oester, anners gaan ek terug na wat ek was en ek willie soontoe nie."

So bly Datie maar aan al kan ek hom nie bekostig nie want hier is verdomp wil al soveel monde om voor te sorg. Ek vra vir Jannie oor die oog wat nie meer daar is nie en Jannie beduie dat Datie die oog in ’n bendegeveg verloor het. "Hulle het sy oog uitgehaal en hom net so gelos. Hy het uit die hospitaal gekom en die man wat sy oog gevat het loop doodmaak. Hulle is ’n rowwe spul die spul Majets.

Dit was nie lank nie of Datie kom hier in die Sondag met ’n vrou en kind, ooglopend nie syne nie. Ek vra hom of dit sy kind is en hy beduie dat hy maar die twee gevat het want die pa van die kind is ook "innie Kaap".

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top