Date Night skreeusnaaks

  • 0

Titel: Date Night
Regisseur: Shawn Levy          
Kamerawerk: Dean Semler
Rolverdeling: Steve Carrell, Tina Fey, Mark Wahlberg, James Franco, Mark Ruffalo
Looptyd: 85 minute
Uitreikingsdatum in Suid-Afrika: 9 April 2010

Ek was nog nooit ’n groot aanhanger van die televisieprogram Saturday Night Live nie, maar vandeesmaand het twee aktrises wat dikwels in die kort komiese sketse van hierdie program optree, gewoonlik met ’n graad van komedie wat wipplank ry, my werklik verbaas. In Away We Go, wat ook op LitNet geresenseer is, vertolk Maya Rudolph die rol van ’n vrou wat ’n baba verwag en met haar kêrel oor die VSA reis om ’n nuwe tuiste vir hulle gesin te soek. In Date Night is dit Tina Fey, beter bekend as Sarah Palin op Saturday Night Live, wat die rol speel van ’n vrou wat saam met haar man uit hulle stywe roetine van ’n weeklikse “date night” probeer losbreek.

Die gevolge is skreeusnaaks en jy sal nie tans ’n beter komedie in die teaters vind nie.

Phil en Claire Foster se lewens draai om hulle werk en kinders en snags het hulle skaars genoeg energie vir die slaapkamer. Hulle weeklikse “date night” vind in dieselfde oninteressante restaurant om die hoek plaas, waar hulle elke keer dieselfde bord kos bestel. Wanneer hulle egter uitvind dat hulle beste vriende skei, omdat hulle verveeld geraak het met hulle lewe saam, besluit Phil en Claire om ’n behoorlike aand uit in die stad te geniet.

Met hulle aankoms by Claw, ’n neus-in-die-lug restaurant in die New Yorkse middestad, begin dinge onmiddellik skeefloop, en nadat hulle hulle voordoen as die Tripplehorns, wat nie vir hulle bespreking opgedaag het nie, word hulle deur twee ongure vente verwittig dat hulle (of eerder die Tripplehorns) iets het wat aan die mafiabaas Joe Mulatto behoort. Dinge raak net vreemder soos die aand aangaan.

Carrell en Fey pas verbasend goed by mekaar en hoewel die woorde by tye duidelik nie op die standaard van die akteurs se vermoëns is nie, sorg hulle toneelspel voortdurend vir wonderlik komiese oomblikke tussen die twee. Die film wil in sy laaste tonele diep raak, maar kry dit nie heeltemal reg nie, omdat die res van die film so ligsinnig is. Hierdie ligsinnigheid is egter glad nie ’n negatiewe punt nie – ek het lanklaas so lekker gelag.

Die twee hoofakteurs se entoesiastiese spel laat die film toe om ons by hulle dikwels absurde avonture te betrek, en agter die dolle uiterlike is daar tog ’n baie gemaklike menslikheid waarmee die kyker kan simpatiseer. Ons hou van die twee karakters en solank hulle (of hulle monde) beweeg, is daar min wat verkeerd kan gaan.

Die ander akteurs in die rolverdeling is ook uiters talentvol, maar ongelukkig word hulle karakters nie voldoende ontwikkel nie. Mark Wahlberg, as die veiligheidsdeskundige Holbrooke Grant, geniet dit egter gate uit in ’n rol waar ons hom nooit met ’n hemp aan sy gespierde lyf sien nie. Ook die eenmalige verskyning van James Franco en Mila Kunis as die werklike Trippelhorns is onvoldoende – dit is rolle wat tog sekerlik binne die konteks meer ondersoek verlang.

Vir ’n produksie met soveel groot name (selfs Ray Liotta maak ’n verskyning) laat die visuele samestelling van sommige tonele die film soms in die steek. Die agterstrate van New York lyk baie kaal en stil en al die tonele in motorvoertuie het ’n kunsmatige gevoel aan hulle: Duidelik is al hierdie tonele in ’n ateljee geskiet, en dit neem iets van die storie se aanbieding weg.

Hoewel Date Night gaan oor ’n paartjie wat nie seker is watter uitwerking hulle roetineleefstyl op hulle verhouding met mekaar het nie, is dit eintlik meer gefokus op die malligheid wat volg op hulle wens om die aand spesiaal te maak. Ons hoop hulle het dit net so baie soos ons geniet, en dat hulle meer dikwels sulke lawwe besluite neem.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top