Darwinisme en die grondwet

  • 1

Angus plaas vir ons ’n artikel oor die kwessie van oorgangsfossiele. Daarin gee hy ter verduideliking ’n hipotetiese eksperiment waar hy dan ‘foto’s’ sou neem, eers van ’n mens by geboorte tot hy negentig jaar oud is, elke dag en dan van die ontwikkelende menslike embrio (vermoedelik) vanaf konsepsie tot geboorte, elke minuut.

Hier is sy eie kommentaar, waarop ek nou reageer, van die resultaat – “Nêrens in hierdie reeks het een foto verskil van sy voorganger of die foto na hom nie, maar tog, as die eerste foto met die laaste vergelyk word, is daar ’n yslike verskil. Die eerste is ’n baba en die tweede ’n ou man” en “nêrens in die reeks was daar ’n foto wat verskil het van die vorige of die een daarna nie. Tog is die eerste foto dié van één sel, terwyl die laaste een die foto van ’n baba is” en “So het die mens oor miljoene jare geëvolueer vanaf spons tot mens. Tussenin het daar so hier en daar ’n “foto” gefossileer, wat dan as “oorgangsfossiel” bekend kan staan”.

Hy maak dan die verbasend insiglose gevolgtrekking dat die mens eers ’n spons was (die eenvoudigste lewende waterorganisme wat vandag nog in die waters voorkom) en via vis, aap tot mens geëvolueer het.

Daarin eggo Angus die deursnee darwinisties evolusionêre credo.

Afgesien van die onbewysbare, hoogs spekulatiewe aard van die bewerings, wat geensins op wetenskap neerkom nie, maar eerder op sekulêre religieuse filosofie (as teenvoeter vir die Christelike Godsdiens waar God Homself as die Skepper openbaar – want as dit veronderstel was om wetenskaplike hipotese te wees, slaag dit ook nie, want dit kan hoegenaamd nie bewys word nie) is dit ook gewoon nie korrek nie. Fetale ontwikkeling is lewe. Lewe (fetaal) word nie onderbreek nie en kom in daardie sin op geen stadium tot ’n einde nie maar ontwikkel elke sekonde, Dus, as ’n detail foto geneem kon word van die fetus elke minuut, sou daar in die detail van ontwikkeling duidelik gesien kon word hoe die selle toeneem en vorm volgens ’n vaste patroon – dié van mens. Uiteindelik word die mens gebore.

Só ook mutatis mutandis met die vis. Só ook met die aap.

Wat Angus ook nie besef nie, is dat sy voorbeeld, afgesien van sy foutiewe weergawe van wat werklik gebeur, ook nie op sy wilde hipotese van toepassing, dat die mens ontwikkel het van spons-vis-aap-mens, nie. Hy sou vir ons ’n ander lewende voorbeeld moes kon gee, om uit te beeld by wyse van foto’s (werklikheid) dat dié selletjie ontwikkel na vis dan aap dan mens, met alles tussenin soos die darwinistiese evolusionis dit mos graag wil hê. Maar hy kán geen werklike voorbeeld noem nie, want soiets bestaan nie en het sekerlik nog nooit bestaan, nie. Die oneerlike darwinistiese bioloog Haeckel het dit probeer, maar sy bedrog is vroeg al as sulks uitgewys (alhoewel daar beweer word dat Haeckel se bedrog steeds in sommige skole studiemateriaal is wat dit in hul skoolhandboeke vir niksvermoedende kinders opdis).

Angus se voorbeeld is van ’n bevrugte eiersel van ’n mens wat ontwikkel tot menslike baba en dan as mens oud word – onmiskenbaar mens. Nie soseer net oor wat die kamera kan aantoon nie, maar juis wat die kamera nié kan aantoon nie – die DNS inligting wat die ontwikkeling tipeer, beheer en reguleer. Onmiskenbaar dié van ’n mens. Geen teken van ’n vis of aap nie – en dié uniekheid lê juis van meet af aan in die verskille tussen die DNS samestelling van mens, vis en aap, ens., opgesluit. Dit is die spesifiek ontwerpte verskille, nié die ooreenkomste nie, wat van mens, mens maak; van vis, vis en van aap, aap, ens.

Dus, hoe kán Angus die stellings maak wat hy maak? Hoekom ignoreer hy die binnewerk van die fetus, die ontwerpplan? Omdat, indien hy erkenning daaraan sou gee, sy eksperiment ontbloot word vir die misleidende, onware onwetenskaplike gemors wat dit is. Hoe kan hy, as volwassene, dit as wetenskap wil uithou? Hy kán nie. Wetenskaplikes erken dat hulle nie kan bewys hoe die uiters komplekse DNS in die eerste plek lukraak kon ontstaan nie. Hulle spekuleer baie en wild daaroor, maar geen bewyse bestaan vir die darwinistiese evolusionis, nie - als deel van hul religieuse filosofie.

Maar dit is Angus en ander soos hy, waarvan ’n klomp ook in die akademie poste beklee, se geloof, hulle religieuse filosofie wat op selfbedrog funksioneer en daarom word dit bedrieglik met ’n kleed van wetenskap aangebied sodat dit onder die waan van biologiese wetenskap, afgedwing kan word op niksvermoedende skoliere en studente – ’n religie waaraan deelname nie vrywillig is nie, maar met sanksie besoek word as dit nie aangehang word nie – sanksie ja, want skoliere en ander studente druip as hulle dit nie slaafs wil navolg nie en dit affekteer hulle akademiese toekomsverwagtinge direk!

Dit is immoreel, Goddeloos … én ongrondwetlik! Die grondwet beskerm die mens se waardigheid (darwinistiese bewerings oor die herkoms van die mens is vir meeste ’n gruwelike onwaardigheid en belediging), vryheid van uitdrukking en kulturele, religieuse vryheid en assosiasie.

Tyd dat daar iets aangedoen word.

Groete,
Kobus de Klerk

  • 1

Kommentaar

  • Hallo kobussie

    Het jy al antwoorde op hierdie twee vragies?

    1. watter organisme het die meeste "genetiese inligting"; 'n hoender of 'n krokodil?

    2. Hoe meet jy die hoeveelheid "genetiese inligting" om te kan bepaal watter organisme het die "meeste genetiese inligting"?

    Onthou, jy was die een wat die bewering gemaak het van 'n vermeerdering in "genetiese inligting".

    Kleinkoos

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top