Titel: Dark windows
Outeur: Louis Greenberg
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415206874
Koop Dark windows by Kalahari.com
Op ’n Saterdagoggend mis ek my vlug huis toe omdat ek hierdie boek tien meter van die vlughek af sit en lees en vergeet van die wêreld om my. Maar is dit die moeite werd om jou vlug vir Dark Windows te verpas?
Ek hou daarvan as ’n boek ’n goeie invalshoek het, en Louis Greenberg se tweede roman het dit beslis: Johannesburg het verander. Die plek is klaarblyklik misdaadvry en ’n New Age-georiënteerde politieke party, Gaia Peace, is aan bewind. Op die oppervlak lyk alles kalm en onder beheer, maar dan begin die rimpels van opstande die vrede bedreig. ’n Geheime projek neem in hierdie tyd sy loop: Jay Rowan verf vensters van vertrekke waar mense gesterf het, swart. Vyf van hierdie vertrekke is nodig vir die besoek van bonatuurlike entiteite – die sogenaamde Aankoms wat deur die mistikus Ramnath Radhakrishnan voorspel is.
Dit is genoeg om enige liefhebber van spekulatiewe fiksie regop te laat sit. Goed dan, die flapteks noem dit ’n literêre riller. Wat ook al die genre, ’n storie soos hierdie se doel is om die leser te vermaak.
In sekere opsigte slaag die skrywer hierin, maar in ander nie.
Die omgewing is grootliks bekend, maar Johannesburg word gestroop van sy gewelddadige identiteit en gejaagdheid. Daar is ’n goeie mengsel van karakters: mense met donker verledes, mense wat hoop op ’n beter toekoms, mense wat tevrede is met die huidige bestel, mense wat geheime aan die lig wil bring. Saam met die gemaklike skryfstyl klink dit na ’n wenner.
Maar tog is iets fout. Die spanningslyn voel te effe. Ek was maar te dankbaar toe daar ’n aardbewing kom sodat daar net iets meer kan gebeur as vensters verf en verduidelikings gee oor die veranderde Suid-Afrika. Tydens die lees het George Orwell se 1984 by my bly spook. Orwell se boek gaan nie net om idees nie, dit gaan om gróót idees. Greenberg se idees is maar lig in die broek. Die sterkste is seker hierdie een: “Protest is positive when it’s against something negative.”
Soos in Orwell se boek is daar ook herbenoemde staatsdepartemente: Ministry of Peace, Ministry of Love, en meer in 1984; Ministry of Wellness en Social Harmony in Dark Windows. Waar Orwell se wêreld die Thought Police inspan om die mense te beheer, kry ons by Greenberg net doodgewone polisie wat nie regtig nodig is nie, want daar is mos nie misdaad nie. Hospitale word Wellness Centres, maar verpleegsters bly blote verpleegsters. ’n Mens sou dink dat ’n New Age-regering soos in die boek beskryf, aan hierdie staatswerkers ander postitels sou gee om by die nuwe tydsgees te pas. Die gebruik van die term “recommunion” vir ’n sterfte is weer heeltemal in pas met die tydsgees.
Plek-plek skryf Greenberg belangrike tonele mis. ’n Karakter Kenneth Lang vlieg jare lank onder die radar soos regerings wissel. Hy het sterk kontakte en word vertrou met die Dark Windows-projek. Sy ontnugtering behoort ’n belangrike toneel in die roman te vorm, maar daar word slegs kortliks hierna verwys: “He walks out of the ICU, removes from his briefcase a bin liner containing the smashed parts of his cellphone and laptop and drops it down the incinerator chute. When he left his office, he erased the markings from the laminated map on the wall and removed the pins. There was nothing else there he couldn’t leave behind, nothing that he cared to take with him.” Hierdie dramatiese oomblik raak byna weg in die verhaal.
Daar word heelwat gewag gemaak van die revolusionêre organisasies Out of Our Minds en Right to Fight, maar uiteindelik kom daar nie veel van nie, en die spanningslyn raak floutjies weg in die laaste tonele terwyl ’n vroeëre voorspelling in die boek, “The ... father will eat his children [in fear/in envy]”, glad nie weer ter sprake kom nie. Dit laat mens wonder of die skrywer ’n opvolgboek beplan.
Wat ook al, ek is spyt ek het nie daardie vlug huis toe vir ’n beter boek gemis nie.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

