Dans Dans Lisa se musiekvideo vir "Die ouer ek"

  • 0

Click here to read the English version.

Die Sanlam Sing’it-liriekskryf-kompetisie se 2011-wenliedjie spog nou met ‘n musiekvideo. Die musiekvideo het onlangs op MK (DStv-kanaal 324) begin draai en is ook op YouTube beskikbaar.

LitNet het in 2011 die eerste keer hierdie kreatiewe liriekskryfkompetisie saam met Sanlam as hoofborg, MK en nege van ons land se top-groepe en -musikante geloods om Suid-Afrikaners, en veral jongmense, aan te moedig om te begin om hul drome te verwesenlik. Nadat meer as 1 600 inskrywings ontvang is, het Bittereinder, Dance You’re on Fire, Dans Dans Lisa, DJ Cleo, HHP, iScream & the Chocolate Stix, Jax Panik, Karen Zoid en Niskerone & SFR elk hulle gunsteling-lirieke gekies en opgeneem. Al nege snitte kon toe gratis van LitNet afgelaai word, en die mees afgelaaide snit is met ’n musiekvideo daarvoor beloon.

Sing ‘it gee Suid-Afrikaners die geleentheid om hulle kreatiwiteit uit te druk op ’n manier wat hulle bemagtig, deur die erkenning en beloning van hulle talente,” sê André Kearns, bestuurder: borgskappe by Sanlam.

’n Droom het ook waar geword vir Pierre Smith toe sy inskrywing, “Die ouer ek”, deur die popgroep Dans Dans Lisa gekies is om te toonset. Boonop is dié liedjie uit die nege oorspronklike snitte deur van Suid-Afrika se top-kunstenaars as die publiek se gunsteling aangewys en het dit ook die MK-musiekvideo gewen.

“Ek was weggeblaas toe ek die eerste keer hoor my song is deur DDL gekies om op te neem, en nou nog beter dat daar ‘n video daarvan gemaak is. Nooit gedink dat om my gedagtes neer te pen oor die lewe, sulke geleenthede gaan skep nie, en boonop is dit saam met goeie ouens soos Bouwer en Deon,” het Smith, wat in Somerset-Wes woon, reageer.

Dans Dans Lisa bestaan uit Bouwer Bosch van Straatligkinders en Deon Meiring van Glaskas. “Ons is mal oor die video. Dit is altyd lekker om deel te wees van iets wat nog nie gedoen is nie en hierdie video, wat afspeel in die ‘80's, is so goed afgerond. Dit was vir seker die lekkerste video shoot waarby ons nog betrokke was,” meen Bosch en Meiring. “Die woorde en musiek het net perfek vir ons by mekaar gepas. Net soos die video by die liedjie doen.”

Stacey Howell en Helen Paige van Motion City Films was die regisseurs van die musiekvideo. “Ons is baie trots op hierdie video,” sê hulle. “Om die regie vir hierdie projek te doen was interessant, aangesien die meerderheid daarvan improvisasie was. Dis die lekker ding van hierdie tipe verfilming, mens word konstant verras deur wat jy kry.”

Met Sanlam Sing ‘it bemagtig LitNet en Sanlam Suid-Afrikaners deur ‘n skeppende en uitdagende platform te skep waarin mense hul kreatiwiteit kan uitleef. Nuwe skryftalent word ontdek en beloon.

“As ’n eg Suid-Afrikaanse maatskappy erken Sanlam die belang van ons kulturele diversiteit en die viering van kreatiwiteit deur die skepping van plaaslike kulturele inhoud. Sanlam is trots daarop om die borg van verskeie kulturele projekte te wees, ten einde Suid-Afrika se ryk en diverse kulturele geskiedenis vir toekomstige generasies te bewaar en te bevorder,” het Kearns ook gesê.

Na die sukses van die eerste Sanlam Sing ‘it-kompetisie is planne vir vanjaar se kompetisie reeds in volle swang en inskrywings open binnekort. LitNet se Sing ‘it-projekbestuurder Gerdus Senekal stel ‘n groter en nóg beter kompetisie in die vooruitsig vanjaar. “Na verlede jaar se sukses het ons besef dat die uniekheid van Sanlam Sing ’it uitstekende groeimoontlikhede inhou. Die kompetisie spog vanjaar weer met top-kunstenaars, terwyl die pryse vir die liriekskrywers groter is.”

Hou die Sing 'it Facebook-blad dop om op hoogte te bly – en begin solank lirieke skryf. Dis waar dit begin!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top