Dana is Weg: 'n Ondersoekende skrywe oor 'n soekende skrywer

  • 0

My foon lui en ek doen wat ’n mens gewoonlik doen as jou foon lui. Nee, ek tel nie op nie. ’n Mens doen dit lankal nie meer nie. Wel, ek tel die foon op, maar dis nou die hele selfoon. Ek druk die groen knoppie.

“Hallo, dis Naomi van LitNet hier,” sê die masjien in my hand en skielik verlang ek na plaaslyne. Nou nie dat Naomi of LitNet so argaïes soos drie kortes en ’n lange is nie, dis maar net skielik die moderne stuk tegnologie in my hand wat my laat terugdink.

Hoekom nóú skielik, weet ek nie, maar dit laat my terugverlang na die koshuisdae toe Ajee nog op Valleiplaas tussen Sannieshof en Biesiesvlei gebly het. Partykeer vakansietyd as ek terug is in Johannesburg, dan bel ek hom. Wel, ek bel eers Biesiesvlei se sentrale. Dan antwoord so ’n lekker tannie (as ek reg onthou was sy tannie Mien, die kampioen-koeksisterbakster van die NG Kerk).

“Hallooo Biesiessss.”

Die "Hallooo” was eentonig uitgerek en die tweede "ie" van “Biesies" het so ’n halwe sangerige noot opgegaan voor sy klaar gemaak met die "sssss" lank uitgerek en terug by die "Hallo" se eentonigheid.

“Drie twee drie een asseblief,” sê ek dan vir haar, die nommer van Ajee Cronjé.

“Die Cronjés is nie by die huis nie, hulle kuier by die Smitte op Groenkloof. Ek lui daar ...” Ek dink sy het, toe ’n outomatiese sentrale geïnstalleer is, vir die Nasionale Intelligensiediens gaan werk.

“Hallo Naomi van LitNet,” sê ek toe maar vir die moderne stukkie masjien in my hand.

“Ek wil weet of jy nie asseblief ’n resensie oor Dana Snyman se nuwe boek, Op die agterpaaie, wil skryf nie?” sê-vra Naomi.

Skielik wonder ek of ek ’n voorgevoel gehad het. Dalk is dit hoekom ek skielik na plaaslyne begin verlang het. Want Biesiesvlei en Sannieshof en tannie Mien is mos Dana se kos. So ook Richmond, Alldays, Baardskeerdersbos, Paternoster. Die Bosveld, Soutpansberg, Drakensberg, Moordenaarskaroo, Groot Karoo, Klein Karoo, Tankwa-karoo, die Koup, Die Koo, die Kamdeboo, die Hantam, Tsitsikamma, die Roggeveld, Richtersveld, Weskus, die Rûens, Overberg, Molopo, Gordonia, Namakwaland, Swartland, Boesmanland, die Laeveld, die Hoëveld, Sandveld, Strandveld, Vrystaat en Lesotho.

En dit was Jaar Een. Hy het nou al 80 000 kilometer agter stories aangery. Ek hoop almal koop sy boek, want die man se petrolkaart moet beroerd lyk.

Dana kan ’n storie skryf. Punt. Want Dana is ’n nimmereindigende storie op sigself. Soos die dag met Op die agterpaaie se bekendstelling in Pretoria. Die plek was vol. Almal was daar. Onder andere ook Bacchus Nel en sy gidshond. Dié hond is goed geleer en as Bacchus stilstaan, gaan lê hy. Die probleem was dat niemand die hond kon sien nie en kort-kort struikel iemand oor Bacchus se oë.

Skielik verhef Bacchus sy stem. “Kan julle nie kyk waar julle loop nie? As iemand nou weer oor my hond struikel ...” dreig hy.

“Maar Bacchus, jy’s die een wat blind is,” antwoord Dana droog.

Soos die een aand by Inniebos in Nelspruit twee jaar gelede. Ons het almal by Planters, Marius Bakkes se koloniale restaurant, gekuier. Dana wou in dorp toe en Annemarie Marais was op pad in haar klein 1400 Nissan-bakkie. Sy had ongelukkig reeds twee ander vroulike passasiers, maar Dana is boonop nog ’n jintelman ook. Hy sal agterin sit.

Die drie dames het voorin geklim en skielik het die bakkie begin skud en wieg op sy vere. Vervaard klim Annemarie uit en kry vir Dana halflyf deur die venster van die bakkie se kappie. “Wat máák jy, Dana?” wil sy weet, dik van die lag toe hy sy voete eindelik weer op die grond het.

“Ek klim in!”

“Hoekom gebruik jy nie die deur nie?”

“O? Jou bakkie het ’n agterdeur? Myne het net voordeure.”

Annemarie gaan sit met haar rug teen ’n boom en lag. Almal by Planters is al op die been. En lag. Dana stap terug restaurant toe, skink vir hom ’n dop vonkelwyn en lig dit omhoog.

“Fok lag!” sê hy en sluk.

Dis baie spesiaal vir my om iets oor Dana se boek te kan skryf. Want eintlik was ek en Dana mos lank "vyande".

Kom ek verduidelik.

Ek was redakteur van Mooiloop, wat in baie mense se oë Weg se opposisie was. Tog het ek vir Dana lank voor Mooiloop al geken. Ons het baie gepraat oor reisskryf, ons albei se passie. Voor Mooiloop het hy raad gegee. Na Mooiloop begin het, het hy steeds raad gegee, komplimente gegee. Toe die nuus breek dat Mooiloop gaan toemaak, het ek hom by ’n funksie raakgeloop. Hy het sy arms op my skouers gesit. “Dis nie reg nie, Bra,” het hy gesê. “Maar alles sal regkom. Jy bly op die toneel.”

Hoe ook al, LitNet het my gevra om ’n resensie oor Op die agterpaaie te skryf en ek bel vir Dana. Hy stel my in kennis dat hy in sy nuwe plek in Jacobsbaai is. En ek is welkom.

“Watter straat bly jy in, Dana?”

“Ek weet nie wat’s die naam nie, dis in elk geval heeltemal te fancy ’n naam vir ’n plek soos dié. Maar jy sal my bakkie sien. Hy staan voor die deur. En hy sal daar bly, want die sleutel is weg.”

Maar toe ek daar kom, is die bakkie weg. Dana is weg. Want Dana is Weg.

Tog hoef ek niks oor Dana se boek te skryf nie. Ek som dit op. Kortweg. Ek haal die laaste paar reëls van sy naskrif aan:

Ek is familie van ’n luiperd en ’n mamba en al die donkies in die Colesberg-distrik. Ek is boegoe en soutbos en tambotie, kaiingklip en tieroog en tanzaniet. Ek is die Limpopo en die Gariep, die Zambezi, die Kongo en die Nyl, want ek het ’n Rubicon in my hart oorgesteek.

Ek is ’n Afrikaan.

Op die toneel, Bra.

Op die agterpaaie
Dana Snyman

Uitgewer:
Tafelberg
ISBN: 9780624043522
Formaat: Sagteband

Bladsye: 228
Prys: R127.50

Klik en koop

Op die agterpaaie
Dana Snyman

Dana Snyman, seker Suid-Afrika se gunsteling-reisskrywer, beskryf sy eie lewensreis en die ongebaande weë waarop hy hom al begeef het. Dana soek na die ware Weskus, kuier by die Karoo se karretjiesmense, jaag pylreguit deur Boesmanland, sit in Lutzville se kroeg, en ry selfs ’ n Harley – op Colesberg. Uiteindelik gaan hy huis toe, in sy Valiant, en herkou aan die lesse van die langpad. Heerlik vermaaklik, dog diep menslik.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top