Dalk is dit nuus

  • 0

Êrens in die wye Kaap slaap daar vanaand ’n motortjie of dalk ’n mens of ’n dier onder ’n seil wat nie aan hom, dit of haar behoort nie.

My openingsreël hou nou nie juis besondere nuuswaardigheid in nie, maar dit was tog die wekroep wat my sluimerende kwelling oor vrae met én sonder antwoorde vandag nodig gehad het …

Die werklikheid waarin ons lewe, is dat daar ontelbaar baie nuuswaardige dinge elke oomblik van elke dag in ons lewensruimte ingepomp word. Laasgenoemde is op sigself nie aardverwarmende nuus nie. 

Die ander werklikheid is dat daar nie een oggend of ’n aand is wat ek en die geliefde nie ’n meestal nuttelose nuusopskrif met mekaar deel en soos vername ontleders, sonder antwoorde, strompel om kommentaar oor  “21 mynwerkers het hierdie jaar al gesterf; drie plaasmoorde binne 26-uur; Zetler se moord; ‘n vermiste tienersokkerspan in Thailand; Ashwin Willems ... Roger Federer … Julius ....” en die kuberkrakers en die geldwa-rowers en … ons kind se kar se seil wat vannag gesteel is, te lewer nie!

Vir ’n aantal maande is dit asof ek net nie die gedagtes wat normaalweg redelik gemaklik en gereeld in my gemoed rondwip, kan vastrek en neerpen nie.

Ek het soms getwyfel of dit werklik ék was wat die lawwe opstelletjies en ander goedjies die afgelope sewe, agt jaar geskryf het en of dit nie maar net ’n stowwerige herinnering aan ’n tydelik beheptheid met gevoelens en sulke goeters was nie.

Ek het soms net na my gedagtes gesit en staar en probeer sin maak uit die absolute gebrek aan skryflus, om selfs nie eens van die afwesigheid van ordelike denke te praat nie!

Ek het meer as telkemale die afgelope maande kriewelrig voor my eie oordeel geswig en sake-, mense- en geestesgoeters laat verby seil sonder om ’n stap nader aan my eie ervaring daaroor en daarvan te gee.

Dit is en was ’n toestand wat my gefrustreerd en hartseer en befoeterd laat; ’n toestand wat my herinner aan die dae toe ek die krake toegestop het, eerder as om dit oop te krap en te wys; ’n toestand wat sekerlik nie sonder rede ontwikkel het nie en waaraan iets gedoen kan word.

’n Ruk gelede het ’n ander kerkmens se beskouing, dat skrywers soms die mag van die pen misbruik om agter te skuil, my nogal onkant betrap, amper soos ’n nommer 10 wat beide die  flanke en die bal gelyktydig teen sy bors moet vang!

Onderstebo sê ek jou.

’n Keerpunt in my soeke na skriftelike lus was egter toe ’n sosiale blad se vriend die afgelope naweek Martin Luther aangehaal en met ’n onbeplande insetsel en so die struweling in my gedagtes na ’n slotsom help vervoer het met:  “As jy die wêreld wil verander, tel jou pen op en skryf.”

Dít is wat joernaliste die wêreld en internet vol doen. Elkeen wat ’n rubriek of ’n artikel oor die een of ander leeswaardige gedagte/gebeurtenis/persoon/land/span of planeet kan skryf, doen so en elke uitgewer op elke nuusplatform en publikasie gryp dit, betaal dit en versprei dit.

Die een wat die nuus vinniger en verder kan versprei wen die resies vir ’n oomblik, tot die volgende oomblik wanneer die volgende nuusberig die wêreld tref asof dit die tol van die bol wil tilt!

24 uur van elke dag en elke keer wanneer ek my slim-foon optel, die rekenaar oopmaak; tydig en ontydig, genooid en selfs ongevraagd.

Die nuus is voor my aangesig, ek sien dit, lees dit, glo dit … daar tussen my gemoed en my gedagtes dring die nuus hom in en soos die einste nommer 10, skop die nuus die wil vir iets meer en beter die pawiljoen in.

Weg was my behoefte om ’n “wêreld te wil verander” en weg was my oortuiging om bo die swaartekrag van ons omstandighede uit te beur en my selfverloëning te keer, om die “pen” op te neem, om die gedagtes wat tussen my “hart” en “verstand” vasgevang sit uit te kry, al is dit net vir myself.

Vriend Jannie het baie jare gelede vertel hoe hy die nuusdraers van daardie dae, dit is: koerante en die draadloos en die insypelaar van die gesinstyd, daardie  telekommunikasiestelsel vir uitsaai en ontvangs van bewegende prente, oorwegend uit- en afgeskakel het. Hoe hy sy tyd en gedagtes eerder op die dag se beter prioriteite en sy mense leer bestee het; en Jannie is reg.       

Die beswaarmaker-saamlesers sal beslis nou te velde kan trek en standpunte rondslinger dat “’n mens moet weet wat in die wêreld aangaan” en  dat “net ’n volstruis sy kop in die sand druk” en hoop dat die gevaar sommer self sal weggaan. 

Elke denker en volgeling van die nuus sal uiteraard suiwere waarheid in hierdie argument vind, behalwe ek.

Ek wíl weet wat in die wêreld aangaan, wanneer ek verkies om te weet; ek wil ingelig en bekommerd raak oor die nuusopskrifte en moorde en dit en dat, sonder dat dit my besonderse denke daagliks verswelg. Ek wil my gedagtes daaroor brei en giet in ’n vorm wat my pas, sonder voorskrif of ’n ander se beheer.  

Op neef Philip se koffietafel het daar altyd ’n beeld-afdruk van “Die Denker” gestaan – miskien staan dit steeds daar, ek weet nie.

Die krom kaal manlike figuur sit peinsend oor sy hand en staar; diepdenkend en vir my ’n versinnebeelding van hoe kwesbaar ’n mens onder die kwelling van vrae met én sonder antwoorde kan wees; hoe kwesbaar ’n gemoed teen die aanslag van die nuus kan wees.

Dalk is dít tóg nuus.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top