Dalk het ons nog tyd
om te wees en om regverdig te wees.
In die trant van dit wat verganklik is,
het die waarheid gister gesterf
en hoewel almal dit weet
steek almal dit weg:
nie een het blomme gestuur nie:
dit is al dood en niemand huil nie.
Dalk tussen die verleentheid en die vergetelheid
’n rukkie voor die begrafnis,
sal ons die kans hê
van ons dood en ons lewe
om uit te gaan van straat na straat,
van see tot see, van hawe na hawe,
van bergreeks na bergreeks,
en bowenal van man tot man,
om uit te vind of ons dit doodgemaak het
of andere dit doodgemaak het,
was dit ons vyande
of ons liefde wat die misdaad gepleeg het,
omdat die waarheid klaar dood is
kan ons nou regverdig wees.
Vroeër moes ons ’n geveg opsit
met wapens van onsekere kaliber
en, deurdat ons onsself gewond het, het ons vergeet
waarvoor ons aan die veg was.
Nooit is daar geweet wie s’n dit was,
die bloed wat ons omhul het nie,
ons het sonder ophou beskuldigings geslinger,
en sonder ophou is ons beskuldig,
hulle het gely, ons het gely,
en toe hulle die oorwinning behaal
en ons ook self gewen het,
het die waarheid al gesterf
weens oudheid of geweld.
Nou is daar niks te make nie:
ons almal het die stryd verloor.
Dus dink ek miskien
kan ons eindelik regverdig wees
of eindelik kan ons wees:
ons het hierdie allerlaaste minuut
en daarna ’n duisend jaar van glorie*
om nie te wees nie en om nie terug te kom nie.
* Blykbaar is dit Voltaire wat gesê het dat ’n minuut van geluk meer werd is
as ’n duisend jaar van glorie. Dankie aan Sven Tarp vir die verwysing. WG
(Vertaling van "Tal vez tenemos tiempo" deur Pablo Neruda uit Memorial de Isla Negra, 1964)

