Ek kan skaars glo dat ek eens 'n kind was wat lustig rondgehardloop en gespeel het, en 'n jongman wat nagklubs toe gegaan en jolig gedans en gedrink het tot die son opkom.
Vandag is ek bejaard, my bene is styf van die artritis en my skouers pyn as ek my draai. Dis asof ek 'n ander mens is. In elke fase van jou lewe is jy 'n ander mens wat anders dink en doen. Soos oor jou lewensfilosofie en politiek. As jong mens het jy skaars ooit ernstig oor dinge gedink, deesdae peins ek dikwels oor die sin van die lewe. Maar ek moet erken ek vind nie juis oplossings vir die vraagstukke wat my kwel nie. Ook oor politiek: jy besef vandag eers dat apartheid baie mense leed aangedoen het. Vroeër het jy skaars daaroor gedink. En jy wonder wat die toekoms vir die land inhou, met al die woelinge wat aan die gang is. Bo-op staan die vraag vir my wat van ons taal gaan word, ons is maar 'n klein peloton teen brigades Engels.
Die omstandighede in die land het drasties verander van waar dit, sê veertig jaar gelede, was. Dis amper soos, maar nie dieselfde nie, om na 'n ander dorp of stad te trek, waarvan ek heelwat ervaring het. Groot aanpassings word van jou en van almal vereis. Handomkeer kan dinge verkeerd gaan en katastrofale gevolge hê.
Is daar inderdaad ander dimensies hier in en om ons? Het ons in 'n ander dimensie geleef in die apartheidjare? Was ek as klein kind in 'n ander dimensie as toe ek bv dertig jaar oud was? Want so verskillend is dit, klein kind teenoor volwassene, dat dit verskillende wêrelde kon gewees het.
Soos jy ouer word, die bejaardheid in, kom die gedagte aan jou sterfte ook meer na vore. Is daar 'n hiernamaals en verdien ek om daarheen te reis oor die Jordaan? Het ek in alle opsigte reg gelewe en aan al die vereistes voldoen wat al die kerke en sektes aan jou stel? Is dit moontlik om so perfek te leef?
En as daar nie 'n hiernamaals is nie, was al my strewes en arbeid in hierdie lewe dan verniet. Ek was maar 'n gewone werker en laat geen groot kunswerk of groot bouwerk agter vir die nageslagte nie. Was dit dan alles tevergeefs?
Anderdag droom ek weer oor hierdie dinge.


Kommentaar
Beste Tiens
Jy het groot geword saam met my en talle ander in 'n tyd toe motors nog nippels gehad het.
Voordat lesers nou allerhande gedagtes ontwikkel en webvoet dit onder hyg-afdeling plaas, praat ek hier van ghriesnippels.
Ons ouers het geglo as 'n kar nie die nippels het is dit nie die moeite werd om te koop nie.Van goed wat verseël is wou hul niks weet nie.Goed het net gehou en gewerk as jy dit vol ghries gepomp het.
Vandag is daar gelukkig goeters soos 'Osteo freeze' om stram en stywe litte geghries te hou en werk dit net so goed as die outydse nippels en ghriespompe.
Mag dit met jou goed gaan.
My eerste karretjie, baie geliefd, was 'n MIni, ligblou met 'n wit dak. Hy het sommer weer lekker sag gery as al sy nippels goed geghries was!