’n Reeks strukture word tans regoor Afrika opgerig: in Kinshasa, Demokratiese Republiek van die Kongo; Matunda, Kenia en in Kampala, Uganda. Nog een, in Mwinilunga, Zambië, word beplan en behoort in die volgende paar jaar gebou te word. Daar is ook ander in verskillende dele van die wêreld: twee in Asië, twee in Suid-Amerika, twee in die Stille Oseaan, een in Australië, een in Europa en een elk in Noord- en in Latyns-Amerika. Geleidelik word meer en meer gebou. Almal is oop vir alle mense. Die enigste vereiste om daar in te gaan is respek.
Hulle word geleidelik opgerig soos geld beskikbaar word en behoeftes ontstaan. Die een in Kinshasa is in 2023 geopen, Matunda in 2021, Kampala in 1961. Hierdie aanbiddingshuise is oop vir almal. Die strukture is gebou en betaal deur lede van die Bahá’í-geloof as geskenke aan die wêreld. Bydraes deur ander word nie aanvaar nie; sou bydraes aanvaar word, sal die geboue nie meer geskenke aan ander wees nie. Uiteindelik hoop Bahá’ís om ’n huis van aanbidding in elke dorp en stad te bou. Elkeen sal die spilpunt wees van sentrums vir maatskaplike welsyn, ook oop vir almal.
Daar is nog nie genoeg Bahá’ís in die wêreld om dit oral en vir almal te doen nie, so die proses het op uitgesoekte plekke begin. Terselfdertyd, omdat die behoefte so dringend is, borg Bahá’ís skole op plekke waar regerings nie in staat is om dit te doen nie. Hierdie skole is oop vir alle kinders en bied ’n gebalanseerde kurrikulum, insluitend wetenskap, wat so noodsaaklik is vir die vooruitgang van die samelewing. Daar is ongeveer 600 van hierdie skole regoor die wêreld. By van die sentrums waar daar geen ander mediese hulp beskikbaar is nie, word daar ook klinieke opgerig.
’n Bahá’í-aanbiddingshuis staan formeel bekend as Mashriqu’l-Adhkár. Dit beteken: dagbreekplek tot die lof van God. ’n Bahá’í-aanbiddingshuis is nie ’n Bahá’í-kerk nie. ’n Dagbreekplek tot die lof van God vervul dus nie die rol van ’n kerk nie, ook nie dié van ’n moskee of dié van ’n sinagoge nie. So ’n dagbreekplek is nie geskep vir gemeenskaplike aanbidding deur prediking, rituele of seremonies nie – al sulke goed word deur die Bahá’í-geloof verbied. Daar word geen preke, geen toesprake, geen troues, geen begrafnisse of enige geldinsameling in ’n dagbreekplek gehou nie. Dagbreekplekke word gewy aan gebed en meditasie, soms gemeenskaplik, maar meestal individueel. Elke dagbreekplek is oop vir elkeen van enige geloof, ook geen geloof nie. Kultuurverskille word geëer. Op sommige plekke beteken respek om jou skoene uit te trek. Op ander plekke is dit ’n teken van respek om jou skoene aan te hou.
Binne ’n Bahá’í-aanbiddingshuis is daar geen altaar, geen beelde, geen instrumentale musiek nie, bloot die menslike stem wat in gebed verhef word; gebede in verskeie vorme, insluitend dreunsang en sang. Privaat gebed is stil. Die gebrek aan ’n altaar, beelde en soortgelyke items kan sommige besoekers verras tydens ’n eerste besoek. Hulle afwesigheid maak juis ruimte vir almal. Die Bahá’í-geloof het daardie dinge verwyder wat kan kom tussen ’n siel en die oneindige, onkenbare wese wat God is, die skepper en onderhouer van alles wat is. Rituele-voorwerpe, simbole en beelde is dikwels bewyse van skeiding: spesiaal vir sommige, maar nie ander nie, hulle bied redding vir min. Bahá’ís glo die menslike spesie is een ras en Bahá’ís probeer hindernisse tussen mense uit die weg ruim.
“Die aarde is gewoon een land en die mensdom sy burgers,”1 het Bahá’u’lláh, die profeet en stigter van die Bahá’í-geloof, verkondig. Met verwysing na die mensdom, sê die Bahá’í-skrif ons is almal “die golwe van een see, die druppels van een rivier, die sterre van een hemel, die strale van een son, die bome van een boord, die blomme van een tuin”.2 Hierdie blomme van die een tuin is die duidelikste by groot Bahá’í-byeenkomste, veral by die internasionale geleenthede.
Tydens ’n formele gemeenskaplike program by ’n Bahá’í-aanbiddingshuis, kan en sal gedeeltes uit die geskrifte en gebede van verskeie goddelik-geïnspireerde godsdienste gelees word. Hierdie programme word op verskillende tye in elkeen van die aanbiddingshuise gehou, afhangend van wat moontlik en redelik is vir daardie ruimte. Hulle is op ander tye oop vir individuele gebed.
Alle Bahá’í-aanbiddingshuise het nege sye in die vorm van ’n sirkel, dit is hul enigste argitektoniese vereiste. Elkeen word omring deur ’n tuin om as ’n oorgangsruimte te dien ter voorbereiding vir aanbidding.
Bahá’ís toon hul toewyding aan medelede van die menslike ras deur regoor die wêreld hierdie aanbiddingshuise op te rig, oop vir almal. Hulle is dagbreekplekke tot die lof van God om die wêreld te help om ’n oper en vreedsamer plek te word.
Notas:
1 Bahá’u’lláh, Tablet of Maqsúd, Tablets of Bahá’u’lláh, bl 157.
2 ‘Abdu’l-Bahá, Selections from the Writings of ‘Abdu’l-Bahá, bl 87.
- Foto’s met die vergunning van die Bahá’í World News, kopiereg © Bahá’í International Community