Daar's waarheid in die wind

  • 2

Die bus van Siniesfontein loop vandag weer deur die laagte duskant wantroue en oor die bulte van goeie bedoelings, knersend op sy sukkelpad na die strydende inwoners van Skeptiesville. Soms kan ’n mens met ’n glimlag by enige bushalte wag en die beste uit die rit verwag, maar ander kere, is die blote gedagte daaraan om ’n kaartjie te koop, meer uitputtend as die rit self ...

Die eerste sinvolle produk van ons verwekkingspogings word eerskomende Saterdag 21-jaar oud. Vroeër hierdie week het die nostalgie en die verlange daarna om die tyd kol-kol te wil terugdraai, vlak in my gemoed en oogkasse kom sit. Daardie krulkopseuntjie met die mooi gesig en sagte oë, is nou ’n man met ’n mooi gesig en sagte oë. En daar êrens tussen die kiekies wat lukraak deur my gedagteprent speel, sien ek hom met ’n verjaarsdagkoek en ’n matriekdans en erekleure en die boog suurmelk wat oor my skouer trek en in dik stukke op ’n streep op die matjie voor sy bababed rusplek kry!
En, ek hoor hom met die bure in Ingels praat en ek sien hom leer en op die verhoog konsert hou en koor sing en orkes speel. En wanneer ek hom hoor en sien, dan is ek bly.

Met my 21ste verjaarsdag het my ouers vir my ’n sleutel gegee. Nie een waarmee ek ’n nuwe kar se slinger kon draai nie, maar ’n handgemaakte sleutel met die syfers “21” en my naam daarop, as denkbeeldige verwelkoming en oopsluit van die “grootmenswêreld” wat ek sou betree.
Blykbaar doen die nuwerwetse mense dit nie meer nie.

Dus laat dit my met ’n dilemma: wat gee ’n feilbare ouer vir sy kind as “sleutel” vir die res van sy lewe?

Uiteraard sal die gelowige opspring met ’n aanhaling uit die Woord of ’n vermaning tot gehoorsaamheid of iets in dier voege; wat ek sonder redenasie of betwyfeling ook as waardevol en ten volle van pas ag. Maar, dis ongelukkig nie net dít wat die knaende vraag in my binneste beantwoord nie.
Ek wil vir hom méér gee; lewenswaarde wat gestroop is van skeptisisme wat prakties is, toepasbaar is en hier-en-nou is.

Vandaar die aanvangsreël van hierdie skryfstuk en vandaar die sinisisme.

Soos dit ’n misbruiker van gedagtes betaam, het hierdie vader van twee ’n string oënskynlike lewenswaarhede gaan versamel in ’n poging om tog die ontwykende antwoord te vind. Die gevonde nare waarhede is daarna bedink en geweeg en sommige is as die opperste onsin ontbloot.

Ek staan verstom oor die gemors wat ons daagliks as geestelike voedsel en aanvulling verorber!
Rymende sinsnedes met woorde wat aandag trek en emosie aanwakker, maar sonder toepassingswaarde; ’n stuk verdampende warm lug soos die boodskappe uit ’n valentynsdagkaartjie!

“Nederigheid, tevredenheid, dankbaarheid; dit is geluk”... is dit werklik?
As jy al hierdie –“heide” eindeloos en sonder meer toepas, hoe salig sal die lewe lyk vanuit die sloot waar die uitbuiters hiervan platvoet op jou staan?

“Die geheim van ons bestaan is om geen vrees te hê nie”... asseblief my ou?!
Is dit dan nie juis ook die vrees vir mislukking en verwerping waarop ons die strewe na lewenssukses laat rus nie?

“Vergewe en vergeet”... ’n ou gunsteling wat meer dikwels bespreek word as wat treine deur Elsiesrivier hardloop.
Totius het na die oorlog daaroor gedig, skrifgeleerdes predik hul dae om daaroor en Nicholis Louw sing selfs daaroor! Tog bly dit wensdenkery!

Sonder om die relaas van elke Jan Rap en sy mater te herhaal, is hierdie juis een van daardie onsinnige lewenswaarhede waaroor ek ’n bladsy of twee in my boek van die lewe sal kan skryf. Maar, mag ek vandag net volstaan met:
Vergifnis is die vergestalte van liefde.
Vergeet is egter onmoontlik, tensy jy ’n algemene verlies aan kognitiewe vermoëns weens ’n neurologiese oorsaak ontwikkel.

Ek kyk weer na die goedgevoerde seun op die skoolportret en sy glimlaggende gesig. Wat meer kan ek werklik vir hom sê? Hoeveel meer algemene reëls en leiding is ek veronderstel om nog tot sy geheuekis by te voeg?
Die antwoord my vriend, is toe heeltyd mooitjies deur Bob* vasgevang met:

How many roads must a man walk down
Before you call him a man?
How many seas must a white dove sail
Before she sleeps in the sand?
Yes, how many times must the cannon balls fly
Before they're forever banned?

Yes, how many years can a mountain exist
Before it's washed to the sea?
Yes, how many years can some people exist
Before they're allowed to be free?
Yes, how many times can a man turn his head
Pretending he just doesn't see?

Yes, how many times must a man look up
Before he can see the sky?
Yes, how many ears must one man have
Before he can hear people cry?
Yes, how many deaths will it take till he knows
That too many people have died?

Die antwoord my seun, is in meer as die wind.

*Dylan; nie Mugabe nie.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top