Daardie "skildery" skend Zuma se regte

  • 2

Wat in ander lande gebeur skeel my nie, hoewel ek my kan voorstel dat baie Britte bitter kwaad sal wees as hul koningin op so ’n vieslike manier uitgebeeld word.

’n Kunstenaar kan kuns skep en in die proses kommentaar lewer op politiek, die gemeenskap, sosio-ekonomiese omstandighede of wat ook al, maar as hy ander se regte skend, moet hy reaksie verwag. Myns insiens is die Zuma prent nie ’n ware kunswerk nie, want die geslagsdele word kru en grotesk uitgebeeld – vergelyk dit bv met die bekende, delikate en pragtige Dawid -standbeeld, dan is die verskil opsigtelik: Kuns teenoor ’n stout tiener se vuil tekeninge.

As, in ’n ander land, ’n premier of iemand tevrede is om kaal geteken te word, met sy geslagsdele duidelik sigbaar, is dit sy saak. Hier by ons is almal gesteld op hul menseregte volgens die Grondwet en dit word gedurig opgehaal deur ’n ieder en ’n elk. Daarby is die situasie by ons baie gekompliseerd, want hier is verskillende rasse met heeltemal botsende kulture. Volgens sommige kulture mag jy soveel vrouens en kinders hê as wat jy wil en kan bekostig, terwyl dit in ander kulture weer sterk veroordeel word. Die spanning loop hoog en ons moet strewe om nie op mekaar se tone te trap nie.

Ek herhaal dat die "skildery" nie ware kuns is nie, want dit is daarop gemik om te beledig en verneder en ek is dankbaar dat die ding nou opgefoeter is. Dit was die regte ding om te doen.

Groete,

Varkspek

  • 2

Kommentaar

  • Beste Varkspek

    Die wonder van hierdie land is sy konstitusie, wat die vryhede, asook die regte van indiwidue beskerm, selfs teen oortredings deur die staat aan indiwidue aangegaan.  Ek is dankbaar dat ons nie ‘n suiwer demokrasie is waar wenner en meerderheid die lot van andersdenkende kulture, minderhede en indiwidue beslis.  Ons is ‘n regsstaat, waar die konstitusie en wet opperheerskappy voer.

    Die botsende indiwiduele regte, in hierdie geval, die reg tot uitdrukking (die kunstenaar) en die reg op selfeer (Zuma),  sal in die hof beslis word.  Wat jy hierbo geskryf het is suiwer opinie, wat met ander se persoonlike opinie sal verskil, en watter opinie ookal geuiter word, sal nie reg wees nie, tensy dit met die hofuitspraak ooreenstem nie.

    Met betrekking tot kuns.  Indien u nie ‘n kunskenner is nie, sal enige uiting wat jy ookal daaroor uiter, suiwer subjektiewe (en gevaarlike) opinie wees.  Ek self is nie ‘n kunskenner nie, maar wat hierdie prent vir my sê, is dat die prent vir ‘n aardige bedrag verkoop is, wat moet seer sekerlik beteken dat dit wel kunswaarde het.  Vir my het Picaso lelike prente geskilder, selfs Vincent Van Gogh se sonneblomskildery is vir my nie kuns nie.  Maar die feit dat al twee se werke hoogs gesog is bewys my verkeerd.

    Jy vergelyk die Dawidbeeld van Michael Angelo se geslagsdele met Murray se “groteske” geslagsdele in die skildery.  Daar was ook diegene wat aanstoot teen die Dawidbeeld geneem en die penis daarvan afgebreek het, en in die proses ‘n kunswerk permanent geskend. 

    Wat skreiend is, is die persone wat die reg in eie hande geneem het, en krimineel die skildery verniel.   Hierdie daad is vir my heeltemal onaanvaarbaar.  Indien ek wetsongehoorsames ondersteun, moet ek dan nie dit kwalik neem wanneer “street justice” soos onlangs op jong seuns (vermeende diewe) toegepas was nie, die tipe eie gereg wat uiteindelik tot anargie ten gevolg het, soos in die “necklacing” dae van die 1990”s

    Jaco Fourie

  • François Verster

    Beste Varkspek

    Ek verkies ook kuns om die estetiese elemente en glo nie dat kuns in diens van protes/-politiek moet staan nie. Dog: kuns is nie kuns oor die motiewe van die skepper daarvan nie; dan sal daar min kuns wees volgens jou kriterium.

    Jy sal ook verbaas wees hoe erg die Britse koningshuis al deurgeloop het onder satirici. Maar jy's reg dat ons op ons eie sake behoort te fokus: ons, die verkragtings- en moordleiers van die planeet. En daarom is ons sogenaamde leiers juis veronderstel om positiewe, inspirerende rolmodelle te wees. Dink jy Zuma is een? Eish, nee. Allermins. Die ekstreme reaksie van satirici - wie se werk dit is om te kritiseer, nie om te vermaak of te sus nie, word ontlok deur die skokkend patetiese en oneerlike optrede van politici in HIERDIE land.

    En wanneer jy 'n openbare amp aanneem, staan jy eintlik jou reg op privaatheid af - dis wat die Grondwet bepaal: dat jou optrede dan in die sfeer van publieke belang val. Nou beweer Zuma hy is geen rokjagter nie. As hy nie is nie, weet ek nie wie is nie. En, nogeens; wat ander lande betref - daar is ook rokjagters, maar hulle burgers keur dit nie goed nie. Ons behoort ook nie. En by die stembus het ons, wat nie noodwendig volgens ras stem nie, geen kans nie - DAAROM is satire ons laaste uitweg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top