
Foto: Canva.com
Daar was genade
Daar was genade
waarmee ek hande gewas het
van waterbak na waterbak
my siel so verskoon het
die reis deur die woestyn
was warm en vermoeiend
terwyl aasvoëls my agtervolg het
deur tyd en leë strate van verwyt
soos donker riviere van teer
terwyl bloed my hande gevlek het
ou vriende soos vlieë gevrek het
waardes op die winde gevlug het
sedes verdrink het in skaamteloosheid
want die waarde van een siel
’n spoegkol op die sypaadjie
of ’n drol op ’n stil graf
as rondloperhonde huil vir die maan
om my net so te laat staan
naak en gebroke sonder ’n sent
sonder my trots en albasters
want my woorde was verdraai
my siel was verraai
sodat ek by elke waterbak
met genade my hande moes was
van die skuld en die skade
waaraan ek altyd skuldig bevind was.


Kommentaar
Johannes van der Merwe, hoop die genade was onverdiend en nie net gesigmasker nie.
Ek dink hierdie is 'n sterk gedig. Die digter trek die leser in om sy ervaring te veleef.
Goeie gedig, Johan met 'n baie diep boodskap agter die woorde.
Hans, genade is altyd onverdiend en maskers los ons vir hulle wat dink hulle weet.
Christo, ek dink elke mens loop maar hierdie pad waar jy absoluut op genade en genade alleen moet rus vind.
Driekie, baie dankie. Jy het my biografie gelees en jy sal weet. Baie dankie vir jou ondersteuning.