Daar is méér deur Daniël Louw, ’n lesersindruk

  • 1

...
Hoe beïnvloed dit ’n antropologie wat cogito, ergo sum verskuif na: Ek word gedigitaliseer, daarom is ek? Homo religionis word nou gestruktureer deur Homo digitalis. Maar daar is meer aan die bod as net dit.
...

Titel: Daar is méér, mymeringe oor die spiritualiteit van skoonheid, sin, siel en sterflikheid
Skrywer: Daniël Louw

Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781776172283

Koop die boek by Graffiti.

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Die merkwaardige en briljante boek van Daniël Louw open insigte wat nog nie deeglik ontgin is nie. Nuwe en opwindende perspektiewe word ontsluit. Daar is inderdaad meer as wat tot dusver gedink en bedink is. Daarom val die lig in hierdie outobiografiese reis sterhelder op mymeringe oor die spiritualiteit van skoonheid, sin, siel en sterflikheid.

Daniël Louw kyk op ’n nuwe en kreatiewe manier na metafisika as paradigmatiese raamwerk om transendensie te verstaan. Transendensie het meervoudige betekenismoontlikhede. Metaverum impliseer ’n ander en nuwe manier van dink, wees en houding. Hoe beïnvloed dit ’n antropologie wat cogito, ergo sum verskuif na: Ek word gedigitaliseer, daarom is ek? Homo religionis word nou gestruktureer deur Homo digitalis. Maar daar is meer aan die bod as net dit.

Hierdie voortreflike boek put uit insigte van die natuurwetenskappe, mediese wetenskap, menswetenskappe, filosofie (oa Levinas), musikologie (Wagner, Händel), skilderkuns (Van Gogh se simfonie in blou en geel) en die teologie.

In die boek word die uitwerking van diakroniese denke wat steun op die kern van ’n Christelik-spirituele hermeneutiek, verhelder. Dit is inderdaad ’n akademiese boek binne die veld van Praktiese Teologie en die Pastoraat. Dit het ’n sterk dogmaties-filosofiese inslag omdat die Godsvraag aan die orde gestel word. Maar Louw reik verder. Metafore (Paul Ricoeur) begelei die mens om sinvol en verbeeldingryk oor die spiritualiteit van skoonheid, sin, siel en sterflikheid na te dink. Die tradisionele benadering van definisies en identifikasie van Godseienskappe (hoedanighede van God) word gedekonstrueer ten einde te beweeg na hoedanighede van God. God kan nie in abstrakte definisies vasgevang word nie. Psalm 131:2 is ’n voorbeeld van God met ’n hart. “Maar ek het my siel tot kalmte en bedaring gebring. Soos ’n kindjie by sy moeder, soos ’n kindjie, is my siel in my.” En die moeder is die Here. Medelye, deernis en barmhartigheid is die hartklop van die verhouding tussen God, siel (die kern van die mens se bestaan) en mens / die ander. En naasteliefde is nie maklik nie. In Sheila Cussons se digterlike woorde:

Naasteliefde is die moeilikste:
dit is geen kuns om dié te bemin
wat jou lende trek, of die gees –
maar die amorfe wêreld, lelikerd
wat die uitsig bederf: stamp ek
hom weg om skoner te sien, en dit
mooi ek wat steier van die smak
en, losgeruk van U, my vaskyk teen
die ontsinnende  sinloosheid van self

    • (“Muur” uit Die Sagte sprong)

Op hierdie merkwaardige reis sluit die boek af met ’n poging om ’n estetika van dood en sterwe te verwoord. Dood en sterwe kan ook mooi wees. Want dit is die begin van die reis na die stad met pêrelpoorte. Dáár is geen rou en geen trane meer nie. Net op Hom die groot hosannas.

Die boek open oorspronklike perspektiewe wat noodsaaklik is vir die teologie en denkende mense op hulle lewensreis. Ek beveel die lees van en besinning oor die boek sonder huiwering sterk aan. Dit is ’n praguitgawe van Naledi. Die voortreflike buiteblad is ’n sleutel tot die sinryke inhoud.

Lees ook:

  • 1

Kommentaar

  • Dankie Cas, dat jy my inlei in Daniel Louw se soeke na begrip van die gedigitaliseerde Homo sapiens. So skuif ons die kuberruim in en streef om die waarlike sin van bestaan te behou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top