Daar is hoop in herwinning

  • 0

Don’t talk unless you can improve the silence – Vermont-gesegde

Vryheid of flouheid. Konvensie of magsbeheptheid.

Reeds in die laat tagtigs het die WAM (white Afrikaans male) kop uitgesteek. Veral by SABC TV was dit ’n redelik algemene term. Jou beste posisie in die ekonomiese doolhof na doodloop was as jy ANC was. Tweede beste was as jy vrou was. ’n WAM-huurmotorbestuurder was heel vooruitstrewend.

Nie alleen het vroueregte skielik gedubbel-bokspring nie; die vrou het naas ANC-lidmaatskap die tweede belangrikste status, nl hoof-van-die-gesin-status, verwerf.

Hierdie was ’n gesonde én ongesonde verwikkeling. Gesond, omdat statusse in die samelewing noodgedwonge hersien is. Die vervelige man-wat-die-septer-swaai in die huisgesin is omvergewerp, in so ’n mate dat die man in die vrou se oë moes kyk, en nuwe waarde aan die vrou heg. Talle mans het vreugde begin put uit die inkopies doen, en dit met ’n inkomste wat die vrou ingebring het. Dis die grootste guns wat die gevaarlike taxibedryf die wêreld nog ooit gedoen het. Om ons verdraagsaamheid te leer.

Vandag, met sakemanne op die herstelpad, of ander met salarisse by semistaatsinstellings, neem mens weer die oerdier waar – die man wat braai en die septer swaai, voor ’n vrou wat haar trippel moet ken om by sy standaarde te bly – sy standaarde!

Daar is min dinge so gevaarlik soos ’n straight, en veral een wat seker is hy is straight, man. Die grootste gevaar is dat hy jou dood sal verveel met sy kennis en statuur, gesetel in die mag, en veral sy kennis van die vrou, en nog meer – sy kennis van rugby - en sy mening oor Heyneke Meyer.

Die wêreld is ’n ingewikkelde, of eenvoudige, plek - as jy aanvaar daar is niks nuuts onder die son nie.

Aktrise Marion deel die week tydens repetisie met die mooiste skilderye op haar skootrekenaar. Die kunstenaar is glo nooit toegelaat tot die kunsteskool waar hy hom wou bekwaam nie. Hy het toe in ’n ander rigting ’n sukses gaan maak. Sy naam is Adolf Hitler.

So? Vryheid of flouheid. Konvensie of magsbeheptheid. Dit vra vir ’n realiteitsdieptemeting.

*

Nerina Ferreira is dood. Haar seun sê haar brein was flink; haar liggaam wou nie meer nie. Sy wat so op ’n kleinwielfietsie, in ’n sweetpakkie, gery het waar sy wou wees.

Sy, oor wie talle legendes bestaan. Die ware verhale hoor mens by die ou ster Johan Malherbe. Pieter Fourie sal jou kan vertel. Johan van Jaarsveld weet. Fitz Morley, Pieter Joubert – hulle weet.

Enkele insidente bly my by.

In 1974 neem ons elke tweede Saterdag so 14 episodes op van ’n Springbokradio vervolgverhaal. In die reeks is Nerina een van twee susters. Een Saterdag daag die een suster nie op nie. Sy’s onkapabel en tuis. Goeiste. Die stories moet uitgesaai word! En net daar herskryf die ou ervarenes – elkeen legendes: Pierre Marais, Johan van Jaarsveld, Nerina self – die episodes, en Nerina speel vir 14 episodes beide rolle, met ’n glimlag. Want sy kon.

Nog ’n insident is toe Nerina in Johannesburg gewerk het aan ’n TV-reeks. Sy was seker 65. Een aand word ek vreeslik beledig by ’n partytjie, deur ’n baie dronk, baie gesoute ouer akteur. Ek reageer nie rêrig nie. Die volgende aand is ek weer by ’n geleentheid, en die man, nou nugter, is weer daar. Hy is baie, baie vriendelik, maar steeds vind ek die geleentheid van uitgelese kalkligmense intimiderend en oorweldigend, en groet almal vriendelik, om te vertrek. Een van die laaste mense wat ek groet, is Nerina. En 90 minute later staan ek en sy steeds daar, kletsend, weerskante van die kombuisdeur.

Dan was daar die oorklankingsvergadering by die SABC in Seepunt. Aanwesig is twee besonderse mense – Tony Links en Anton Prinsloo. Die gesprek handel oor anglisismes en streekstaal en propperse vertalings. Nerina sit en brei. Alhoewel, ek dink sy het dié oggend gehekel. Die oorklankingsbase spreek hul konserwatiewe afkeer uit oor talle onderwerpe. Gelukkig vra iemand Nerina se mening. En sy skets rustig die prentjie van die cowboy wat geskiet word. Hy val van sy perd af. Sy maat ry nader, kyk af na hom en sê in Amerikaanse Engels: “Are you okay?” Of miskien: “Are you alright?” Weens die tuit-en-oopmaak van die mond, en natuurlik weens die onverbiddelike konserwatisme van die base, moet die woorde met moeite Afrikaanse eweknieë vind.

Die professore sê hulle het nie probleme met okay en orraait nie. Maar Oorklanking het. “Oor my dooie liggaam,” sis ’n taalreviseur die geluide waarmee sy, haar baas en haar regterhandmaatjie-kollega gelukkig is. Nerina vermaak droog en rustig voort: “Sal hy sê: Is jy goed?” (Dit pas vir ’n vertaling op die mond.) Sy hekel steeds. “Is jy gesond?” (Dit pas vir ’n vertaling op die mond.) Almal, selfs die base, lag vir die belaglikheid. Nerina was meer as ’n diplomaat.

Nerina het die lewe geniet. En elke skinder en geniepsigheid met grasie oorleef; want sy was ewe opwindend in goedheid.

*

Is uitgesprokenheid ’n vrug van hard-verworwe demokrasie? Kom mens noodwendig iemand te na as jy jou sê sê? Is die reg en verkeerd van ’n saak maar so lank soos ’n seisoen? Of ’n oomblik? Hoe lank is ’n oomblik? Is die pyn, die dag wanneer jy uitvind jy is op jou eie, al die mond-uitspoel werd?

Is ’n vuisslaner dieselfde as ’n vastrapper? Is hy wat vastrap, altyd orraait? Is it maar wat mense dink? Is hy wat nie vastrap nie, altyd ’n pel? Is die breë, maklike weg van nonprotes enigsins getuienis van lojaliteit? En hy wat getuig vir wat hy of sy dink is reg: as hy of sy alleen sit en huil? Los hy of sy alles nes dit is, en glimlag? Want die idioom sê: “Glimlag, en hele wêreld glimlag saam met jou. Huil, en jy huil alleen.” Is slegte maniere dieselfde as vastrap?

Wanneer jy met abstraksies werk, wat is die waarheid? Wie bepaal die maatstaf vir waarheid? Dana Snyman skryf nou die dag: “Sê nou ’n dag kom dat die meeste mense op aarde slegs dít wat rasioneel verklaar kan word, as die waarheid aanvaar – die enigste waarheid.”

Die skrywe se tema was eintlik: die liefde.

Skakel die liefde uit – die bestaan van meer as een mens; meer as een opinie?

*

Die dag na KKNK 2012 ry ek huis toe. RSG maak ’n groot gedoe oor ’n heruitsending van ’n hoorspel wat so goed was dat die Akademie die maker beloon het met ’n prys. Die hoorspel is toe so ’n aanhoudende gepraat met mense met gestremdhede. Jy sou kon sê dis ’n dokumenter, en effe eentonig ook. Pas daarna is daar ’n insetsel op die nuusprogram, met ’n bietjie musiek, en byklanke in die agtergrond deur die mense oor wie die insetsel handel. Dis aangrypende inhoud en kreatief versorg. ’n Prototipetjie van die soort program waarop die legendariese Pierre Marais trots sou wees. Suna Venter verdien, as dit minute langer was, ’n toekenning. Maar die Akademie-toekenning. Nog nie sommer so nie? Want deesdae hoor ek gereeld die soort hoëstandaard-pakkies op RSG nuus.

Praat van RSG. Die tyd toe die taxi’s op hul magtigste was, is alle radioverhale – Engels en Afrikaans – gestaak. Wie sou nou by RSG verantwoordelik wees vir die gesonde aanbod kwaliteit-hoorspele wat hulle tans aanbied? Wat van heruitsendings in die oggend of middag? Dis gewis ’n veertjie in die hoed van RSG.

Al die gesels oor die ou RSG herinner my aan die oerpatroon wat bestaan het in stelsels in Suid-Afrika. ’n Ou tienertoneel-beoordelaar het altyd vertel hoe hy tienerakteurs goed sleggesê het. Ek self het al beleef hoe hard ons deurleefde akteurs op hulself, en op mekaar, kon wees. En dan was daar natuurlik die trotse geskiedenis van radio in die Kaap. Maar dit het sy graad trauma opgelewer. Ek het dit as kind van baie naby beleef en gesien. Dit het my oortuig dat een van die min “perks” in ons werk werksgenieting is. Hoekom mense tot vandag toe hulself die reg toe-eien om ander mense se lewens te versuur, is my einde.

Aaklige mense het my laat besef: ons het taxi’s nodig gehad in ons lewens. Om ons ’n titseltjie verdraagsaamheid te leer. Om ons te temper tot beter gedrag. Dit het ons – soos swart draaikolke in die hemel – recycle.

***
Recycled

Die blyspel is deur Hoërskool Durbanville, wat omtrent al as opleidingsentrum dien, met sy jaarlikse twee of drie stukke waarby Jan Burger betrokke is as skrywer, of regisseur, of beide.

Hierdie keer is nuwe name betrek: skrywer Iné Reynierse, regie deur Jaco en Sunelle van den Berg. Uiteindelik was hulle, sowel as Jan Burger, betrokke by elemente van die regie.

By die musiek was betrokke ’n naam soos Emile Minnie. Gideon Murray lewer ’n groot bydrae tot die musiek, terwyl van die regisseurs ook lirieke skryf.

Oudergewoonte is skoliere aan die tegniese stange saans wanneer die stuk speel. Armsvol ander deelnemers, oa ook die kunsskoliere, maak deel uit van die span.

Getrou aan Jan Burger se aard is aandag aan besonderhede delikaat. Die foyer-uitstalling van kuns, geskep uit herwinbare items, die pragtige ingangskaartjie, die stalletjies en ouditoriumplan maak dit ’n gemaklike aand.

Hoewel die werk nie die impak het wat Burger en Amelia van Wyk saam se eenbedrywe jaar na jaar het nie, is daar sterk elemente – soos die kunsversorging van die stel, die beligting, die stel self, sang, choreografie, garderobe (oa deur ’n ouer) en spel.

Die indrukwekkendste is dat dit ’n selfgeskepte produk is, uit plaaslike bodem, met die groepseenheid die prioriteit.

En die boodskap, daar is hoop in herwinning, met sy dubbelsinnige aard.

Without freedom, no one really has a name – Milton Accorda

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top