Nee, ek gaan nie kla oor die doellose 'taktiese' skoppe nie, dié's oud genoeg om vir hulself te praat. Ek praat van die Engels op die Afrikaanse programme.
Lynette Francis het in Praat Saam 'n gas gehad wat nie Afrikaans kon praat nie (kamtig 'n Matie, asof dit nou 'n waarborg is dat iemand Afrikaans kan praat) en jou wrintiewaar daardie selfde aand het Freek Robinson óók weer eens en nog 'n slag iemand wat net Engels praat.
Ek het eendag deurgekom toe Freek nog Praat Saam hanteer het juis toe hy weer 'n Engelsprater as gas het en hy redelik ontstig toe ek daarna navraag doen. Hy beveel toe aan die mense wat nie Engels verstaan nie moet maar Engels leer maar het geen kommentaar gelewer op my vraag oor hoekom sy Engelse gaste dan nie maar Afrikaans leer nie. Ek dink hy het my buitendien teen daardie tyd al afgesny.
As jy een ding bevoordeel, dan laat jy logieserwys na om iets anders wat in kompetisie met daardie ding is te bevoordeel. Jy BENADEEL dus die kompetisie en op hierdie manier benadeel RSG en KykNet Afrikaans. Is dit beleid of is dit bloot naïwiteit aan die kant van die omroepers?
Wat verbysterend is, is dat niemand daaroor kla nie. Dalk is daar mense – daar móét tog wees? – wat ontevrede oor hierdie toedrag van sake is maar hulle sê niks. Hoekom nie? Daar is gedurig mense van allerhande verbruikersinstansies wat ons aanpor om oor swak diens te kla, so hoekom doen ons dit nie? Kan daar nog so'n gelate en gedweë nasie soos die Afrikaners wees?
Goddank vir ouens soos Dan Roodt.
Jan Rap

