Daai Paties-kyk

  • 2

“Wanneer bring jy my katrol terug, moet ek alewig agter jou gat aanbel?” skel ek terwyl ek woedend na die oop kol in my viskas staar.

“Maar Pa, ek het nie tyd nie en … en Pa vang in elk geval nooit iets by Paternoster nie. Hoekom ploeter julle alewig soontoe?” skerm Paul aan die anderkant.

Sonder om te antwoord, verbreek ek die konneksie en smyt die foon op die kar se sitplek.

“Jinne, Dawie, vir wat hang jou bek so? Jy is gewoonlik so opgewonde as ons Paties toe gaan?
Kom, kom ek wil nie in die donker tent opslaan nie,” rammel Meisie terwyl sy vir oulaas in haar handspieëltjie loer.

“Ag, sommer niks. Ek bel Paul oor my katrol en raai wat is sy verskoning?” Ek leun vooroor en glip Randall in die CD-gleuf.

“Seker maar wat ons almal weet, my skat. Dat jy in elk geval bitter min vis vang op die Weskus.”

Ek soek vir ’n tikkie sarkasme sodat ek haar kan aanvat, maar daar is niks. Sy vroetel in haar handsak en prop ’n lekker in my mond.

Terwyl ek wag vir die hek om agter ons toe te gaan, loer ek onderlangs na haar. Daai Paties-kyk in haar bruin oë is duidelik sigbaar. “Ons vat natuurlik die agterpad nè,” fluister sy en gee my bobeen ’n drukkie. Ek voel hoe my gesig warm word en loer outomaties rond. Sy lag uitspattig. “Nee, nie dit nie, met jou gekarringry is daar nie tyd nie.”

Ons het oor die jare ’n halfdosyn of wat pit stops op die agterpad geïdentifiseer. Dit is nogal ’n goeie beskrywing, as daar in ag geneem word dat ons al ’n paar keer in rekordtyd onsself respektabel moes maak as ’n nuuskierige boer onverwags by dié opgewasemde CRV langs sy dam of onder ’n boom opduik.

Op Paternoster ignoreer ek die Tietiesbaai-afdraai en mik vir Strandloperstraat.
Meisie snap onmiddellik. “Jy probeer verniet, dis al ná vyf, so sy is seker al huis toe.”

Maar Varie is nog op haar pos.

Haar gesig helder op as sy ons herken. Sy spring op, gevolg deur haar twee vakleerlingetjies.
Ons ken Varie al vandat sy so vyf of ses jaar oud was. Sy is sekerlik die fluksste inwoner van Paternoster en beoefen haar bedryf sewe dae per week. Met ’n plastieksak in elke hand vergader sy en die kleintjies elke oggend skulpe op die strande tussen Mosselklip en Bek se Baai.

Die sypaadjie voor die Voorstrand Restaurant dien as haar werksplek. Plat op die grond, met net ’n spyker en klip as haar werktuie, kap sy versigtig ’n gaatjie in elke skulp en ryg dit dan in ’n stuk tou of in ’n draadvorm in. Haar werkstyl is ’n ware inspirasie. Sy skel nooit op die kleintjies as hulle aandag afgetrek word nie. Wanneer ’n skulp met die gekappery breek, vee sy dit eenvoudig opsy en begin met ’n ander een. Elke keer as ’n potensiële koper aangestap kom, spring sy op en bied haar ware aan. Anders as die nuwegenerasie-verkopers wat dreig om haar besigheid te verswelg, dring sy haar glad nie aan huiwerige kliënte op nie.

“Hallo, meneer, hallo, mevrou, waar is Belinda en Bianca?” groet sy vriendelik. Die feit dat ons kleinkinders, anders as sy, aanbeweeg het, tel nie in haar boeke nie. Die heerlike tye toe sy hulle vrymoedig as tydelike vakleerlinge ingeneem het, is steeds in haar hart afgeëts.

“Hallo, Varie, hulle is in Heilbron en stuur groete,” verduidelik Meisie en skakel oor na besigheid. “Hoeveel kos jou skulpe vandag?”

“Dertig vir die stringe en vyftig vir die harte, mevrou.”

Ek leun oor om haar te herinner van die hoop wat stof vergader by die huis, maar die afwagtende kyk in die kleintjies se ogies maak dat ek myself teen die aanslag staal.

“Ons sal twee van elk neem, dankie,” besluit Meisie, en vroetel vir haar beursie. Sy wys na die restaurant: “Is Sharon en Adriaan hier?”

“Nee, mevrou, hulle is by die winkel.”

“Hoe gaan dit met jou ma en jou ouma?” vra Meisie terwyl sy die geld in die oopgestrekte hand aftel.

Maar Varie is Varie. Ons hou haar uit die werk.

“Gaan goed, mevrou, dankie, meneer.” En sy pluk die tweetjies terug na die hopie skulpe.

“Honderd en sestig rand, gogga. Jy weet natuurlik wat dit beteken, nè?” probeer ek die naweek se budget maak klop. Maar Meisie is, soos gewoonlik, reg met ’n antwoord. “Moenie fret nie, my man, daar is nog genoeg pitte vir vier krewe. Ons moet net uitkyk vir die Mac-tweeling.”

Haar woorde was skaars koud, toe is dit so.

“Haai, ma, hierso. Hoeveel krewe vandag? Spesiale prys vir ma ... en vir die meneer.” Die jonges van die dorp is maar skrikkerig vir my. Hulle het lankal agtergekom dat ek die suinige, knorrige een is.
Ek wil nog iets kwytraak, maar Meisie is in beheer. “Ja, Mac, hoe gaan dit met jou ma? Waar is Neil en … en jou twee sussies?”

Meisie het die eienskappe en behoeftes van die Paternosters lankal agtergekom. Geduld en erkenning. Pas dit toe en jy kan myle saam met hulle stap. Mac sit sy sak versigtig neer, vee die namiddagsweet van sy voorkop af en steek sy kop by die oop ruit in. Hy vertel dat dit goed gaan met sy ma se gesondheid, maar dat Neil se tronkstraf en die jonger sussie se gevryery in die Kaap haar uitmergel.
Ek pluk aan Meisie en wys na my horlosie. Sy dwing die geselskap terug na die sak op die grond en ’n paar minute later is daar ’n verdere honderd-en-veertig-rand-duik in die budget.

Dis halfskemer toe ons die onbemande hek by Tietiesbaai inry. Nog ’n pluspunt van die plek. Jy ry in, soek ’n staanplek, slaan die tent op met die entoesiastiese hulp van mense wat jy van g’n kant af ken nie en sorteer die betaling eers die volgende dag uit.

Die volgende middag, nadat ons gaan oë wys het by Johan Carossini in die hotel, ’n dop gesteek het by die Voorstrand en ’n paar stukkies kos en ’n sak ou klere by die tweeling se ma, Nellie, afgelaai het, ry ons rustiger terug na Tietiesbaai.

Op pad tel ons een uil, een skilpad en drie veldmuise met dieselfde entoesiasme as wanneer wildtuinbesoekers die Groot Vyf teëkom.

By die tent aangekom, pak ons ’n mandjie met wyn, kaas, broodrolletjies en kreefbraai-toebehore en laat spaander rotse toe. En, o ja, ’n kombers. Daar is ’n oorvloed van pit stops tussen die rotse.

Drie uur later, toe die sonsondergang dreig om weer ’n spektakel soos min voor te sit, trek ek die stok uit terwyl Meisie oppak. Die stukkie kreefstert is onaangeraak, maar toe ek dit in ’n plassie water tussen die rotse gooi, verslind ’n paar klein vissies dit daar en dan. Ek glimlag van pure genoegdoening.

Skaars verby die Columbine-ligtoring reik ek vir my selfoon en bel my seun.

“Ja, Pa, en toe, het Pa al iets gevang?”

Ek ignoreer die onderlinge sarkasme en besluit dat dit nou my beurt is.

“Man, ou seun, jy sal my nou wraggies nie glo oor wat ek al gevang het, nie maar ek wil jou iets anders vertel”.

“Ja, Pa, maar ek het nie nou …”

“Wa … wag,” onderbreek ek hom skerp. “Jy sal maar net moet tyd maak, ou seun.”

“Oukei, Pa, ek luister.” Ek kan die ongeduld in sy stem hoor en val weg.

“Jy wou mos gisteraand weet waarom ek en jou ma alewig Paternoster toe … hoe het jy dit dit nou weer gestel … ploeter? Sit op jou alie, dan vertel ek jou presies waarom.”

“Maar, Pa …”

“Houdenbek! Hier op Paties is ’n tienermeisie wat sewe dae per week op ’n harde sypaadjie sit en skulpe ryg om kos op die tafel vir haar ma en ouma te verseker. Dan is hier ook nog ’n ma wat met ’n karige pensioen spartel om haar kinders op die goeie pad te hou. Maar daar loop ek die storie vooruit. Kom ons begin by die begin. Ek en jou ma het gistermiddag ná werk …”

Maar dan pluk Meisie my aan die arm.

Ek vou my hand om die mondstuk en merk dat daai Paties-kyk in haar oë verander het na absolute paniek.

“Dawie, as jy dit dan nou aan die kind moet doen, los om vadersnaam net die pit stop-gedeeltes uit.”

  • 2

Kommentaar

  • My komplimente aan die skrywer. Ek het hierdie storie besonder baie geniet.

     
    Ek hou van die tong in die kies, effe dubbelsinnige verwysings soos byvoorbeeld "Drie uur later [...] trek ek die stok uit (moontlike verwysing na die "pit stop aktiwiteite?"). 

    Ander mooi frases en/of sinne:"toe die sonsondergang dreig om weer ’n spektakel soos min voor te sit"
     
    "Op pad tel ons een uil, een skilpad en drie veldmuise met dieselfde entoesiasme as wanneer wildtuinbesoekers die Groot Vyf teëkom."
     
    "met jou gekarringry ... kan verwys na die Dawie se manier van bestuur of die manier wat hy “karring” (vry)
  • Dankie Amandab,

    in hierdie geval is die lesers wraggies magtiger as die skrywer! Daar identifiseer jy jou werklikwaar sinsnedes wat toevoeg tot my verhaal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top