Ek vestig die aandag op Cressida Connolly se boek, The rare and the beautiful: The lives of the Garmans (London: Harper Perennial, 2005, 298p) omdat dit in ’n sin ’n vervolg op my skrywe oor die Mitfords (SêNet, 25 deser) is. By die Mitfords was daar ses dogters en ’n seun. In die geval van die Garmans was daar sewe dogters en twee seuns. Hulle het in die volgende volgorde opgedaag: Mary in 1898, Sylvia (1899), Kathleen (1901), Douglas (1903), Rosalind (1904), Helen (1906), Marvin (1907), Ruth (1909) en Lorna (1911). Dit was vir die outeur onprakties om in besonderhede oor hulle almal te skryf, gevolglik het sy haar aandag op drie toegespits: Mary (oorlede in Februarie 1979), Kathleen (oorlede in Augustus 1979 ) en Lorna (oorlede in Januarie 2000). As die jongste het Lorna hulle almal oorleef.
Mary was die vrou van die skrywer Roy Campbell (1901-1957). Hy is in Suid-Afrika gebore en was geneig tot alkoholisme en fascisme. Albei Campbells kon goed teken en Mary kon kitaarspeel en sing. Van Mary het Campbell gesê: "I should never be half the writer I am ... if it weren't for her" (p 64). Van 1924 tot 1926 het hulle in Natal gewoon en kennis met die skrywer Laurens van der Post (1906-1996) gemaak. Terug in Londen het Mary geskryf: "O ... the relief it is to be out of South Africa. How I love England" (p 65). Van 1927 tot 1928 was Mary een van Vita Sackville-West (1892-1962; SêNet, 25.01.2010) se minnaresse. Vita se gedigte is "poetry in gumboots" (p 70) genoem. Virginia Woolf (1882-1941), ’n ander minnares van Vita, het uit jaloesie die roman Orlando (1928) geskryf. Mary het na die Woolfs as "intellectual wolves in sheep's clothing" (p 71) verwys en oor Orlando geskryf: "How can I help absolutely understanding and loving the book" (p 82). Roy Campbell het Vita se woning "something between a psychiatry clinic and a posh brothel" (p 75) genoem. Terwyl die Campbells in Frankryk gewoon het, het die digter Uys Krige (1910-1987) opgedaag. Hy was veronderstel om aan die twee Campbell-kinders onderwys te gee, maar het eerder in Mary belanggestel. Roy en Uys het gatswaers geword (p 129, 224).
Kathleen was ’n model asook ’n minnares van die beeldhouer Jacob Epstein (1880-1959). Sy jaloerse vrou, Margaret, het Kathleen met ’n pistool in die skouer geskiet. Margaret is in 1947 dood, maar Kathleen het eers in 1955 met Epstein getrou. Hoewel sy "a pianist of concert standard" (p xiii) was en Epstein vir haar ’n klavier gekoop het, het sy haar musiektalent ter wille van hulle vriendskap verwaarloos. Nadat hy by haar en ander minnaresse kinders verwerk het "he still looked upon Kathleen as a lover and not as a mother" (p 94). "Apart from working being with you sweet girl has been the obsession of my life ... my things [beeldhouwerk] in important instances are suggested by you" (p 94).
Lorna was die mooiste van die Garman-susters, het op 12-jarige ouderdom die skool verlaat en vier jaar later met Ernest Wishart (1902-1987), die eienaar van ’n uitgewery, getrou. Om hierdie rede was Lorna meer welgesteld as haar susters en broers. Sy het van perdry en vinnige motors gehou en ook geskilder. Sy was ’n inspirasie vir die skrywer Laurie Lee (1914-1997), wat sy ontmoet het twee jaar nadat hy die Campbells in Spanje teëgekom het. Laurie het ’n kind, Yasmin, by haar verwek, maar haar man het hom soos sy eie aanvaar. Van 1942 af was Kathleen die minnares van die skilder Lucian Freud (1922-2011), ’n kleinkind van die psigoanalis Sigmund Freud. "Lee wore Lorna's signet ring until the day he died. Lorna ... spent most of the week with Freud, as she previously had with Lee, returning to Sussex for weekends with her husband and children" (p 176). "She was Lucian's imagination" (p 178). In 1948 is Freud met Kitty, Kathleen en Epstein se dogter, getroud. Op aanbeveling van Lorna het Lee daarna met Kathy, haar suster Helen se dogter, getrou.
Wishart was ’n kommunis en so ook die twee Garman-broers, Douglas en Marvin. Daarteenoor was daar die fascisme van die Campbells. Soos by die Mitfords was daar dus ook by die Garmans die soort politieke onmin wat so kenmerkend in Europa na die Eerste Wêreldoorlog was. Douglas het ’n tyd lank saam met Peggy Guggenheim (1898-1979), die welgestelde bevorderaar van die skone kunste, gewoon. Sy is later met die skilder Max Ernst (1891-1976) getroud. Sylvia, een van die Garman-susters, het haar onderskei as moontlik die enigste vrou wat seksueel met die skrywer TE Lawrence (1888-1935) verkeer het. Van die Garman-kinders is Rosalind "the sanest of the lot" (p 242) genoem. ’n Ander suster, Ruth, het vyf kinders gehad, waarvan twee binne die huwelik was. "'If only Ruthie could go into a pub without getting pregnant!' Lorna is said to have sighed" (p 242).
Vervolg ...
Johannes Comestor

