Cornelius se geloofsmitologie

  • 0

Cornelius maak die volgende aanmerking: “Mites is nie leuens of fiksie nie. Werklik en onwerklik, is die mees betekenisvolle verwysing daarna.”

Is onwerklikheid dan nou die waarheid? Kan dit wat nie bestaan nie, relevant wees wanneer iets as feit en waarheid moet aangemerk word?

Dan maak hy die grootste fout van almal – hy sê (so reg in die kraal van ongelowiges, soos Ran Doodt hom dan ook daaroor komplimenteer): “Mites is egter mites totdat GOD self dit werklik in jou hart maak.”

Verstaan hy wat hy self sê? ’n Mite is juis ’n onwerklikheid, ’n nie-bestaande, ’n hersenskim.

Dus, wat Cornelius eintlik laster, is dat God en Woord ’n “mite” is behalwe die ou wat dink dit is nie. Die noodwendige implikasie daarvan is dat die Godheid nie werklik bestaan nie, maar ’n mitologiese (onwerklike) bestaan voer in sommige mense se “harte”. Maar, dit is presies wat die agnostici sê, omdat hulle nie verby die mite-paradigma kan kom nie. Énigste verskil tussen hulle en Cornelius, is dat hulle verkies om nie die onwerklikheid van ’n mite as werklikheid te hanteer nie. Dít is die grondslag van Cornelius se getuienis, maar besef dit nie self nie. Daaroor word hy deur ware gelowiges tereggewys. Ons sleep hom nie voor God nie, want ons bly hom teregwys, maar die HERE vir Wie hy as “mite” belaster, sal hom wél op die Oordeel nadersleep, tensy hy herroep en berou …

Dit verklaar ook Cornelius se uitlatings dat “die Bybel mites bevat” en “Mites is denkbeeldige vertolking van ons bestaan met ons harte. So is die Bybel in werklikheid ’n pragtige versameling mites” en “mites is ’n treetjie die ewigheid in” en “is daar ’n verstommende ooreenkoms in die pragtige mites uit die Griekse, Noorse, en Romeinse … tussen dié van baie ver en afgeleë kontinente soos Asië, die Amerikas, Oseanië en Afrika. Elk van die uiteenlopende kulture en beskawings ag hul mites heilig en bring dit diep uit hul geskiedenis saam”, wat hy met sy eie geloofstandpunt in verband bring.

Dus, as Cornelius sy eie lastering glo, sal die Geestelike hoedanigheid van heiligheid al dan nie, nie deur die Godheid bepaal word nie, maar deur die “beskawings” wat hul eie mites uit hulle geskiedenis heilig ag, sulke “figments of the imagination” (tipies Katoliek wat die lasterlike vermetelheid het om mense tot heiliges te wil “verklaar”) … want vir Cornelius is die Godheid dan mos ook ’n mite en op só ’n manier sê Cornelius eintlik “anything goes”, ten spyte van die HERE, Wie uitdruklik die mens weerspreek, wanneer Hy sê “6 … Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7 As julle My geken het, sou julle My Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.” – Johannes 14. Maar omdat Cornelius die HERE en Sy Woord as ’n mite, ’n onwerklikheid, sien, maak hy ook só met die woord soos daar normaalweg met mites gemaak word – kyk maar na die ateïste – toe hul kinders was, het hulle hul vergaap aan die mites. Maar nou vee hulle hul jisse aan dieselfde mites af (Cornelius het nog nie daardie stadium van emosionele volwassenheid bereik nie) soos Cornelius met die Woord doen, terwyl hulle, én Cornelius, nie in staat is om die verskil te ken en begryp tussen Goddelike werklikheid en mites nie.

Maar diegene van ons en daar is báie, wie vir God werklik ken, weet dat die woord en begrip “mite”, nie in dieselfde asem as God hoort nie.

Groete,

Kobus de Klerk

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top