Contrary – Critical Responses to the Novels of André Brink

  • 0

Titel: Contrary – Critical Responses to the Novels of André Brink
Skrywers: Karina Magdalena Szczurek; Willie Burger (reds)
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869198466

 

Koop Contrary – Critical Responses to the Novels of André Brink by Kalahari.com.

 

 

 

’n Twintigtal essays/artikels oor die werk van André P Brink is vir die liefhebber van die letterkunde ’n aangename mondvol. Soos te verwagte is nie al die bydraes op dieselfde peil nie, maar nie ’n enkele een kan as totaal onbevredigend afgemaak word nie. Die benaderingswyses is uiters gevarieerd en van verveling is daar nie sprake nie.

Wanneer ’n leser sy sit kry vir die lees van ’n bundel literêre opstelle in ’n tyd van groot armoede in dié genre, stel hy sekere verwagtinge: Gaan al die belangrike romans iewers ’n plekkie kry? Gaan die teoretiese raamwerke telkens aanpas by die boek onder bespreking? En sekerlik: Gaan dit leesbaar wees, of droë literêre gimnastiek? Grotendeels word die leser nie teleurgestel nie.

Alhoewel Brink se oeuvre uitgebreid en talryk is, is daar, soos by die meeste romanskrywers, tog deurlopende motiewe: by Brink die betrokke en versetsliteratuur, die vele fasette van die manlike skrywer se siening van die vrou, en die seksuele as metafoor vir verskeie aspekte van die menslike psige. Hierdie sentrale aspekte van die skrywer se werk, en ‘n menigte uitlopers daarvan, word inderdaad ruimskoots belig. Alhoewel die bundel nie as ’n eenheid gekonsipieer is nie, verkry dit deur die redigering ’n eenheidsgestalte.

Die eerste opstel, "Out of the Laager" van Nicholas Wroe, is van die teleurstellendstes, waar ’n buitelander die politieke situasie waarteen Brink hom verset, skets. Dit bevat geen nuwe insigte nie, en maak die bekende fout om die sentrale rol van ander skrywers vaag te laat. Brink het saam met ander skrywers hierdie pad begin loop, en die drama rondom ’n verbanne Afrikaanse boek het wesenlik gewentel om Etienne Leroux se Magersfontein, O Magersfontein! en nie om ’n Oomblik in die wind nie. Waar die bundel wesenlik literêr van aard is, is hierdie bydrae se teenwoordigheid selfs te bevraagteken, aangesien dit die literêre gang van Brink se werk nie werklik verreken nie.

’n Uiters deeglike bydrae is Godfrey Meintjies se oorsig oor die werk van Brink. In die besonder bied Meintjies ’n puik ontleding van die begrip littérature engagée soos dit in Brink se werk ontwikkel het. In die ruimste sin van die woord is dit miskien die heel belangrikste vertrekpunt by die ontleding van hierdie skrywer se werk. Brink het hierdie literêre opgaaf nie slegs na ’n hoogtepunt in Afrikaans geneem nie, maar die begrip met nuwe inhoude gevul. Meintjies bied hier feitlik ’n templaat waarbinne Brink gelees kan word. Hierdie bydrae open ’n gesprek oor waar, presies, Brink binne die Afrikaanse literêre kanon staan. Noukeurige analitiese lesings van byvoorbeeld Inteendeel, Donkermaan en ander in gesprek met Magersfontein en Kroniek van Perdepoort,daardie groot en miskende roman van Anna M Louw, kan vrugbaar wees vir ’n Suid-Afrikaanse littérature engagée-oorsig.By talle bydraes voel die leser hom verdwaal in ’n Europese denkwêreld, so gesofistikeerd en salonmatig. Brink se romans handel oor Afrika, intens Afrika.

Richard Peck skryf oor die eksistensialisme by Brink. Vanselfsprekend begin ons by Camus, maar gelukkig loop hierdie gesprek oor na Fugard en Gordimer en Brink se aanklank by hierdie dramaturg en romansier. Hierdie bespreking is stewig gefundeer binne die ontleding van bepaalde werke en word dus nie ’n filosofiese betoog sonder meer nie. Oor die eksistensialisme by Brink is al baie geskryf, en met Brink se fenomenale kennis van filosofiese en teoretiese konsepte kon hy hierdie tendense inderdaad puik deel maak van sy romanstruktuur en veral karakterisering. ’n Belangrike aspek wat hier belig word, is al drie hierdie skrywers se uitgangspunt van "how one’s own actions can inspire others".

In "Fallogosentriese konstruksie van vroulikheid in die pre-postmodernistiese Brink-oeuvre" ondersoek Christell Stander die belangrike tema van die vrou, of eerder feminiteit, in Brink se werk. Die artikel gaan eerlik en direk om met die kompleksiteite van hierdie bra omstrede aspek van die skrywer se werk. Sy bevind wel dat menslikheid vir Brink steeds “manlikheid” beteken en "dat sy eise van betrokkenheid steeds binne die perke van die behoud van patriargie lê". Inderdaad is dit ’n tema vir ’n ruim gesprek. Die gender-konstruk is ’n onderwerp wat so wyd soos die vlaktes geword het, en dit word al hoe moeiliker om binne ’n bepaalde definisie te werk. As Stander beweer dat "kennis van vroulikheid altyd simbolies (is), altyd in die Wet van die Vader", word haar beskouing mitologies van aard en verloor dit die verband met die konkrete werklikheid van vroulikheid in die letterkunde. By Brink, veral in Antjie van Bengale se "figuur/gees", mag hy in daardie rigting neig, maar daar is te veel konkreetheid in sy werk om enigsins ’n mitologiese bedekking te soek.

Ampie Coetzee bespreek seksualiteit en stereotipes in die werk van Brink, een van die mees gekritiseerde aspekte van Brink se werk.

"The making of a Colonial Myth" is ’n vergelyking van "The Mrs Fraser Story in Patrick White’s A Fringe of Leaves en André Brink se An Instant in the Wind (AJ Hassall). Dit is ’n besonder insiggewende en gebalanseerde artikel waarin die vergelykbare geesteswêreld van die Australiese aborigines en die Suid-Afrikaanse situasie in parallel gebring word. Om Hassall self aan te haal: "Within traditional narrative structures, and using a story that has fascinated writers, painters and film-makers for 150 years, Patrick White and André Brink portray the agonised encounters between old cultures and new lands ... and between the individual soul and its unfamiliar landscapes." Dit is die ou storie wat letterkunde steeds relevant hou, die verhaal van die menslike siel in sy aanpassing in ’n landskap wat steeds verander en nuwe eise stel. Hierin lê inderdaad die grootheid van ’n roman.

Van die skrywers loop wye draaie om Brink op dieselfde foto met groot skrywers te bring. Natuurlik word ’n akademiese skrywer soos Brink blootgestel aan die werk van talle ander. Dat elke groot skrywer egter iewers skouers skuur met ander groot skrywers in artistieke en skeppende sin, word soms te ver gevoer. Die gedurige bybring van grotes soos byvoorbeeld Edward Said en ander, en die konstante verwysings na bekende teoretici, word blote erudisie. Hoekom voel sommige literatore hulle genoodsaak om die speletjie van literêre "name-dropping" te speel?

In ieder geval, Isidore Diala skryf oor die kartografie van "myth making" en kom tot die gevolgtrekking dat "André Brink, like Said, proposes that the intellectual transcends the myth of scholarly endeavours as non-political, socially disinfected and objective, and accepts the worldliness of his productions." In hierdie steierende intellektuele hoogtes is dit dalk goed om te onthou wat Borges gesê het: "For in the beginning of literature is the myth, and in the end as well." Letterkunde is mite, en vir die skrywer is die soeke na die lewende mite, volgens Etienne Leroux, die blywende bedryf.

Jochen Petzold vergelyk Sol Plaatje se Mhudi, Peter Abrahams se Wild Conquest en Brink se Sandkastele onder die titel "’Translating’ the Great Trek to the Twentieth Century". Alhoewel sekere aannames aan die naïewe kant is, is dit ’n boeiende stuk. My beswaar teen die artikel is dat die skrywer so verdiep geraak het in sy teoretiese model dat Brink, oor wie die bundel gaan, op die kantlyn beland het. In ieder geval is Sandkastele so ’n merkwaardige roman dat enige bespreking wat daarby aansluit, welkom is. Vergelykende studies bly van die mees illuminerende ontledings om ’n bepaalde werk in perspektief te plaas.

Die bydrae van Lianne Barnard handel juis oor Sandkastele. Aan die basis van hierdie puik stuk is ’n ontleding van die historiese elemente van hierdie – of trouens enige – roman. Met die interteks van DJ Opperman se "Kroniek van Kristien" (Blom en Baaierd) verduidelik Barnard haar benadering. Die bespreking is sistematies en duidelik uiteengesit en maak deurentyd sin. Dit laat die leser ook met die heerlike opdrag om opnuut die Opperman-teks, en trouens die Middeleeuse verhaal van die Heilige Kristina, weer te lees. ’n Artikel soos hierdie sê nie alleen duidelik wat dit wil sê nie, maar is ook stimulerend.

By die lees van hierdie bundel het ek my afgevra: Wat is die nut van literêre kritiek? Sekerlik is die eerste funksie die stel van literêre standaarde, en dít verg eerlike oordeel en ook goed-onderlegde kennis van die letterkunde. Is ’n spel met begrippe en ontledings wat bloot ’n oefening is in die toepassing van ’n bepaalde teorie of ’n vertoon van belesenheid belangrik? Nee, absoluut nee – dit is vingeroefeninge vir studente en akademiese bespiegeling. Dit is voorstudie vir ’n meestersgraad of akademiese tydverdryf. Is die bepaling van invloede en denkrigtings in die werk van ’n skrywer belangrik? Ja, vir akademiese doeleindes; en as dit lei tot ’n beter begrip van die werk. Om literêre kritiek lewend te hou, is slegs een saak van kardinale belang: om metodes te formuleer waardeur die volle omvang en skoonheid van ’n literêre werk ontsluit kan word en tot sy essensie deurgedring kan word, en om daardie insigte in verstaanbare en verteerbare vorm oor te dra aan die leser vir wie die letterkunde bedoel is. Joan Hambidge slaag baie goed daarin om hierdie soort kritiek te skryf.

Daar is sulke essays in Contrary; daar is egter ook pure akademiese getokkel vir ander akademici.

’n Artikel wat voldoen aan die eis om ’n boek vir die leser oop te maak, is Heilna du Plooy se "Die huis as domein – ’n Ganse lewe in ’n intieme ruimte”. Dit is ’n ruimtelike ontleding van Donkermaan, miskien Brink se mees mistieke roman. Du Plooy stel ’n duidelike teoretiese model voorop aan die hand van Gaston Bachelard se The poetics of Space. Deur as’t ware deur die roman te wandel, ontleed sy die rol van die huis in die lewe van die hoofkarakter Ruben. Uit die konkrete ruimte van die huis beweeg sy na die waarneming dat die "menslike psige ’n tuiste vir die self is" (vergelyk ook Jung). Deur Antjie ontdek Ruben die bande met die verlede en die geskiedenis. Geleidelik ontwikkel hierdie rustige bespreking deur die huis as psigiese ruimte, die huis as verhaal en die huis as die self. So ’n ontleding gee volkome sin aan literêre kritiek.

Willie Burger se bespreking van Bidsprinkaan handel oor die aard van storie en hoe om anderkant die storie te kom. Dit is ’n uiters leesbare stuk, maar die klem op postmodernisme word ’n bietjie uitgerafel. Nietemin ’n sinvolle bydrae.

’n Paar ander belangrike bydraes is Peter Horn se bespeking van On the Contrary oor die rol van Afrika-tradisies en die betekenis hiervan vir die werk van Brink en ander skrywers. "The writer who disregards the rules of the archive will find himself or herself in the position of an outsider. Will South African writers continue to be ’the anarchist who accepts no authority outside the work itself; [will they still be] the terrorist who regards nothing as sacred, and attacks in the name of freedom," skryf hy. Sekerlik ’n uitspraak wat opnuut in Suid-Afrika van belang is.

Van Neil Cochrane is daar ’n aantreklike artikel oor "Die pikareske tematiek in André P Brink se Inteendeel”.’n Duidelike en insiggewende stuk wat die aandag op ’n besondere aspek van Brink se werk laat val.

’n Ewe gawe artikel is Johan Anker se verfrissende ontleding van die tegniek van die mise en abyme aan die hand van Dällenbach se The Mirror in the Text. Die idee kom van die gebruik van skilders om in die skildery ’n klein konvekse spieël te plaas wat die binnekant van die vertrek waarin die skildery voltooi word, weerkaats. Anker herlei hierdie konsep na ’n bespreking van Brink se Ander Lewens.

’n Ander artikel waarin die literêre wêreld van Brink se romans skakels vind met ’n breër domein van die kunste is die voortreflike stuk van Mathilde Bothma en Henriette Roos: "Intertekstuele skakels". Hier word gekyk na die terugreik na ’n Westerse wêreld vanuit ’n Afrika-sentiment in enkele Brink-romans. Onder meer word die werk van Jeroen Bosch grafies betrek deur afbeeldings van Die tuin van luste, en ook Die versoekinge van Sint Antonius, die bekende Lissabon-triptiek. Die opstel is ryk aan insigte en ek haal slegs die volgende aan:“(Donkermaan, Inteendeel en Sandkastele) kan gelees word as skakels in ’n narratiewe ketting waardeur Suid-Afrikaanse geskiedenis, maar ook voorstelle vir alternatiewe sosiopolitieke strukture beskryf word."

Monica Bungaro skryf oor "Male Feminist Fiction"; Ute Kauer skryf interessant oor "The need to storify"; en Hennie van Coller belig in sy artikel hoofsaaklik resepsie-aspekte van Brink se werk. Al hierdie artikels is baie leesbaar vir ’n volledige beeld van Brink se werk en die ontvangs daarvan.

’n Besonderse bydrae is Louise Viljoen se "Kan die slaaf praat?" Sy bied ’n boeiende perspektief op hierdie uiters belangrike faset van Brink se romans, ook van die mees besproke aspekte van sy werk aan die hand van veral ’n Oomblik in die wind, Houd-den-bek, Inteendeel en Donkermaan. In ’n goedgestruktureerde ontleding van elkeen van hierdie vier romans en die onderlinge wisselwerking tussen hulle word die bespreking van Brink se benadering tot die slaaf nie alleen as enkeltema aangebied nie, maar bring dit ’n verstommende insig in Brink se werkwyse as verteller en karakter-skepper.

Contrary is omvattend – oor Brink se werk, maar ook in doodgewone volume. Redelike, goeie en uitstekende artikels wissel mekaar af. Op die ou end is die toeganklikste gewoonlik ook die beste, soos dié bespreking subtiel en minder subtiel probeer aantoon het. Inderdaad ’n belangrike werk vir die Afrikaanse literêre argief en vir die lesers van Brink se werk.

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top