
Wenner: Elmarie Viljoen-Massyn vir Vuurvoël (Human & Rousseau)
Commendatio: Beer Adriaanse
In ’n land soos Suid-Afrika waar ons woestyne, woude, strande, berge en vlaktes ons wêreldwyd ’n gewilde filmbestemming maak, troon een onontginde bestemming bo almal uit – Bloemfontein. Elmarie Viljoen-Massyn se debuutroman, Vuurvoël, stel hierdie versuim reg. Die roman vertel van ’n sinistere komplot wat teen die duistere agterweë van korporatiewe Bloemfontein afspeel.
Suid-Afrika se misdaadtrauma spoel uit in ons literatuur en televisienarratiewe. Dis verfrissend om ’n roman soos Vuurvoël te lees, met misdaad steeds die kernsneller, maar waarin besnorde speurders, reeksmoordenaars en onbeholpe polisiebeamptes totaal afwesig is. Hierdie digte, onvoorspelbare roman is só buitengewoon dat mens sonder vrees van teëspraak kan sê daar was nog nie so iets in Afrikaans nie – nie in boeke nie, nie in rolrente nie, nie op TV nie.
Vuurvoël lei ons in die raaiselagtige wêreld van Big Pharma in – ’n wêreld waar bekookte finansiële state, vervalste toetse en ’n duiwelse winsmarge werklike reeksmoordenaars soos amateurs laat lyk. ’n Suid-Afrikaner is in Chicago die CEO van ’n farmaseutiese reus. Dink net aan die kombinasie – Bloemfontein en Chicago! Hy dra duur horlosies en lees tydskrifte vir eienaars van private eilande. Nou, as hy die goeie ou is, hoe lyk die skarminkels?
Ons ontmoet ’n Serwiese klubeienaar, gewetenloos en gevaarlik bygelowig. Sy liefde vir sokker word slegs oorskadu deur sy liefde vir geld. Ons ontmoet ook twee Kongolese broers wat weet dat niks wat hulle nou doen, erger kan wees as die dinge wat hulle in hul jeug in Sentraal-Afrika beleef het nie.
Die brug tussen al hierdie uiteenlopende wêrelde, en ’n rol waaroor die meeste plaaslike akteurs sal vuisslaan, is ’n plaaslike “fixer” genaamd Riaan. Hy verbind Big Pharma met misdaad en die onderwêreld. Riaan is so snaaks as wat hy tragies is. Massyn-Viljoen maak selfs van so ’n slang ’n mens.
Almal ken Stieg Larsson se The girl with the dragon tattoo, maar in Vuurvoël het ons die Bloemgirl met die Russiese vuurvoël-tatoe oor haar derdegraadse brandwonde. Stella. Sy is ’n protagonis wat letterlik en figuurlik in die smeltkroes – of eerder, brandstapel – van haar traumatiese verlede aanmekaargesit is. Nou soek sy antwoorde, óf dalk wraak. Dit maak nie eintlik saak nie, want as karakter is sy totaal onvoorspelbaar binne ’n verhaal met meer lokbokkems as ’n visfabriek.
Vuurvoël benut ’n verskeidenheid groot temas, maar waar dit werklik uitstyg, is in die aanwending van ’n deurweekte en skalkse humorsin wat, soos met enige chemiese verbinding, in baie presiese mates bygevoeg moet word om te werk. Dit is die soort materiaal waaroor ’n filmmaker droom.
Behalwe dat dit uiteindelik Bloemfontein se ontluikende filmbestemmingstatus ’n hupstoot kan gee, bied Vuurvoël ’n unieke fondament vir ’n filmverwerking. Dit kan as speelfilm of TV-reeks werk. Dit stel groot kinematiese uitdagings (hoe anders met ’n sentrale as van Bloemfontein-Chicago?), maar sal vir sowel regisseur as spelers ’n loopbaanmylpaal kan word.
Dis ’n speelse skrywersvinger wat die lyne van hierdie storie naspoor, soos die letsels op Stella se liggaam. Die kamera sal verlief wees op haar. Eers as mens terugstaan, besef jy hoe die letsels en die tattoeëermerk ’n uiters gedetailleerde kunswerk vorm wat alles, van origamimotte en Kongolese rofstoeiers tot Bloemfonteinse sonsondergange en selfs Joan of Arc insluit.
Die pap is dik aangemaak, of in hierdie geval, die salf. Dit is met genoë dat ons die kykNET-Rapportprys vir die mees verfilmbare roman aan Vuurvoël toeken.
Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2024.
Lees ook:

