
Foto: Canva
Collage – Drie Koppen
’n skilpad op sy dop gedraai
verbete roei sy pote lug
wie sou dit doen?
so laat ek raai:
rooijakkals de vos
’n vaalboskat ... en toe gevlug?
sy pote soek vergeefs vir vastrapplek
en wyl hy so bly lê
tree aan die heer de vos
om hart en derms uit te trek
ek sien die logge dier
van nature werksaam in die nag
maar in die helder son
van agter af
sien ek hom met dikke stert
en yl behaar
loop hy teen die windjie op
ronde snoet oorgroot ore boggelrug
met lang grys tong
haal die erdvark
larwes en termiete
uit ’n miershoop uit
’n dassie sit knus
en bak in die son
’n arend sweef op soek na kos
hy sien die das –
sy neus wat effens roer
loodreg duik hy na sy prooi
sy kloue skeur deur dassievel
hy neem hom hoog en laat hom val
“tot die dood ons skei,” fluister hy
“ja, tot dan,” belowe sy
in die gloor van die dag se goue uur
pronk die jong steenbokpaar
speels stamp hul koppe teen mekaar
geen seremonie geen getuies by
die graatjies staan
’n stuk of tien
graatjies, agies, honger magies
die langste een kan verste sien
en as hy gevaar gewaar
koes hy
en met stertjies pylregop
glip hul by die gate in

