Cobus, Max en Flip

  • 0

Ek luister nou die dag ’n besprekinkie raak op Monitor – Cobus Bester gesels met twee gaste naamlik Flip Buys en Max du Preez oor die krisisberaad van die Solidariteitsbeweging die vorige naweek.

Cobus vertel in ’n stadium vir Flip dat ‘die mense sê’ (of was dit nou ‘van die luisteraars sê’, ‘n ou laai van partydige omroepers om onpartydig te klink) dat hierdie beraad kom weer neer op ’n ‘ons-hulle’-houding. Die ‘ons-hulle’-houding is ’n groot sonde in die nuwe SA; die wit pienkes soos Max en Kobus weet nou kamtig nie wat dit is nie, dis nêrens in hulle verwysingsmatriks nie. Die wit normale mense soos Flip en Dan mag dit nie noem nie want dan skree die pienkes “Aha! Uitgevang!” en die bruines, ongeag hulle politieke oortuiging, mag met algehele immuniteit daarvan en daaroor praat, kyk nou maar byvoorbeeld vir Jason Lloyd; hy verwys baie na Afrikaners en ‘leliewit’. Snaaks nè?

Ewentwel, die oomblik toe Flip die woord ‘ons’ gebruik val Max hom verontwaardig in die rede en wou weet wie die ‘ons’ nou eintlik is en vervolg met daardie geykte ou toesprakie van ons is almal Suid-Afrikaners wat hand-aan-hand glimlaggend en jubelend in ons reënboogjassies die blink toekoms binne huppel.

Lees Max nie koerant, of kyk en luister hy nie nuus nie? Praat hy nie met mense nie? ‘Ons’ is daardie mense wat nie meer Afrikaanse universiteite het nie, daardie mense waarvan die skole nou ‘n verengelsende aanslag ondervind, daardie mense wat nie span, universiteitstoelating en/of bevordering kry op grond van ras nie. ‘Ons’ is daardie mense wie se dorp-, straat- en plekname verander word, wat nie meer hulle taal by polisie-aanklagkantore, die belastingkantoor, die poskantoor en staatsdepartemente kan praat nie.

Dit is maar onder andere; as Max nog kenmerke van hierdie ‘ons’, wat vir hom so ’n raaisel is, soek moet hy maar by Jason of Franklin Sonn gaan kers opsteek.

Terloops, ‘pienk’ verwys na halfrooi; in die ou tyd was na 'n kommunis as ‘rooi’ verwys.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top