Claassen en Gaum se politiek-gepreokkupeerde medewerkers

  • 1

In hierdie vierde skrywe oor George Claassen en Frits Gaum se boek, God? Gesprekke oor die Oorsprong en Uiteinde van Alles (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 384p), word aandag gegee aan die bydraes van vier politiek-gepreokkupeerde medewerkers; twee ongelowiges, gevolg deur twee gelowiges. Al vier word ook sterk deur ander modegiere beïnvloed.

Willemien Brümmer word as ’n politiek-korrekte hier ingedeel, hoewel sy minder gepreokkupeerd met politiek as die ander is. Haar bydrae begin met verwysing na twyfel. Sy herformuleer René Descartes se stelling soos volg: "Ek twyfel, daarom is ek" (p 204). Naas dink en twyfel sal iedere menslike aktiwiteit natuurlik tot hierdie gevolgtrekking lei. ’n Stelling wat dogmatici gerus behoort te oorweeg, is: "’n Mens moet darem die beskeidenheid van twyfel hê" (p 204). Maar openbaar Brümmer gesonde twyfel buite die religie? "Ons lewe, goddank, deesdae in ’n demokratiese en sekulêre staat" (p 211). Let op hierdie saamgroepering: "’n Hitler, ’n Verwoerd, ’n Stalin" (p 214). Wat boosheid betref is Verwoerd glad nie in dieselfde liga as Hitler en Stalin nie. ’n Mens moet jouself ook eerlik afvra: Was die Swart Gevaar en die Rooi Gevaar (p 215) gedenkbeeldig of werklik? Brümmer voel blykbaar aangetrokke tot smart, maar dit het by haar ’n selektiewe aanlokkingskrag, naamlik net (of veral) wanneer dit politiek-korrek is. Sy haal Willie Esterhuyse aan wat beweer "die oudste gedokumenteerde beskouinge" kom uit Egipte (p 213). Gewoonlik word die Mesopotamiese kleitablette egter as ouer dokumente as die Egiptiese papirusrolle gedateer. Dit is riskant om aan te neem dat al die skeppingsverhale op ’n enkele oerbron steun (p 213).

Christi van der Westhuizen is bekend vir haar politieke korrektheid en feminisme. In die christelike tradisie van die Afrikaner word vroue glo minderwaardig voorgestel: "Die Christelike godsdiens, soos meestal beoefen in Afrikanerverband, versterk die ideologiese uitkerwing van spesifieke rolle vir vroue en mans" (p 351). Sy beweer: "Afrikaners voel individueel en kollektief skuldig aan die verontmenslikende stelsel van apartheid" (p 354). Sy kom tot die twyfelagtige gevolgtrekking dat omdat Afrikaners hunker na stabiliteit dit wil "voorkom asof daar deesdae ’n meer dringende gegryp na godsdiens onder Afrikaners is" (p 354, ook p 357). My waarneming is die teenoorgestelde, naamlik dat Afrikaners tans minder vertroue as voorheen in godsdiens, die kerk en kerklui (en natuurlik politici) het; dat hierdie elemente se gesaghebbendheid toenemend bevraagteken word, dat daar ’n vertrouensbreuk is. Die Angus Buchan-verskynsel hef dit nie op nie en Van der Westhuizen sal beswaard oor so ’n versamelaksie van mans wees. Op soek na wonderwerke beveel sy aan: "Klim Tafelberg uit en vergaap jou" (p 360). Dalk is die wonderwerk nie die aanskouing van die natuurskoon nie, maar die geluk as jy dáár nie nog ’n misdaadslagoffer word nie.

Nico Koopman noem God onder andere ’n Versoener. "Hy was toe al die God wat my waardigheid en kosbaarheid as mens bevestig het ... God [is] ... veral by ons ... wanneer dit sleg gaan" (p 243). God kry "as’t ware maagsenuwees ... as sy skepsels swaarkry" (p 244). Hy verwys (klaarblyklik met apartheid in gedagte) na "soveel negatiewe en lelike dinge wat in die verlede in die naam van die Christelike geloof gedoen is" (p 249). Dit is duidelik dat ’n bevrydingsteoloog hier aan die woord is. Hy maak daarop aanspraak dat hy weet wat die bedoeling met die Bybelverhale is (p 244, 245). Dit gaan vir hom primêr om wat hy geregtigheid noem. Slawerny en apartheid word as "sondige sosiale strukture" geëtiketteer (p 246). Sulke sondaars het verlossing en heling nodig (p 249). Sy visie van demokrasie sluit nie net geregtigheid en menswaardigheid in nie, maar ook vryheid (p 250). Hierdie ideale vind uitdrukking in menseregte, vryheidsregte en gelykheidsregte (p 251). Hy noem nie enige verpligtinge as teenprestasie nie. Hy besin nie oor die aard en grense van vryheid en die aard en onhaalbaarheid van gelykheid nie. Hy skryf van "kommunale en kollektiewe" (p 246), asook van "reëel en werklik" (p 251). Dit sal interessant wees om te weet hoe in hierdie pare die eerste term van die tweede verskil. Hulle is waarskynlik sinonieme. Op ’n soortgelyke manier praat Laurie Gaum van "nadink en daarop reflekteer" (p 200). Dit is soos my skoonma wat aan almal wat wil luister raad én advies gee.

Waar Koopman die klem op geregtigheid plaas, is sy kollega Julie Claassens behep met menswaardigheid, wat in verband gebring kan word met die mens as geskape na die beeld van God (p 278). Die beklemtoning van menseregte, die veroordeling van slawerny en apartheid ("die draak van apartheid", "die kettings van onderdrukking", p 282), asook die regverdiging van die stryd om burgerregte in die VSA (p 280), volg hieruit. Waar Koopman praat van ’n Versoener-God, verwys Claassens na ’n Bevryder-God (p 280). Dit kan gebruik word om die Belydenis van Belhar in ’n gunstige lig te plaas (p 281). Feminisme is deel van Claassens se pakket, wat ook kos insluit, tot by borsvoeding. "Ek [is] lief vir ... lekker eet, goeie wyn" (p 275). Sy vestig die aandag daarop dat Jesus kos voorsien het (p 280). Die tema van haar doktorale proefskrif is: "God wat voed" (p 275).

Claassens: "Die bydrae van iets soos die bevrydingsteologie is dat dit ons gehelp het om ’n God raak te sien wat aan die kant van diegene is wat swaarkry, en wat mense aanspoor om ’n verskil in ander se lyding te maak" (p 277). Sy stel die vraag: "Hoekom vermoor mense mekaar?" (p 278). In hulle stryd teen die Kanaäniete is die Israeliete "verantwoordelik vir die geweld wat in God se naam gepleeg word. Dit is nie noodwendig God wat die geweld goedkeur nie, maar die mense (in dié geval die Israeliete) wat God gebruik om hul oorloë te regverdig" (p 279). Hierin kan ’n mens lees dat die dade van die Afrikaners en die hedendaagse Israelies politiek-korrek veroordeel moet word.

Claassens: "In my eie werk as feministiese teoloog probeer ek om skadelike tekste en konstruksies uit die Bybel te dekonstueer en positiewe beelde uit te lig wat, ten spyte van die patriagale konteks waaruit die Bybel ontwikkel het, ’n ander wêreld verbeel" (p 281). "Dit is vir my wonderlik om goeie akademiese insigte op eksistensiële vlak aan mense oor te dra - gewoonlik ook eers as dit deur myself beweeg het" (p 283). Sy noem hierdie proses "om God in studie te ontmoet" (p 283). "Dit is deur kritiese nadenke en die beste navorsing dat ek soek om God te eer" (p 283). "In sommige gevalle mag dit vir mense bevrydend wees om te begryp dat hulle op ’n nuwe manier na die Bybel kan kyk" (p 283-284).

Koopman beweer dat hy weet wat die Bybelskrywers bedoel en dat dit is wat hy verkondig. By Claassens gaan dit om op ’n nuwe manier na die Bybel te kyk, om dit aan te pas (te dekonstrueer) sodat dit verkondig wat sy wil hê; wat sy "verbeel". By sowel Koopman as Claassens is die resultaat dieselfde: hulle word gelei deur daardie hedendaagse modegiere waarby hulle aanklank vind. Die "positiewe beelde", "goeie akademiese insigte" en "beste navorsing" (genoem in die vorige paragraaf) verwys oënskynlik na daardie opvattings waarmee Claassens haar subjektief vereenselwig, dus wat (soos hierbo aangehaal) deur haarself beweeg het. Dit behoef geen betoog nie dat die dinge waarmee Koopman en Claassens hulle by voorkeur besig hou nie tydens die ontstaan van die Bybel prominent was nie.

Ek onthou ’n tyd toe daar egte, deurwinterde akademici aan die Stellenboschse Kweekskool verbonde was wat hulle nie deur modestrominge laat lei het nie, of dan ten minste nie in dieselfde mate as wat tans blykbaar die geval in daardie Fakulteit Teologie is nie. Daar was mense soos Bennie Keet, Willie Jonker en Nico Smith wat nie saam met die stroom gegaan het nie. Wanneer word die bevrydingsteoloë in die fakulteit ter wille van balans deur mede-teoloë teengespreek en kortgevat? Waarom word daar nie deur sulke teoloë aangetoon dat daar wesenlike gevare is nie, soos in swart mag (bv geweldadige massa-aksie), demokrasie (omdat die meeste kiesers swak ingelig en baie van hulle ongeletterd is), gedwonge rasse-integrasie en multikulturaliteit? Hoekom word die geweldpleging deur die gepeupel en hulle leiers tydens en na die sogenaamde bevrydingstryd nie veroordeel nie? Moet regte nie vanselfsprekend saamgaan met verantwoordelikhede nie? Wanneer word die "lelike dinge" (hierbo aangehaal) wat die wittes volgens Koopman gedoen het, gebalanseer met erkentlikheid vir wat wittes oor eeue tot stand gebring het? Wanneer word daar dank uitgespreek vir al die mooi en goeie dinge wat wittes gedoen het en steeds doen? So ’n teenaksie kan ’n groot bydrae tot versoening lewer.

Die oënskynlike selfvoldaanheid van Koopman en Claassens stem my tot droefheid, bv Koopman se (hierbo aangehaalde) gewaande eie "kosbaarheid as mens". In werklikheid is sy bestaan (soos dié van iedere mens) hoogs opsioneel; dalk selfs ongewens. ’n Mens moet jouself darem baie hoog aanslaan as jy die vraag, "Waarheen gaan Christina Landman as sy sterf?", soos volg beantwoord: "Ek sal by God wees" (p 304). ’n Gewilde sê-dingetjie is dat ons blykbaar nie meer doodgewone stof is nie, maar sterstof (p 102, 188); moontlik om ons beter te laat voel. Ek gee voorkeur aan die beskeidenheid en groter realisme van Pienkes du Plessis, waarvolgens ek maar net "’n minuskule sandkorreltjie-mens" (p 315) is.

Volgende keer skryf ek hopelik vir die laaste maal oor hierdie boek. Dan kom twee ideologie-gepreokkupeerde medewerkers (’n gelowige en ’n ongelowige) aan die beurt.

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • 'n Poging tot 'n rasionele gesprek met 'n gelowige lei selde tot iets. Gelowiges is op 'n unieke wyse gepantser teen rasionele denke en bevragtekening soos Greta Christina dit stel:

    “Religion is ultimately dependent on belief in invisible beings, inaudible voices, intangible entities, undetectable forces, and events and judgements that happen after we die. It therefore has no reality check and it is therefore uniquely armoured against criticism, questioning, and self-correction.” Greta Christina

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top