In hierdie vyfde en hopelik laaste skrywe oor George Claassen en Frits Gaum se boek, God? Gesprekke oor die Oorsprong en Uiteinde van Alles (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 384p), gaan dit om ’n gelowige en daarna om ’n ongelowige wat ideologie-gepreokkupeerd is. Die woord "ideologie" word hier ingebring na aanleiding van Anton van Niekerk se opmerking: "Wetenskap wat geloof probeer wees, word ideologie" (p 225). Hy verwys na Richard Dawkins wat "met pontifikale sekerheid deklameer dat alle geloof versinsel is" (p 226). By die medewerker wat ek hieronder eerste bespreek, word gayheid ’n ideologie, terwyl die tweede medewerker haar fanatiese politiek tot ’n ononderhandelbare ideologie verhef; sy is "vir altyd" so (p 104).
By Laurie Gaum funksioneer die gayverskynselsoos ’n ideologie wat alles deursuur. Hy verklaar openlik dat hy die Bybel "doelbewus vanuit die perspektief van my ervaring, en dan juis my gay-ervaring" lees. Hy noem dit "’n bevrydingsteologiese keuse" (p 191, 199). "Ek [is] gay gemaak ... na die beeld van God" (p 194). "Ek gebruik ’n teologiese begrip om met trots my seksuele identiteit te kommunikeer" (p 194). Laurie was in ’n gemeente vir swartes en daarna in ’n gemeente vir bruines werksaam. Sy voorkeur is om nie binne ’n enkele kerkgenootskap ingeperk te wees nie. Hy verkies om op ’n intergeloofs- (of ekumeniese) manier aktief te wees.
Daardie geleentheid word deur die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit, waar hy tans werk, gebied. Hierdie sentrum is in 1987 deur Desmond Tutu gestig. Tutu beweer: "God [is] geen Christen ... nie omdat God besorg is oor ál God se kinders" (p 199). Uitgaande van die aanname dat alle mense wesenlik goed is omdat hulle almal na die beeld van God geskape is, gaan dit by Tutu se sentrum om "herstellende geregtigheid" (p 193). Die aanname dat alle mense wesenlik goed is, weerspreek lynreg die Darwinistiese vertolking dat "die mens instinktief selfsugtig en uitbuitend" (p 100) of "van nature geweldadig en selfsugtig" is (p 215).
Laurie word dus tweeledig gerig: deur gaywees en deur die bevrydingsteologie soos geformuleer deur bv Tutu. Tradisionele christengelowiges sal moontlik dink dat die Laurie-appel ver van die Bybelboom geval het. Wat Piet Croucamp sê, kom op dieselfde neer: "Ek is steeds verbyster deur die verskynsel van homoseksuele christene. Die Bybel is onomwonde verdoemend wat hul seksuele voorkeur betref" (p 151).
Christene kan Laurie se stelling dat hy gay na die beeld van God gemaak is, afstootlik vind. Antjie Krog se bydrae begin met ’n tepelverwysing wat direk met God verbind word (p 95, 99) en waarskynlik meer mense, insluitende sommige ongelowiges, met weersin kan vervul. Dit herinner aan die omslagillustrasie van een van haar digbundels wat sy haar laat welgeval het. Maar dan beweer sy ook (en die waarheid daarvan kan bevraagteken word) dat "alle goeie kuns ... ten diepste eties" is (p 100).
Daar is by Krog blykbaar ’n neiging tot moedswilligheid. Dit is nie tot geslagsake beperk nie. Dit word uitgebrei na bv religie en politiek. Daarom praat sy van "die revolusionêre moontlikhede van Jesus ... om ter wille van ’n saak wat geanker is in geregtigheid op te staan teen gesag (wat ook regverdigheid veins)" (p 96); klaarblyklik ’n verwysing na apartheid. Kort na die woord "geregtigheid" volg feitlik onvermydelik frases soos "die God van die armes" en "aan die kant van die onderdruktes", asook "die hongeres, die armes ... swyendes regteloses" (p 98).
’n Mens kan begin wonder wanneer God in die nuwe Suid-Afrika van die kant van die tans bevoordeeldes (nie-wittes) na die kant van die tans benadeeldes (wittes) oorskuif. Terselfdertyd is daar egter ook die sekerheid dat dit iets is wat nooit deur bevrydingsteoloë voorgestaan sal word nie. Dit is iets wat nie op hulle geregtigheidshorison verskyn nie; net soos onreg volgens hulle net deur een kant gepleeg word.
Let op die volgende naïwiteit: "Op grond waarvan is dit verkeerd dat die vrou wat die wasgoed kom doen nege mense het wat van haar af leef en ek my eie studeerkamer het?" (p 100). Wat Krog moet besef, is dat dit nie (uitsluitlik) aan apartheid toegeskryf kan word nie, want dit is die soort verskynsel wat hom al oor baie eeue dwarsoor die wêreld voordoen. Dit toon ook dat alle mense nie eenders of gelyk is nie, dat gelyke geleenthede ’n hersenskim is en dat gelykverklaring nie gelykheid as resultaat het nie.
Daarna vra Krog waaragtig: "Waarom is Europa so onwillig om te deel?" (p 105). Dít terwyl die Europeërs miljoene armlastiges van buite (dikwels onwettige immigrante) moet onderhou en Westerse lande baie aalmoese na bv Afrika kanaliseer, terwyl (byna) niks konstruktiefs uit die Derde Wêreld kom nie. Dit kan nie aan uitbuiting deur wittes toegeskryf word nie. Leopold Scholtz se waarneming is: "Afrika sak steeds verder weg in sy selfvervaardigde ellende" (p 367).
Wat my van hierdie bundel ontstel, is die herhaling van dieselfde frases deur die politiek-korrektes en die verwysing na dieselfde outeurs (die Bybel, Jürgen Moltmann, Paul Ricoeur) as gesagsbronne deur die gelowiges; so asof mense nie self dink nie. ’n Mens sou verwag dat hier op ’n hoë intellektuele vlak beweeg word en dat die gespreksgenote self tot sinvolle gevolgtrekkings kon kom. Die bron of fondament van Krog se politieke gesindheid is die verrigtinge van die Waarheids- en Versoeningskommissie. Dit het haar "radikaal en vir altyd verander ... ek [is] oorweldig deur iemand soos Desmond Tutu en die slagoffers ... Hulle het die sentrale boodskap van die Bybel uitgeleef" (p 104). "Mandela het vergewe omdat hy wit mense as deel van sy verbondenheid ervaar. Wit mense sukkel om aan swart mense verbonde te voel" (p 106). "Die transformasie wat moet plaasvind, [is] dat wit mense moet begin werk om hul medemenslikheid terug te kry" (p 107).
Krog hou net aan en aan om die goedheid van swartes te besing en die wittes as sleg te verdoem. Daar is nie by haar die balans van bv Leopold Scholtz wat na sowel wit as swart rassiste verwys nie (p 371). Krog het bv ook die bate van "interverbondenheid" by die swartes geleer, naamlik: "’n Mens slegs kan word wat jy veronderstel is om te wees deur voluit [in] ... verbondenheid te leef met dit wat rondom jou is" (p 110). Maar die wittes is darem seker ook deel van daardie "dit"? "’n Mens kan egter net aan jouself bou deur vir en met ander, wat die voorvaders en die ganse universum insluit, te werk" (p 110). Weer: wittes is darem seker deel van daardie "ander", des te meer as daar ook plek vir die voorvaders gemaak word? Wat ons myns insiens hier het, is enersyds ’n poging van Krog om oordrewe altruïsme te bepleit en andersyds om te probeer om diepte te openbaar terwyl sy in werklikheid uit haar diepte is.
Waar Laurie se gaywees sy godsdiens oorheers, is dit by Krog haar politiek. Dit is vir haar soms wonderlik "om in ’n kerk te wees ... veral in ’n swart kerk, dit ’n mens sterk bind aan ... mense" (p 98). By albei gaan dit in die eerste plek om iets anders as religie. Toe Krog haar in ’n kerk vir swartes op Morija bevind, was sy nogal eerlik: "I wondered why God made sense to me only within these kinds of surroundings" (p 99). Daarna kom sy met ’n stelling wat deur baie ingeligtes ten minste deels (naamlik die laaste deel) verwerp sal word: "Die Christelike geloof [is] dikwels die hoofversperring ... vir verandering (en tans die hoofrede vir meeste konflikte in die wêreld)" (p 100). Die volgende stelling kan bevraagteken word: "Vandag het Afrikaners gevlug na die Engelse charismatiese kerke en my vermoede is dat dit gedeeltelik pogings is om weg te kom van die swaar verantwoordelikhede en apartheidskuld wat met die drie gereformeerde Afrikaanse kerke geassosieer word" (p 108).
Laastens, as ’n mens jou distansieer van die Afrikaner is ’n mens seker ook geneig om Afrikaans te minag of dit nie soos ’n kleinood te vertroetel nie. In haar Afrikaanse teks skryf Krog van "pencil box" (p 96), "township" (p 97), "liberation" (p 98), "in fact" (p 99), "cope", "standard", "ultimate", "reborn", "drugs" (p 103) en "self-affirming" (p 109). Ja, in so ’n mate (of "soveel so", p 104), in groter mate as enige van die ander deelnemers, gebruik sy Engelse in plaas van Afrikaanse woorde.
Nie alle skrywers spesialiseer in eensydigheid nie. Met verwysing na ’n skaakbord het Graham Greene in 1948 geskryf: "As a novelist, I must be allowed to write from the point of view of the black square as well as of the white" (Richard Greene ed, Graham Greene: A Life in Letters, London: Abacus, 2008, p 152).
Johannes Comestor


Kommentaar
Johannes, jy't my diep in die nadink ... baie dankie vir jou toewyding en netjiese weergalose gedagtewisseling rondom die "Godboek" ...
Johannes,
Dankie vir jou ewewigtige bespreking van die boek. Jou siening plaas nuwe perspektief op baie fasette, wat ek nie raakgelees het nie.
Groete
Perdebytjie