Christene bly maar steeds verdrink in Noag se water, want of hulle dit nou wil of nie, daardie ou Arkie kon nie eens twee olifante se voedsel vir ’n jaar dra sonder om te sink nie. En toe kom Perdebytjie ook nog en druk ’n giftige angel in hierdie Bybelse wond – Eina!
Dis egter oor ’n ander yslike Bybelse patatta wat ek wil vertel.
In 1655 (in Van Riebeeck se tyd), het ’n belangrike boek met die titel Prae-Adamitae, van die Fransman, Isaac La Peyrère, verskyn. Dit het groot opspraak verwek, want La Peyrère het dit durf waag om te suggereer dat Adam en Eva nie die eerste mense was wat God geskape het nie. Die eerste mense was, volgens hom, ’n klomp wettelose skurke uit wie Adam en Eva gebore is.
Almal wat die boek gelees het, het dit verag, La Peyrère moes vlug vir sy lewe, en is later gevange geneem en in die tronk gestop. Die Paryse parlement het wetgewing bekragtig dat die boek verbrand moes word. Die geskokte kerklikes het geëis dat hy alles wat hy geskryf het, moet terugtrek, en so beland hy toe by Pous Alexander Vll waar hy gedwing is om sy sondes te bely. Om die brandstapel vry te spring word hy toe Katoliek, bely sy sondes, betaal sy boetes en skryf sy afdwaling toe aan sy Calvinistiese opvoeding.
Peyrère wou met sy boek nie die Bybel ondermyn nie, maar het probeer om ’n tameletjie waarmee teoloë tot vandag toe nog sit, op te los. In sy studie van ander kulture reg oor die wêreld het hy ontdek dat elkeen een of ander skeppingsverhaal het wat verskil van die twee skeppingsverhale van die Bybel. Dit het hom die idee gegee dat daar mense voor Adam en Eva moes gewees het – die voorouers van die Israeliete. Dit sou dan sommer van die raaiselagtighede van Genesis verduidelik. Vir wie was Kain bang nadat hy sy broer vermoor het, en waar het hy ’n vrou gekry?
Tot op hede worstel teoloë nog met hierdie probleem. Prof Willem de Klerk het ’n interessante boek daaroor geskryf waarvan ek die titel ongelukkig vergeet het. Ek kan die boek ook nêrens in my boekrak vind nie. Ek hoop nou nie ek het dit gebruik om die braaivleishoutjies aan die gang te kry nie. So terloops, noudat koerante so duur is, werk Bybelbladsye netso goed om die houtjies te laat brand. My een Bybel het feitlik nog net die Psalms oor.
Groete
Angus

