Brian Mountford: Christian atheist
In die hedendaagse teologie is daar ’n stroming wat die bestaan van ’n metafisiese of bonatuurlike werklikheid ontken. Vir hierdie teoloë bestaan daar nie metafisiese wesens soos God, Satan en engele en plekke soos die hemel en hel nie. Wetenskaplike bevindings word geredelik deur hulle aanvaar en wonderwerke verwerp. In soverre God se bestaan erken word, is hy ’n hierdie wêreldse God, nie ’n transendente wese nie. Hy word as identies met die sintuiglik-waarneembare werklikheid geag (bv panteïsme) of as ’n immanente God voorgestel wat in die diepste wese (of gemoed) van die mens teenwoordig is. Vroeër vanjaar het ek op SêNet die aandag op die opvattings van drie sodanige teoloë gevestig: Julian Müller (3 Jun), Don Cupitt (7 Jun) en John Shelby Spong (8 Jun), gevolg deur ’n oorsig van hierdie verwêreldliking of sekularisasie op 9 Junie.
Dat hierdie religieuse neiging nadele kan inhou, is duidelik. Dink aan die sogenaamde bevrydingsteoloë wat hulle met enige onderwerp onder die son bemoei, veral die politiek, en tog voorgee om oor bomenslike kennis te beskik, terwyl geen nie-teoloog, volgens hulle, hom met teologiese sake durf bemoei nie. Om religie te definieer is uiters moeilik. Paul Morel sê in DH Lawrence se roman, Sons and lovers, (1913): "I reckon a crow is religious when it sails across the sky" (bron hieronder, p 113). Die bestaan van God word bv nie deur alle religieë veronderstel nie. Die vraag wat egter oor iedere religie gestel kan word, is wat is die onontbeerlike kern daarvan; dus wanneer word dit in so ’n mate verander dat dit iets anders as die herkenbare of tradisionele religie word: "Whether there are certain things a person has got to believe if they are to be associated, however loosely, with the Christian enterprise" (p 55). Die outeur noem dit "the battle between openness and inflexibility" (p 8).
"Brian Mountford has worked in Oxford for 25 years as Vicar of the University Church and Fellow of St Hilda’s College." So word die outeur beskryf in sy boek, Christian atheist: Belonging without believing (Winchester: O-books, 2011, 131p). Die frase "christelike ateïs" kan as selfteenstrydig beskou word, dus dat die een begrip (christelik) die ander (ateïs) uitsluit. Maar in die eerste paragraaf hierbo het ek aangedui dat die bestaan van die tradisionele, transendente, christelike God vanweë sekularisasie deur sommige teoloë ontken word. Panteïsme kan ’n oorgang na ateïsme wees. Wat opval by Müller, Cupitt, Spong en Mountford is dat hulle in die boesem van die tradisionele kerk wil bly. Daar is kerklike aspekte waarby hulle aanklank vind en ander wat hulle van binne af wil verander.
Wanneer ’n mens in Noord-Europa (bv Nederland, Duitsland) reis, kom jy agter dat daar ’n ander atmosfeer as in Suid-Europa (bv Italië, Spanje) heers. Dalk kan dit deels aan Protestantisme teenoor Rooms-Katolisisme toegeskryf word. Daar is ’n soortgelyke verskil in Noord-Amerika (Kanada, VSA) en Australië teenoor Sentraal- (bv Meksiko) en Suid-Amerka (bv Argentinië, Brasilië). Ondanks sekularisasie is daar die voortgesette bestaan van sommige christelike waardes. Dit kan kulturele christelikheid noem word (p 98). Die kontras in lewenswyse tussen Westerse en Oosterse lande is groter en kan moontlik ook deels aan verskille in religie toegeskryf word.
Al is daar ’n toenemende getal ateïste in die Weste, is die punt wat ek wil stel dat die waardes waarvolgens hulle leef nie opmerklik van dié van christene hoef te verskil nie. Die begronding van hulle waardes sal (of kan) egter verskil. Immanuel Kant (1724-1804) het immers aangetoon dat die goue etiese reël (doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê, p 49) suiwer rasioneel pleks van skriftuurlik begrond kan word. Dit volg dat ateïste nie noodwendig slegte mense is nie; dus ook dat "ateïs" nie ’n benaming met ’n slegte assosiasie hoef te wees nie. "Atheist is itself a hard word" (p 8). Die frase "christelike ateïs" kan vir ateïste ontsmettend wees, maar vir sommige christene juis besmettend. "Ateïs" beteken letterlik "nie-teïs": "It defines a positive position in negative terms" (p 97).
Wat die teoloog Mountford in sy beroep en in sy boek doen, is om christelike ateïsme te probeer bevorder (p 96). Met die oog hierop het hy onderhoude moet tien (breedweg) sodanige mense gevoer. Die onderhoude het hoogs ongestruktureerd verloop, wat deels aan die aard van die onderwerp gewyt kan word. Die outeur het dit dus moeilik gevind om die woorde van die ondervraagdes bevredigend in sy teks te integreer.
Mountford vestig die aandag op die waarde van die christelike kulturele nalatenskap in die vorm van taal, skilderye, beeldhouwerke, geboue, musiek en moraliteit, waarby baie ateïste sonder probleme aansluiting kan vind. Hy verwys bv na my gunsteling sangeres, Kathleen Ferrier (1912-1953, p 18) en my gunsteling skilder, Henri Matisse (1869-1954, p 32). Philip Larkin (1922-1985) het bv gesê: "I am an atheist – an Anglican atheist, of course" (p 112). Dit was ’n geval van "the church ... provided social cement in a disintegrative age" (p 112). Party ongelowiges hou ook van die samekoms van mense en liturgieë, bv seremonies en rituele: "a desire for connectedness" (p 8). Maar hulle het geen erg aan leerstellings nie: "Belief in God and assent to creeds is not the principle motivating force for Christian allegiance" (p 56).
Die outeur noem "how meaningless Christian doctrine is to the population as a whole ... Not everyone thinks it necessary to accept the whole package" (p 6). "Aporia" (p 73), twyfel, word as ’n deug voorgehou: "an authentic part of religious experience" (p 81). Mountford verwys na sy "campaign for honest openness to doubt" (p 83). "Doubt is positive not corrosive" (p 85). "What matters is to find what matters" (p 45). "The heart of the Christian message is not what Christians believe, but how they live their lives" (p 47). Franciskus van Assisi (1182-1226) het gesê: "Preach the gospel everywhere; if necessary use words" (p 46).
DH Lawrence (1885-1930) het geskryf: "It is a fine thing to establish one’s own religion in one’s own heart ... not to be dependent on tradition and second hand ideals" (p 99). Steven Pinker, wat homself ’n kulturele Jood noem, het tot die volgende gevolgtrekking gekom: "The more we learn about the world in which we live, the less reason there is to believe in God" (p 86). Mount"Sane religion doesn’t ask people to believe impossible things, but to be open to a kind of imaginative religious thinking outside the box" (p 92). "There’s Diarmaid MacCulloch who, unsure about God, ... appreciates ’the seriousness which a religious mentality brings to the mystery and misery of human existence’" (p 121).
Mountford dink daar moet "less incest and more interbreeding" in die Kerk wees. "The Church must listen to its belonging-without-believing and believing-without-belonging fringe ... and welcome those who want the values of religion without its metaphysics" (p 129).
Johannes Comestor

