Chrisjan Trane

  • 0

Gisteroggend was die maan ’n kobaltblou eikel met silwer kraag en wydsbeen oor die ontbyttafel Mooiding se laventelboomlyfie, in haar oë die herfs vuurbruin loeries. Vandag  wens sy weer vir Jors dood. Soveel vuur, so min lug. Hy groet, gordel vas en piekel die bult uit onderdorp toe. Op pad kry hy drie paalpriesters ingeryg soos sosaties. Die een bied ’n pedikuur, ’n ander met wegneemete in die woestyn en die derde so te sê verlig die kroon falliese stekels word eersdaags oorhandig. Geniet die oomblik. Hoop sorg vir skreeusnaaks geskiedenis. Veral stortvloede van die verdorwe soort. Van God tot ’n gesalfde koning tot die politikus vir ’n oulap en ’n bokstert. Tyd is die ware verleidster en van ongoddelik lelike uiteinde. Amen.

In Rustenburgweg klim Jors versigtig oor ’n piesangskil wetende dat hy geen van sy besittings maar in besonder sy King Ink II aan enigiemand bemaak het nie. Hy wend hom na die koöperasie vir voer en sien ’n hond in uitmuntende kondisie wat tussen die karre rondskarrel. Daardie verstokte oë en trillende stert. Met dié tref een van drie luidrugtige sypadtrappers se geskree hom: “Kom uit die dekselse pad jou dom hond!”

By die koöperasie se toonbank raak 10 kg mixed fowl, swamdoders, twee boere en die baas meer as net voer: “Wat sê jy nog Meneer?”

“Solank dit mielies reën kraai die hoender koning.”

Dieselfde dag, in die ouetehuis, breek Chrisjan Trane haar heup. In Leratong word later veeltalig gebid oor ’n lyf soos ’n rots, wind, water en son verwond. Rotse is die ondeursigtigste vensters wat Jors ken. Haar oë soek skuiling iewers tussen lag en huil. Almal spartel hand aan hand saam oor pyn se grens. Of aanvangs. Chrisjan Trane herroep haar klein kaalgat self sondroog op die oewer van die Sandrivier en haar suster se woorde na die poets op die dag wat sy amper verdrink het: “As jy vir Mammie vertel sny ek jou keel af met ’n broodmes.”

Op die duur staan kleinkinders in die kollig van ’n koek met tientalle kersies op en hiep-hiep-hoera die bysaak se laaste blow job asof die gekookte ketel se fluit ook daarmee heen is. Het Jors al vantevore sy oorblywende ouma se hand so lank vasgehou? Hy wil praat oor haar ballingskap in blou koeverte. Briewe waarvan hy nie ’n enkele een meer besit of woord onthou nie. Briewe aan ’n huis soos enige ander huis waarin oumas hulle kleinkinders almal kaffertjies genoem het. Dalk ’n huis met vensters van onversperde lig waar Jors se ma op sy ouma ingeloop het met ’n ander vrou doenig en hulle hulle troetelname soos ’n taal afgesweer het. Hy wil praat oor sy grootouma op die stoel uit die vorige eeu se barensnood van vuur en yster. Sy groot ouma met gehekelde groen kombers oor die bene en tonikum in die yskas. Hy wil praat met Chrisjan Trane voor nog ’n Van der Watt soos die waterkring op ’n tafel onder die kierieklapperson verslaan.

 

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie

https://www.litnet.co.za/Article/skryfkompetisie-beeld-afrikaans-uit

Lees die ander inskrywings

https://www.litnet.co.za/Category/nuwe-skryfwerk-new-writing/skryfkompetisies

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top