In Die Burger van 21 Mei is daar 'n Forum-artikel van Chris Jones oor gay-aangeleenthede onder die opskrif: “Liefde is geen sonde”. Geen poging word aangewend om die begrippe “liefde” en “sonde” te omskryf nie – die doel is skynbaar om uit die staanspoor 'n positiewe assosiasie tussen “liefde” en “gay” te skep. Dit herinner aan die Gaums, waar die pa, Frits, enkele jare gelede, ter verdediging van sy seun, Laurie, lang stories oor die liefde geskryf het sonder om te meld dat die kerk nie bloot uit liefde bestaan nie of wat hy met “liefde” bedoel. Terloops, 'n mens sien gereeld dat pro-gay menings gepubliseer word, maar die ander kant kry nie die geleentheid om hulle saak in die Afrikaanse pers te stel nie.
Jones se artikel is spesifiek op 21 Mei geplaas aangesien dit die eerste dag was van die hofsaak tussen Ecclesia de Lange en die Metodistekerk. Hierdie kerk wou nie toelaat dat sy haar beroep as predikant voortsit nadat sy 'n gay-huwelik aangegaan het nie. Die grondwet maak voorsiening vir gay-huwelike, maar kerke is nie verplig om dieselfde pad te loop nie.
Ek voel sterk daaroor dat dit verkeerd is van die Katolieke Kerk om monnike en nonne te dwing om lewenslank selibaat te lewe, maar hierdie kerk het die reg om sy standpunt teen alle huwelike van die betrokkenes te handhaaf. Verandering moet van binne die kerk geskied – dit sal dwaas van die staat wees om 'n ander siening af te dwing. Dit geld ook vir gay-huwelike en ander kerkgenootskappe. De Lange se enigste kans om met haar hofsaak te slaag is om kerklike prosedures te bevraagteken.
Die uitstaande kenmerk van jarelange gay debatte is dat daar nie te voorskyn gekom word met 'n gesaghebbende christelike akademiese studiestuk waar alle toepaslike verwysings in die Bybel nagegaan word en die bybelse aanvaarbaarheid van gay huwelike aangetoon word nie. (Ek daag Jones en die Gaums uit om met so 'n dokument te voorskyn te kom.) Waarom is gay christene bang vir die Bybel? Die antwoord is dat die Bybel nie hulle standpunt ondersteun nie. Hulle is nou verplig om 'n tweede beste alternatief te volg, nl om meer indirek te werk te gaan en gelowiges se tradisionele benadering te bevraagteken. Die bekendste een is die storie dat “die Bybelse verwysings na homoseksualiteit, geplaas (is) binne hul sosiaal-kulturele omstandighede [2 000 jaar gelede], (en) níks oor liefdevolle, monogame gay-verhoudings in die 21ste eeu sê nie.” (die aanhaling is uit Jones se artikel).
Hierdie bewering hou nie water nie. In Paulus se Griekse wêreld was fisieke verhoudings tussen mans en mans algemeen en is dit selfs hoog aangeprys. Dat dit bv gewelddadige verhoudings en “betaalde seks” ingesluit het, is waarskynlik waar, maar om te argumenteer dat wat deesdae gekarakteriseer word as “positiewe gay-verhoudings” destyds nie bestaan het nie, is vergesog. Daar moes sulke gevalle gewees het. Waarom is Paulus so uitgesproke teen homoseksuele verhoudings en waarom moet hy nou op hierdie punt geïgnoreer word? Omdat mense vir hulleself die saak uitredeneer en nie meer gesag aanvaar nie – nie eers bybelse gesag nie.
Nog 'n gevaarlike (goedkeurende) aanhaling van Jones: “... Christus se solidariteit met mense wat deur die samelewing as immoreel en gemarginaliseerd gereken is.” Dit is so dat Christus byvoorbeeld met 'n “sondares” (iemand met lae morele waardes) in gesprek getree het. Hy het egter nie haar lewenswyse goedgekeur nie maar deur sy optrede verseker dat sy voortaan die hoë morele weg bewandel. Dieselfde geld vir “gemarginariseerde” diewe, egbrekers, moordenaars, ens. Terloops die woord “solidariteit” kom nie uit die Bybel nie maar uit die bevrydingsteologie.
Nog 'n aanhaling van Jones: “’n Toenemende aantal gay mense maak liefdevolle verbintenisse – verbintenisse wat dieselfde kenmerke en waardes het as die tradisionele huwelik.”
Hier maak Jones hom by implikasie aan oneerlikheid skuldig. Hy skryf oor Ecclesia de Lange en maak hierdie goedkeurende stelling maar verswyg dat haar eerste liefdevolle verbintenis (gay-huwelik) reeds in 'n egskeiding geëindig het en dat sy nou met 'n tweede poging besig is (sy is verloof).
Gay-huwelike is 'n absolute geringe deeltjie van die totale getal huwelike wat gesluit word – die gelykskakeling van huwelike en “gay huwelike” is verkeerd – dit is nie dieselfde ding nie. Jones se laaste stelling verteenwoordig 'n mate van wensdenkery om ons in 'n meer positiewe stemming teenoor hierdie mense te bring. Self wens ek sulke mense net die beste toe, want hulle “huwelike” skep 'n mate van sekuriteit.
Ons kennis van hierdie mense se lewenswyse is swak, ten spyte van Jones se versekering. Watter persentasie van hulle is permanent gay? Watter ooreenkomste en verskille is daar tussen heteroseksuele en gay huwelike? Hoeveel van die “vroue” (manlik of vroulik) is gelukkig? Wat nodig is, is objektiewe ondersoeke. Omvattende sielkundige en sosiale ondersoeke kan alle feite ivm gays verskaf, sodat vooroordele aan albei kante met feite vervang kan word.
Die mees skokkende gay-storie die afgelope paar jaar was die van twee manlike gays wat in Malawi moontlik die doodstraf opgelê kon word. Uiteindelik laat die president hulle vry weens internasionale druk. Wat gebeur toe? Volgens die feëverhaal het hulle vir altyd gelukkig saamgeleef. Nee, dis nie wat gebeur het nie. Minder as twee weke na hulle vrylating sê die een (Mojesa): “I am no longer in love with Tiwonge Chimbalanga. I am in love with a woman called Dorothy Gulo”. Die “bruid” wat saam met Mojesa tronk toe was, se reaksie was: "I am not disappointed about this." He said his ex-partner was "free to marry as I will also marry my man of my life. There are lots of good men around. I will remain a gay." Die aanhalings is uit The Telegraph.
Wat dink George? Die vervolging van gays in die verlede was absoluut verkeerd. Die geleentheid wat elkeen van ons het om self keuses oor hierdie sake te maak, sonder die gevaar van kriminele vervolging, is reg. Die beskerming wat die reg tans aan sulke mense bied word deur my verwelkom, maar kerke moet toegelaat word om hulle eie besluite te neem. Kerksake moet deur die kerk hanteer word en nie deur drukgroepe in die media nie. Veral maak ek beswaar as iemand soos Chris Jones van binne die N G Kerk met sy propaganda kom, sonder dat die Bybel hoegenaamd ter sprake kom.
George


Kommentaar
Hello George,
Indien homoseksuele dade, gebruike of huwelik teen die "konstitusie" van enige kerk of godsdiens is, wie is die staat om sodanige gebruike op die betrokke kerk of godsdienstige groep af te dwing. Die lidmaat wat deel van sodanige organisasie is, is daar op vrye keuses, tesame met die bagasie wat dit behels. Dit staan die betrokke gay persoon vry om te bedank of na 'n ander genootskap oor te stap wat hom/haar sal aanvaar, alternatief, behoort die betrokke kerk of godsdiens die betrokke persoon vanuit eie geledere te skors, weens oortreding van sodanige 'konstitusie".
Ek self is gay en 'n ateis daarby, maar ek vervies myself elke keer wanneer ek lees hoe sekere gay Christene die staat gebruik om in die bresse te tree om hulle sogenaamde siviele "regte" op 'n onwillige kerk af te dwing.
Jaco Fourie
Hallo Wouter, ek waardeer werklik jou kalm en waarderende reaksie, al stem ons nie heeltemal met mekaar saam nie. Dis nie 'n maklike onderwerp nie en dis so maklik om onnodige aanstoot te gee.
Die kwessie van staat en kerk loop reeds 'n lang pad. In die middeleeue was die kerk se mag oor die individu en verkieslik ook oor die staat van kernbelang. Lande (of regeerders) het dikwels tweede viool teenoor die kerk gespeel, maar daar was ook oorloë oor hierdie saak. Tans, lyk dit vir my, is dit 'n geval van omskryf elkeen se terrein noukeurig en hou die twee apart sodat hulle amper nooit in mekaar se hare is nie. Die staat gee nou aan die individu absolute vryheid om met enige geslag te trou of nie te trou nie. Enige man of vrou kan egter homself/haarself vrywillig verdere beperkings oplê deur byvoorbeeld 'n non te word of as predikant huwelike as slegs 'n heteroseksuele saak te sien (vrywilliglik homself/haarself by 'n sekere kerkgenootskap se reëls neer te lê).
Ek dink die mensdom het gevorder deur aan emosies 'n tweede plek toe te ken of dit ten minste sterk te probeer beheer en die verstand te laat oorheers. Daar was 'n tyd toe mense bereid was om mekaar dood te maak oor argumente rondom die doop. Vandag stel weinig in die onderwerp belang.
Met beste wense van George
Hallo Jaco, ek waardeer ook jou reaksie en insig. Dis noodwendig dat mense soms hewig van mekaar sal verskil. Jou helder siening help om duidelikheid te skep. Groetnis. George
Hello George, Jaco,
Wouter, ek weet nie of daar nie van die verligte NG lidmaat verwag word om 'n gesplete persoonlikheid te hê nie. Elke keer as hy inloop by die kerkdeur is homoseksualiteit 'n onaanvaarbare sonde en word daar van hom verwag om dit te glo as iets deur die Bybel verbied. Die kerk waaraan hy behoort is nie bereid om sy seën uit te spreek op homoseksueles nie, maak nie saak hoe verlig die individu mag wees nie.
Jaco en George is natuurlik reg as hulle sê dat niemand van buite mag voorskryf vir die kerk wat om te glo en wat nie. Al wat hierdie stand van sake bereik, dis nou die houding van kerke wat homoseksualiteit nie aanvaar as 'n normale lewenstyl, is om by te dra tot die irrelevansie van die kerk wanneer dit kom by die voorskryf van morele waardes. Net nog 'n rede om laat te slaap op Sondae?
Chris
Hello Chris et al,
Hello,
Hello,
Hallo Wouter, dankie vir jou belangrike bydraes. 'n Punt wat 'n mens seker eerste moet onthou by enige debat waar godsdiens ter sprake kom is die inherente konserwatisme van godsdienstige groepe – dit geld nie net vir die christendom nie. Waar gelowiges se mening oor 'n sekere saak verander in dieselfde rigting as die van die breë publiek sal hulle later as die res daar aankom. Dis 'n feit.
Die benadering teenoor vroue is 'n voorbeeld. Enkele geslagte gelede was paternalisme die algemene geldende maatstaf. Vroue, oor die algemeen, beskou dit as iets boos. Dit was nie noodwendig die geval nie. Hierdie benadering het aan vroue sekuriteit gebied en die verpligting op die man gelê om lewenslank vir sy vrou te sorg. Soos vroue meer daarop aangedring het om die “manswêreld” te betree en egskeidings meer algemeen geraak het, het paternalisme 'n onhoudbare situasie vir die moderne vrou meegebring en verandering moes noodwendig volg (tot nadeel van vroue wat net tuisteskeppers, ma's en eggenotes wil wees). Die kerk was weer laaste om aan te pas en die kerk van Rome het nog nie tot by die punt gevorder waar nonne dieselfde loopbaangeleenthede as monikke het nie. Wat die NG Kerk betref is vroue nou teoreties gelyk met mans en kan hulle tot die hoogste pos vorder.
Wouter, jou vroeëre verwysing na slawerny regverdig 'n antwoord. Die gesindheid van 'n gelowige is van die uiterste belang. As die slawe eienaar waarlik gelowige is, sal die slaaf dit gou besef en sal die eienaar se optrede sodanig wees dat die slaaf 'n menswaardige bestaan sal voer. Wat ek probeer sê (sonder om onaanvaarbare stelsels goed te praat) is dat slawerny, fasisme en kommunisme geweldig versag kan word met 'n gelowige ingesteldheid, terwyl die beste stelsels ondraaglik word as die gesindheid, byvoorbeeld erg materialisties is.
Volgens Chris (30 Mei) is die NG Kerk se benadering: “Elke keer as hy inloop by die kerkdeur is homoseksualiteit 'n onaanvaarbare sonde en word daar van hom verwag om dit te glo as iets deur die Bybel verbied. Die kerk waaraan hy behoort is nie bereid om sy seën uit te spreek op homoseksueles nie, maak nie saak hoe verlig die individu mag wees nie.”
Chris bewys met hierdie stelling dat hy nie kerktoe gaan nie (dis nou maar net 'n grappie tussen ou vriende!) – hy is onkundig oor die huidige situasie. Die NG Kerk spreek nie net sy seën nie maar ook sy liefde teenoor gays uit en verwelkom hulle in die kerk. Die voorbehoude wat die kerk nog handhaaf is dat 'n homoseksuele dominee selibaat moet lewe en dat huwelike tussen dieselfde geslagte nie in die kerk mag plaasvind nie.
Miskien lyk my jongste betoë nou al na die blinkvryf van die NG Kerk. Ek moet dan daarop wys dat hierdie debat begin het as 'n aanval op Chris Jones en 'n gesindheid in hierdie kerk wat vir my totaal onaanvaarbaar is.
As met hierdie debat iets bewys is, is dit dat al die deelnemers in staat is om oor 'n hoogs emosionele onderwerp 'n beskaafde debat te voer – dit beteken dat ons al geweldige vordering gemaak het – nie so lank gelede nie was daar nog lewenslange kwaaivriendskappe tussen familielede oor kerklike of politieke kwessies. As dieselfde op die arbeidsterrein en die politiek gebeur sal “die lig in die wapad” helder skyn (ek geniet altyd die ironiese!). Groetnis. George
Hello George
Hallo Wouter,
Sover dit jou verwysing na die howe betref moet daar in gedagte gehou word dat die hof se eerste plig is om die oortreding met die bepalings van die wet te vergelyk. Ek dink menige regter is dikwels erg gefrustreerd as hy as gevolg van swak polisiewerk of weens gebrek aan getuienis iemand moet laat loop wat skuldig is. Die samelewing se mening is belangrik maar nogtans sekondêr.
Ek verstaan jou ongemak met die kerke se mag wat teenstrydig is met die staat se siening, maar die individu het tog die opsie om die kerk te verlaat – bind homself vrywillig. Die huidige kompromis word verklaar deur die eeue lange, eerder duisende jare lange, stryd tussen kerk en staat.
Ek het besondere waardering vir wat jy in die laaste paragraaf sê en wil weer die krediet met jou en die ander deelnemers deel. Jy en Johannes gee debatte op hierdie werf 'n diepte wat dit nie andersins sou hê nie.
Groetnis.
George