Chicago is sexy, sensueel en hope pret: ’n teaterresensie

  • 0

Kaapstad ly aan Chicago-koors en is omtrént “ge-razzle-dazzle” deur die Suid-Afrikaanse rolverdeling van Chicago the musical, wat saans volgepakte sitplekke by Kunstekaap trek. Die musiekblyspel – wenner van ses Tonys, twee Oliviers, een Grammy, twee Baftas en ses Academy Awards – is die langs spelende musiekblyspelherlewing in Broadway-geskiedenis.

Die Showtime Management-persverklaring se woorde: “Dit is geen verrassing dat hierdie duiwels heerlike musiekblyspel jubelende gehore regoor die wêreld op hul voete gehad het nie. Van Australië tot Argentinië, van Spanje tot Suid-Afrika – meer as 34 miljoen mense het Chicago al gesien, wat meer as 35 000 opvoerings wêreldwyd in 38 lande in meer as 525 stede gespeel het.”

Die Chicago wat ons nou geniet, is in 1975 deur die legendariese Broadway-trio John Kander (musiek), Fred Ebb (boek en lirieke) en Bob Fosse (mede-outeur, oorspronklike regisseur en choreograaf) geskep.

En net ingeval jy die afgelope paar jaar onder ’n klip gewoon het en nie weet waaroor Chicago gaan nie ...

Dit speel in die 1920’s in Chicago in die VSA af en fokus op twee vroue, Roxie Hart en Velma Kelly, wat vir moord tronk toe gestuur word. In plaas daarvan om in sak en as te gaan sit, gebruik hulle ’n gladdebek prokureur en mediawaansin om glanspersoonlikhede te word en hul misdade in sensasionele nuus te omskep, om roem en vryheid te verkry. Hoewel hulle aanvanklik opponente is vir die kollig, werk hulle op die ou einde saam om hul (vlietende) bekendheid tot hul voordeel aan te wend.

Dit word die wêreld se sexyste musiekblyspel genoem en die liedjies is wêreldbesit: dink maar aan “All that jazz”, “Cell block tango”, “Mister Cellophane” en “Razzle dazzle”, om net enkeles te noem. Die kostuums is skraps, die heupswaaie sensueel en sexy, en dis bykans drie ure van pure genot.

Dis gegrond op ’n 1926-toneelstuk deur Maurine Dallas Watkins wat sy geskryf het nadat sy vir die Chicago Tribune oor moorde deur die betrokke vroue moes berig, en speel in 1920 in die jazztydperk in Chicago af.

Die storie is dié van Watkins se dekking van twee 1924-moordverhore: dié van Beulah Annan (Roxie Hart), wat daarvan aangekla is dat sy Fred Kalstedt vermoor het. Haar man, Albert Annan (Amos Hart), is bankrot nadat hy al sy geld in haar verdediging gestort het en sy hom net ná sy vrygespreek is, gelos het.

Velma Kelly is gebaseer op Belva Gaertner, ’n kabaretsanger wat daarvan aangekla is dat sy haar minnaar, Walter Law, vermoor het.

Beide vroue is vrygespreek deur juries wat uitsluitlik uit mans bestaan ​​het, in ’n tyd toe aantreklike vroue selde skuldig bevind is. Hul prokureurs het die karakter Billy Flynn (Jonathan Roxmouth) geïnspireer. Die media het hierdie vroue dikwels as glanspersoonlikhede uitgebeeld, wat skoonheid en sjarme bó skuld beklemtoon het.

Die program beeld die korrupsie in die strafregstelsel en die idee van die “glansmisdadiger” op satiriese wyse uit.

Die musiekblyspel het in April 1975 in ’n Broadway-proeflopie in Philadelphia geopen, en toe amptelik op 3 Junie 1975 op Broadway, en 936 opvoerings gehad. Die program, geregisseer en gechoreografeer deur Bob Fosse, het bekend geword vir sy kenmerkende styl. ’n West End-produksie het in 1979 gevolg. In 1996 het Chicago op Broadway herleef en het dit die langs lopende Amerikaanse musiekblyspel en musiekherlewing in die Broadway-geskiedenis geword. Dit is sedertdien wêreldwyd opgevoer en het breedvoerig getoer. Die 2002-filmaanpassing het die Oscar-toekenning vir beste rolprent gewen.

Dis al verskeie male in Suid-Afrika opgevoer en het elke aand volgepakte vertonings, staande ovasies en lofprysinge van die media geniet.

Dis vervaardig deur Showtime Management in samewerking met Barry & Fran Weissler en het ’n gekombineerde Suid-Afrikaanse en internasionale kreatiewe span, waaronder mederegisseur Tânia Nardini, en ’n herskepping van die New Yorkse produksiechoreografie deur Gary Chryst, wat albei Chicago-vertonings oor verskeie kontinente opgevoer het.

Chicago is een van die suksesvolste produksies wat ooit in Suid-Afrika opgevoer is – en die aanvraag vir sy terugkeer is onwrikbaar,” sê Hazel Feldman, Chicago se Suid-Afrikaanse vervaardiger. “Van sy unieke Bob Fosse-choreografie tot sy tonekrulmusiek, verleidelike kostuums en storielyn wat die verbeelding aangryp, met optredes deur ’n hoogs talentvolle, volledig Suid-Afrikaanse rolverdeling, moet Chicago nie misgeloop word nie!”

En dis hier waar ek moet inspring. Kyk, om meer as 50 van Suid-Afrika se voorste talent (waarvan 11 in ’n blaasorkes saam met ’n klavier) in een produksie op ’n verhoog te sien, is ’n rare voorreg. Die bekroonde Suid-Afrikaanse musiekregisseur Kevin Kraak (The Lion King, Chicago, My fair lady) lei die orkes en word af en toe sommer by die storielyn betrek.

In hierdie tyd van KI, waar soveel dinge sinteties is, is dit lekker om die musikante te sien, wie se blinkgepoetse instrumente in die skemerte ’n onverwagse knipoog na die gehoor gooi wanneer hulle vir ’n vlietende sekonde in die kollig is.

Die blyspel is steeds ’n wenskepping, en hoe lekker om in ’n operahuis te sit waar die liedjies, intrige en storielyn nie onbekend is aan die gehoor nie. En jy kan sommer hoor daar is heelwat mense wat dit al hier – of elders in die wêreld – gesien het. Met die eerste note van sekere liedjies is daar wolwefluite, spontane applous en ’n gees wat oor die gehoor draai. Dis pret en die gehoor wys dit!

Die rolverdeling is uitstekend. Kiruna-Lind Devar (Evita, Mamma mia!, Phantom of the Opera-wêreldtoer) speel die koormeisie wat ’n verleidelike moordenaar word, Roxie Hart; Samantha Peo (The Addams family, Strictly come dancing, Chicago-wêreldtoer 2018 en 2019) speel Velma Kelly. Samantha was in vorige Suid-Afrikaanse speelvakke in die rol van Roxie te sien. Albei hoofspelers is onder die waaksame oog van die tronkmatrone, Mama Morton, wat (meesterlik) deur Tankiso Mamabolo (Nwabisa Plaatjie’s “Ziyana”,  “Don’t believe a word I say”) vertolk word.

Die rol van die charismatiese, maar slinkse, prokureur Billy Flynn word weer vertolk deur Jonathan Roxmouth (Phantom of the opera, Evita, Grease), wat hierdie karakter in die Nieu-Seelandse been van die 2018/2019-Chicago-wêreldtoer gespeel het. Die rol van Roxie se eenvoudige, liefdevolle man, Amos Hart, word vertolk deur Dean de Klerk (Kinky boots, Rent, The sound of music), en ME Marvey is die vrolike verslaggewer, Mary Sunshine.

Die gehoor het ’n sagte plekkie vir Amos. Elke keer as hy op die verhoog kom en kla dat niemand hom raaksien nie, is daar ’n gesamentlike “Aaah” uit die gehoor. Hy is beslis raakgesien!

Ensemblelede van die Chicago-2018/2019-seisoen wat weer op die verhoog te sien is, is Lesego van Niekerk, Jenna Robinson Child, Alexandra Girard, Ferdinand W Gernandt, Michael Fullard, Dirk Joubert en Hugo Madeleyn. Nuwe gesigte in die ensemble sluit onder meer in Angelica Hattingh, Ashley Scott, Bronwyn Craddock, Leah Mari, Nicolette Fernandes, Johan Dippenaar, Jonathan Raath, Kent Jeycocke en Nkosinathi Mazwai.

Die choreografie en kostuums is pragtig: Die hande is soos een in die lug; die skoppe is almal ewe hoog; en die reuse volstruisvere word almal eweredig gewikkel.

Tydens pouse tussen die eerste en tweede bedryf gesels ons met vriende. Daar is ’n verdeeldheid oor wie die grootste ster is: Roxie of Velma. Maar daar is geen twyfel dat Jonathan die gehoor uit sy hand laat eet nie. Die charisma wat hierdie veelsydige akteur na die verhoog bring, is selfs nog groter as die karakter wat hy speel. Toe hy die eerste maal op die verhoog verskyn in sy swart pak en skouerruiker, was die gehoor in ekstase.

Ons het Chicago 20 jaar gelede – die eerste keer dat dit in Suid-Afrika opgevoer is – ook in die Kunstekaap gesien. Ilse Klink was toe Mama Morton en my gunstelingkarakter. (Miskien was dit omdat ek toe ’n onderhoud met haar gevoer het vir ’n koerant en haar opgewondenheid om in ’n Broadway-musiekblyspel te wees so aansteeklik was. Of miskien was dit net omdat sy Mama Morton geword het op daardie verhoog.

Hoe dit ook al sy, al die lekkertes wat ek van die 2005-vertoning onthou, het Woensdagaand soos verkwikkende golwe oor my kop gerol. Jy is 100% daar in die era en passie en korrupsie vasgevang – en dis bevrydend!

Dis ’n lekkerte om ’n perfek afgeronde stuk te sien; entoesiastiese, professionele mense wat hulself gate uit geniet op ’n verhoog; en hoe hulle boonop reageer op ’n gehoor se entoesiasme.

Ek onthou die stel was baie anders in 2005, maar hou van die feit dat die orkes in hierdie weergawe amper die hele verhoog vol sit en hul regmatige plek inneem. Die musiek is immers net so geliefd as die karakters, kostuums en storie.

Die blyspel is regtig ’n teaterhoogtepunt omdat ons min sulke gewaagde, sexy, musiekblyspele hier op eie bodem sien. Soortgelyke werke, soos Sweeney Todd, Dreamgirls en The producers, fokus ook op die donker kant van die vermaakwêreld en is ook ensemblegedrewe, maar die heerlike Vaudeville-styl musiek en briljante danschoreografie van ’n era wat lank verby is, is afwesig.

Koop nou jou kaartjie en vertel vir jou Gauteng-vriende dat Chicago the musical op pad is Jozi toe!

Chicago the musical

  • Met onder meer: Kiruna-Lind Devar, Samantha Peo, Tankiso Mamabolo, Jonathan Roxmouth, Dean de Klerk en ME Marvey
  • Gegrond op die toneelstuk deur Maurine Dallas Watkins
  • Deur: Fred Ebb (boek en lirieke)
  • Regisseur, mede-outeur en choreografie: Bob Fosse
  • Musiek: John Kander
  • Geen o/4’s en ouerbegeleiding vir kinders o/10
  • Chicago speel van 27 Augustus tot 28 September in die Kunstekaap Operahuis en van 3 Oktober tot 9 November by Montecasino se Teatro.
  • Vertonings is Dinsdag tot Vrydag om 19:30 en naweke op Saterdag om 15:00 en 19:30; Sondag om 14:00 en 18:00 en Sondag 31 Augustus en Sondag 5 Oktober om 17 :00.
  • Op Erfenisdag, Woensdag 24 September, is daar vertonings om 14:30 en 19:30.
  • Kaartjies wissel van R280 tot R580. Daar is spesiale aanbiedinge vir Dinsdag-vertonings: Terrific Tuesdays met kaartjiepryse van R400, R300, R250 en R200.
  • Kaartjies beskikbaar by Ticketmaster: (www.ticketmaster.co.za).

Foto’s: Showtime Management

Lees ook:

Musical review: Chicago

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top