voorouers se koppe, breins, mentaliteit,
so wyd gewyk, platgeslat, deur wyn verdoof,
skoon vergete, pyn, verlies, van Eerste Mens,
van Mens se pyn, voorouers van voorouers s’n,
voorvaders se stryd versus uitbuiters, grondrowers,
kapitaliste, gewetenloos “Duiwelspiek”-paparazzi,
baas, klaas, kommando, agter inboorlinge aan,
voorlaaiers gelaai, boerboel voor, berg toe verdryf,
baba se voorhoof teen veldrots papgekap, kilbloedig,
vrouens en kinders plaas toe, vir makmaakproses,
volwasse prooi se oor vir prysgeld, res vir aasvoëls,
nog ’n merk by op kerfstok, nog ’n têr geëlimineer
t’moeijlik, te ontsnap, uit struktuurgeweldenaarsgreep,
uit kolonialis, imperialis, Vryburger, martel-offisier,
nagwag, Vrymesselaar, Ruiterwag, Broederbonder,
se hande, selfde wat hy saamvou wanneer hy bid,
uit geslotenheid van ultra-onnoselheid, stommiteit,
uit virusnetwerk van superioriteitsindroom uit, eish
elke pejoratief kultuur-histories aan nageslag oorgedra,
elke brokkie haat sosio-geneties deur voorouers in bloed,
in gedrag, patroon van mag, ekonomie, ingeteel, gekweek,
Mens steeds bywoner in eie geboorteland, lendawu, umhlaba
weet Millennium Drie Mens presies hoe klink Dawid se Psalms,
gee graag erkenning aan diegene, aan wie lofprysinge, gedigte,
izibongoïsties, Vader, Allah, Jehowa, Jahwe, eerlikwaar toekom,
al is Eerste Mens, na soveel eeue, onlegitiem op geboortegrond,
onhistories, on-Mens-Waardig, bosjesmanjifiek geskiedenisloos
Jacobus Faasen

