Byeboer

  • 0

As jy in Gauteng of omtrekke bly dan het jy heel waarskynlik die vrug van sy bye een of ander tyd in jou lewe geproe. Wel, ek dink nog aan Gauteng in terme van die dae toe ek nog daar kon rondhol saam met die manne en ons gedink het ons het alle kennis en mag in pag. Want wat jy mos nie geweet het nie het jy beduie en wat jy vermoed het verkeerd is het jy reg geslaan. Ek vermoed dinge is nog so in Gauteng as jy vir 'n oomblik gaan stilstaan.

Ek het sy heuning geëet lank voor ek hom persoonlik leer ken het. Mr Mountain. Waardige ou Ingelsman in die properse sin van die woord. Altyd suiwer Ingels gepraat tot die punt waar hy late rondverstaanbaar vir vele was. Perfeksionis in elke sin van die woord. Lang aande gesit en net geluister na die wyse raad uit sy mond al kon ekself net hier en daar uitmaak. Tot die nag wat die waters gekom het en ou Mr Mountain geweier het om verder in rubberbote rondgekarwei te word, want sy prostese is lankal nat en ek vermoed hy het gesien hier is doodgewone bore halstarrigheid en baie brandewyn en sommer nog mix ook. Hy het vir Koekemoer poliesman, wat self 'n prostese dra beduie dat hy hier wil afklim en ek het hom maar beduie dat ek nie regte Skotse Water het nie maar regte water het as hy wil brannewyn hê. En jy weet mos van 'n man en brannewyn en brieke en ons het al die hele relaas hier vertel van die boot onner water en hoe ons later drie bene gesit en juig het.

Ek pak vanmiddag my kaste uit want hier moet nog mense in en ek moet plek maak want hierdie huis is mos maar almal se huis en ek kom af op die bottel heuning. Koekheuning soos die ou mense beduie het. Ou Consol bottel toegemaak met 'n plastiese sak om seker te maak. Nie dat heuning kan sleg raak nie, maar net om seker te maak. Ek sien die nota wat 'n hand wat lankal nie meer hier is nie dofweg geskryf het en ek herken: "Meneer Mountain se heuning" en ek pak hom op die rak waar ek die cannfruit wat lank voor ek mens was gebottel is op bere.

Want daar was 'n tyd wat die goed nie nodig gehad het om verval datums op te he nie. Lank voor die slimmes met hul teorieë gekom het. Lank voor Ecoli en allerhande ander virusse en bakterieë waaraan ons in elk geval nie 'n fok iets kan doen nie. Want dinge is nie gedoen om net 'n jaar te hou nie. As jy iets gedoen het het jy dit behoorlik gedoen. Ek maak die bottel pere oop om vir die klogoete 'n punt te bewys want hulle leef ook mos maar soos ek en jy in hierdie weggooi wereld waar selfs jou Ipod nie langer hou as die fabriekswaarborg nie. Ek maak outydse Parmalat custard warm vir hulle en ek gooi dit oor die pere wat ingele is jare voor ek nog mens was en dit proe soos noudiedag se oes. Soos Mr Mountain se heuning nou nog proe jare na hy onder die kluite le en vergaan.

Ek het myself belowe net een teelepel van die ou man se heuning per week in my rooibos. Of moerkoffie as ek in die bui is daarvoor. Want suiker is maklik bekombaar, jy kan dit by jou naaste hipermark koop. Regte heuning kry jy net as jy nie heeldag in winkels verveeld rondloop nie.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top