Die heel eerste woorde wat God met sy skepsels gepraat het, was, snaaks genoeg, nie ? verwelkoming in die tuin van Eden nie. Hy het nie gesê welkom julle twee, julle kan loop waar julle wil, eet wat julle wil en kafoefel soos julle wil nie. Nee, sy eerste woorde was: “Van al die bome mag jy eet soveel as jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
Het God ? diaboliese slagyster vir die mens gestel? Hy is tog veronderstel om alwetend te wees, en het geweet dat die mens hierdie allergrootste sonde sou begaan om van hierdie vrugte te eet, of was hy maar net ? swak sielkundige met hierdie negatiewe suggestie van hom? As hy niks van die boom gesê het nie, sou daar niks van gekom het nie. Kan hy so onnosel wees? Waarom al die moeite doen om die mens te maak van ? hopie stof en ? ribbebeen, al daai sterre en planete net om ? slagyster vir hulle te stel sodat hulle en hulle nageslagte vir ewig opgefok is as hulle daarin trap?
Dis toe dat die slang sy intrede maak. Nie alleenlik kan hy Hoog Galdees of miskien Aramees praat nie, hy is sommer ? psigoanalis by uitstek. Freud en Jung het heelwat later eers van hom geleer. Waar kom die kalant vandaan? Natuurlik het God hom ook geskape. Die slang is Satan en Satan is die wortel van alle kwaad. Dus het God die boosheid ook geskep.
“Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?” vra hy vir Eva. Nou, kyk! As ek op ? slang afkom dan skrik ek my vrek, wat nog van een wat kan praat? Eva vertel hom egter ewe kalm van die verbode boom. “Julle sal beslis nie sterf nie, maar God sal weet dat jul oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”
Al wat Eva toe moes doen is om Adam te verlei. Dit het seker so gegaan: Adam, as jy nie van hierdie appeltjie wil eet nie, kan jy ook nie hiervan kry nie. En so ontdek die twee toe dat hulle vyeblare nodig het om hulle naaktheid te bedek.
Nou is God natuurlik kastig woedend, en moet die mens gestraf word vir sonde waarvoor God eintlik verantwoordelik is. Adam kom natuurlik skotvry daarvan af. Hy is nou sterflik, maar lewe tot die rype ouderdom van in die negehonderd jaar. Hy sal van nou af nie meer kan leeglê nie, maar in vervolg met swaarkry iets klaarkry. Die arme ribbebeen (dis nou die vrou) word die swaarste gestraf, want sy word nou onderdanig aan die man gestel, en sal in vervolg met groot pyn kinders baar. En die slang? Hy weet nou ten minste hoe om sonder bene voort te beweeg: hy sal op sy maag moet seil vir die res van sy lewe. Dan sal hy vir die mens ook moet oppas, want dié het nou ? klipgooier geword wat slange, stout kinders, en hoereerders met klippe doodgooi.
Natuurlik, soos alle fabels, het hierdie een ook ? lessie: van nou af neem niemand en niks meer die verantwoordelikheid vir enige gebeure op hom nie. God sê dis Adam, Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang en die slang het geen been om op te staan nie.
Groete
Angus


Kommentaar
As jy Genesis letterlik opneem en verder ook glo dat die slang Satan is in sy debuutverskyning, maak jou interpretasie die meeste sin (en moet ook een van die snaakste wees). As jy egter van mening is dat die storie 'n vervlegging is van ander mites, maak dit nog meer sin.
Ek kan dink aan twee mites wat moontlik as variasie gebruik word in die storie van die slang. Gilgamesh duik na die bodem van die see om 'n plant uit te haal waarvan Utnapishtim hom vertel het. As hy oud en swak word sal die eet van hierdie plant sy jeug herstel. Op pad terug na Uruk gaan swem hy en los die plant op die oewer. 'n Slang seil uit en vreet dit op, verloor sy ou vel en seil weg, hoog in sy noppies. In mitologie herhaal hierdie gebeurtenis in latere geslagte. Dis hoekom slange vandag nog hulle velle verloor en hoekom mense moet doodgaan. Die kans wat ons gehad het om lank te leef is gesteel deur die slang. Die figuur van die slang word geassosieer met die sterflikheid van mense, net soos in Genesis.
Zeus steek vuur weg van mense en verbied al die gode om dit te gee vir mense. Prometheus, met 'n gevoel van wrok teen Zeus, besluit om hierdie wet te oortree en vuur vir mense uit Olimpus te steel. Hiervoor word hy gestraf in Tartarus waar sy lewer elke dag gevreet word deur arende, as ek reg onthou, net om weer oornag terug te groei sodat die marteling die volgende dag kan herhaal. In Genesis word die figuur van Prometheus vervang met die van die slang. God sou sekerlik die pratende slang tot stilswye oor die Boom van Kennis gesweer het. In hierdie mite word die slang gestraf deur sy bene af te vat sodat hy op sy maag moet rondseil. Die vermoë van mense om te dink en besluite te neem vir hulle self maak hulle minder as geskik vir God se daaglikse tuin-ontmoetings. Daar is ook altyd die moontlikheid dat hulle volgende sal eet van die Boom van die Lewe (herinner aan Gilgamesh se plant). Sonder tydmors word hulle uitgeskop. Die lewe is heelwat swaarder buite die paradys, maar dit is nie so erg om 'n brein te hê wat werk nie.
As jy die figuur van die slang wil toepas in die Nuwe Testament sou Jesus, en nie Satan nie, 'n baie beter kandidaat wees. Jesus het terug gekom om die halwe werk van die slang te voltooi. Die houtkruis waarop hy sterf is niks anders as die Boom van die Lewe nie.